Biografie: N P van Wyk Louw

bio-small

Die digter en denker Nicolaas Petrus van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 op Sutherland gebore, waar sy pa ’n prokureur was. Hy was die tweede van vier seuns. Sy jongste broer, W.E.G. Louw, was ook ’n digter. In 1920 is die gesin na Kaapstad toe, en Louw het sy skoolopleiding aan die South African College School voltooi. Hy het aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer, waar hy van 1929 tot 1949 ook dosent in opvoedkunde was. Van 1950 tot 1958 was hy professor in Afrikaans aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam en daarna hoof van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Op 18 Junie 1970 is hy in Johannesburg oorlede.

Van jongs af het Van Wyk Louw in taal en die digkuns belang gestel. Sy eerste gepubliseerde gedig, in 1921 in De Goede Hoop, was in Afrikaans, hoewel met ’n effense Nederlandse invloed. In die 1930’s het sy eerste dig- en essaybundels verskyn. Die taalhistorikus J. du P. Scholtz vat die betekenis van Louw as digter mooi saam: “Die Afrikaanse letterkunde, wat al voor 1925 deur die werk van digters soos Eugène Marais en C. Louis Leipoldt hoë aansien verwerf het, het na 1930 los gekom van sy lokale beperkings en deur die werk van ’n groot digter soos N.P. van Wyk Louw aan Afrikaans ’n status as literêre uitdrukkingsmiddel gegee wat nie meer in twyfel getrek kon word nie.” In 1948 het hy ’n eredoktorsgraad van die Rijksuniversiteit van Utrecht ontvang as blyk van die Nederlandse wetenskap se erkenning van die ontwikkeling in die destydse Afrikaanse poësie, waarvan Louw “die voorman en simbool” was.

Ná sy debuutbundel, Alleenspraak (1935), volg ’n aantal grootse bundels: Die halwe kring (1937), die koorspelDie dieper reg (1938), die epos Raka (1941), die bundel Gestaltes en diere (1942), Nuwe verse (1954) wat onder meer die lang gedig “Klipwerk” insluit en Tristia (1962). In dieselfde tyd publiseer hy ook verskeie dramas, soos Dias (1951), Germanicus (1956), Koning Eenoor of nie vir geleerdes (1960), Dagboek van ’n soldaat (1961),Lewenslyn (1962), Die held (1962), Kruger breek die pad oop (1964), Asterion (die libretto vir ’n radiofoniese opera), Berei in die woestyn (1968) en Die pluimsaad waai ver, wat die eerste keer in 1966 opgevoer is by die fees om die totstandkoming van die republiek in 1961 te gedenk. Die sentrale figuur daarin is pres. M.T. Steyn en dit speel af teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902).

Louw het homself altyd ’n Afrikaner-nasionalis genoem, ook in sy kritiek op die Nasionale Party-regering. Sy taal- en kulturele nasionalisme kom tot uiting in sy poësie en drama maar ook in talle tydskrif- en koerantartikels. Die meeste van dié stukke is later gebundel as Lojale verset en Berigte te velde (albei in 1939) en Liberale nasionalisme (1958). Vir hom is ’n volksbeweging “alleen ’n tegniese middel om ’n gestelde doel te bereik, maar dit is die kultuurskepper wat reg aan die doel, en dus aan die beweging, gee. Kultuur en politiek moet saamwerk soos oog en hand; sonder die politieke beweging is die kultuur soms nie by magte om sy pad te baan nie, maar sonder die kultuur is die politieke beweging altyd bloot ’n blinde gryp na mag.”

In al drie hierdie bundels, maar veral ook in lateres behandel hy daarby beginsels en probleme in die letterkunde soos die psigologisme, oorspronklikheid, literêre vernuwing en volkspoësie. Hierdie bundels isMaskers van die erns (1955), Swaarte- en ligpunte (1958) ’n Wêreld deur glas (1958), Vernuwing in die prosa(1961), Opstelle oor ouer digters (1972), Deurskouende verband (1977) en Rondom eie werk (1970). Hierdie en ander essays (soos Die digter as intellektueel van 1950) word gebundel in die twee dele van sy Versamelde prosa, (1986) terwyl sy poësie in Versamelde gedigte uitgegee is.

’n Groot deel van Louw se werk is nooit gepubliseer nie. Daaronder is tientalle radiopraatjies en die tydgebonde bydraes vir die jeugblad Die Jongspan se bladsy wat afgestaan is aan wêreld- en Suid-Afrikaanse nuus.

Louw se invloed op veral die Afrikaner-intellektuele was groot as gevolg van die gehalte van sy werk. Sy gedagtes oor die “oop gesprek”, “voortbestaan in geregtigheid” en “lojale verset” het ’n beduidende rol in die politieke debat van die 1970er- en 1980erjare gespeel. Dat Louw as die grootste digter van sy tyd “onherroeplik verbind” was met “dié ding wat ons ’n ‘volk’ noem” (sy eie woorde in later jare), het help sorg dat Afrikaner-intellektuele getrou gebly het aan hul taal en volk.

Vir Standpunte geskryf deur prof. Jaap Steyn