Brexit kondig ’n nuwe politiek aan – en dis goed vir die Weste en vir klein gemeenskappe – Prof. Koos Malan

NP van Wyk Louw VK Politiek

Westminster waar die Verenigde Koninkryk se parlement gesetel is


Die Brexit-referendum-uitslag is nou al amper ou nuus, maar die laaste woord is nog lank nie daaroor gespreek nie. Inteendeel, alle aanduidings, soos ook deur verskeie vooraanstaande historici uitgewys, is dat ons inderdaad hier met ’n gewigtige historiese gebeurtenis te doen het. ʼn Gebeurtenis wat op verskeie gebiede ʼn beslissende koersverandering aankondig. Dié koersveranderings raak Suid-Afrika ook. Belangriker nog: Dit het ook ’n uitwerking op Afrikaners; en dié uitwerking is gunstig net soos dit vir talle ander kleiner kultuurgemeenskappe gunstig is. Daarom moet ons die aard van die koersveranderings deeglik verreken.

Die koersveranderings het ten minste vier dimensies.

  • Eerstens is die Britse en meer bepaald die Engelse partypolitiek beslissend aan die verander
  • Tweedens is die Britse staat midde in ’n ingrypende transformasie
  • Derdens is die referendum-uitslag deel van ’n omvattende kentering van die aard van die moderne staat en
  • Laastens dui dié uitslag aan dat ons ’n historiese verandering van die grondliggende prinsipiële uitgangspunte in die politieke denke beleef. Die liberalisme, wat sedert die Tweede Wêreldoorlog en breër beskou sedert die Franse rewolusie, die hoofkoersaanduider in die politieke praktyk in die Weste was, word deur ’n nuut opkomende denkwyse uitgedaag. Volgens hierdie denkwyse is die kultuurgemeenskap net so fundamenteel as die individu en moet konstitusionele bedelings die gemeenskappe net soveel erken en beskerm as die individue.

Al vier die aspekte, maar veral die laaste twee, is vir Afrikaners van verreikende belang .

Hierdie vier dimensies impliseer mekaar en is heg verweef. Ook van belang, is dat die Brexit-uitslag nie alleenstaande is nie. Inteendeel, die verwikkelinge in Brittanje is nou verbind met verskeie ander gebeure in Europa en die VSA, maar ook in Suid-Afrika, waarby Afrikaners trouens ook prominent betrokke is.

  1. Veranderings in die Engelse en Britse partypolitiek

Die Arbeidersparty het die Liberale Party gedurende die eerste dekades van die 20e eeu (finaal in 1924) as een van die twee hoofpartye in Brittanje se tweepartystel vervang. Sedertdien is die Konserwatiewe Party en die Arbeidersparty die twee hoofpartye in Engeland en in die Britse politiek in die algemeen. (Ander partye, soos die Liberale Party, nou bekend as die Liberaal Demokratiese Party – die Libdems – en enkele kleiner partye soos die Noord Ierse Unioniste is blote kantspelers.)

Die twee groot partye het nie slegs die partypolitiek in Engeland nie, maar ook in Brittanje in die geheel en bepaald in Skotland oorheers. In Skotland was die Arbeiders altyd sterker as die Konserwatiewe Party, maar daar was nooit ’n derde party wat die twee basies Engelse partye kon uitdaag nie. Veral sedert die 1990’s het die lank half-dormante Skotse nasionalisme in die gestalte van die Skotse Nasionale Party (SNP) sterk begin groei en eers die Konserwatiewe Party en oplaas ook die Arbeidersparty in Skotland opsy geskuif, met die gevolg dat die Konserwatiewe Party vandag nie meer ’n Britse party is nie, maar slegs ’n Engelse (en Walliese) party. Dieselfde geld grotendeels ook vir die Arbeiders. Die SNP is sedert 2007 die sterkste krag in Skotland en het as die onbetwiste wenner van die algemene verkiesings van 2011 uit die stryd getree.

Maar ook in Engeland het Brexit die bykans eeuelange oorheersing van die Konserwatiewe Party en die Arbeiders in die gedrang gebring, en dit na alle waarskynlikheid beëindig. Dié twee partye, saam met die res van die Engelse politieke establishment met inbegrip van die meeste media het ’n eenstemmige veldtog vir die voortgesette Britse lidmaatskap van die Europese Unie (EU) gevoer. Die meerderheid van die kiesers het daarteen gestem en sodoende ook ’n suksesvolle opstand teen die hele partypolitieke establishment ingelui. Die feit dat ’n beduidende meerderheid van die Engelse kiesers teen die politieke establishment opgestaan het, toon dat die establishment heeltemal tred met die meerderheid Engelse verloor het en dui daarop dat die Engelse partypolitiek na alle waarskynlikheid grondliggend gaan herskik. Dit sal bes moontlik langs drie weë geskied.
Eerstens gaan die United Kingdom Independence Party (UKIP) dit nou uiteindelik regkry om om homself as parlementêre politieke party te vestig, iets wat natuurlik in die Westminsterstelsel met sy enkelverteenwoordiger-kiesafdelings veel moeiliker is as in die Wes-Europese proporsionele stelsels. UKIP sal egter die English Independence Party moet word, want in die lig van die verwagte wegbreek van Skotland uit die Verenigde Koninkryk, gaan daar inderdaad nie meer ’n United Kingdom wees vir wie se onafhanklikheid daar geywer kan word nie.
Tweedens gaan die Arbeidersparty sy kreeftegang sedert 2007, toe dit laas aan bewind was, verder voortsit. Die party is sedert die dae van Tony Blair se “new labour” toenemend van die werkers vervreem wat vir die afgelope eeu die ruggraat van die Arbeidersparty was. Inteendeel, daar bestaan reeds ’n tendens dat UKIP besig is om stemme van die Arbeiders oor te wen. Die referendum het verdere stukrag hieraan verleen. Die agteruitgang van die Arbeiders is deel van ’n breër insinking van die Sosiaal Demokratiese Partye, onder andere, in Duitsland waar die SDP sedert die laat 1970’s steun aan die Groenes en die nuwe Alternatief vir Duitsland afstaan, asook die Oostenrykse SDP wat in Mei vanjaar nie die finale rondte van die presidentsverkiesing kon haal nie.
Derdens gaan die Konserwatiewe Party na alle waarskynlikheid ’n hartsverandering ondergaan sodat hy sy tradisionele Engelse behoudendheid kan herwin eerder as om op die weg van ongebreidelde liberale kapitalisme voort te wandel. Doen hy dit nie, gaan hy verdere verliese ly namate steun aan UKIP afgestaan word. In hierdie opsig is die Konserwatiewe Party in ’n soortgelyke posisie as die Christen Demokratiese Unie in Duitsland teenoor die Alternatief vir Duitsland.

  1. Die transformasie van die Britse staat – die einde van die Verenigde Koninkryk

Die voortbestaan van die Britse staat – die Verenigde Koninkryk – is in die gedrang. Engeland se geskiedenis, net soos dié van Skotland (en van Wallis wat eers hier buite rekening gelaat word), strek veel verder terug as dié van die Britse staat, oftewel van die Verenigde Koninkryk. Die Verenigde Koninkryk het in 1707 met die Act of the Union with Scotland tot stand gekom toe Skotland en Engeland as die Verenigde Koninkryk een staat geword het. In werklikheid is Skotland by Engeland ingelyf. Skotland het met die Act of the Union sy onafhanklikheid prysgegee en is daarna as deel van ’n unitêre staat vanuit Westminster in Londen regeer. Die verengelsingsproses waaraan Skotland reeds met herhaalde vlae onderwerp was, is sedertdien met nuwe ywer voortgesit en afgedwing in so mate dat die Skotse taal bykans verdwyn het.

Anders as Engeland was Skotland egter vir baie lank heg met Wes-Europa verbind. Trouens, voor sy opname in die Verenigde Koninkryk was Skotland juis in ’n bondgenootskap met Frankryk teen die gemeenskaplike Engelse vyand verbind.

Bowendien vertoon Skotland ook bepaalde eiesoortige kenmerke wat hom duidelik van Engeland onderskei het. Een daarvan is dat die Skotte Protestants is en die tweede is dat die Skotse reg sterk aanknopingspunte by die Europese Romeins-gebaseerde reg vind. Die Skotse privaatreg is soortgelyk aan die Romeins-Hollandse reg en juis merkbaar verskillend van die Engelse “common law”. Vir baie lank was dit deel van die Skotse trots dat hulle op die Romeinse reg voortgebou het terwyl die Engelse daarenteen juis baie tevrede was dat die Romeins-gebaseerde reg anders as in Wes-Europa nooit ’n vastrapplek in Engeland gekry het nie.

Die Skotse nasionale bewussyn is nooit heeltemal uitgewis nie. In die 20e eeu het dit met rukke en stote gegroei. Arbeidersregerings soos dié van Harold Wilson het (onder andere om Skotse steun te monster) gepoog om beperkte Skotse outonomie te bewerkstellig. Uiteindelik het Skotse outonomie in 1999 konstitusioneel beslag gekry toe die Skotse parlement in daardie jaar begin funksioneer het. Weldra het die outonomie-beweging onder leiding van die Skotse nasionaliste, met die vaardige leierskap van Alex Salmond en toe van Nicola Sturgeon, ’n volskaalse afskeidingsbeweging geword.

In 2015 het die Skotse nasionaliste in ’n referendum teen die aanslag van die hele Britse partypolitieke establishment en die media, insluitend die internasionale media, met ’n kortkop (45% teen 55%) verloor. Salmond, toe nog die leier van die SNP, het bedank en verklaar dat hy nie voorsien dat daar binne nie volgende geslag weer ’n soortgelyke referendum sou wees nie. Dog, Brexit het die Skotse politiek nou in ’n stroomversnelling ingewerp en die volgende Skotse afskeidingsreferendum gepaard met sesessie uit die Verenigde Koninkryk en Skotse opname in die Europese Unie, is waarskynlik spoedig op hande. Sturgeon het dit reeds in die vooruitsig gestel en was na die Brexit-uitslag dadelik Brussel toe om vir Skotse lidmaatskap van die EU voorbrand te maak.

Indien, of eerder sodra, Skotland finaal van Engeland wegbreek en op sy eie aansluiting by Wes-Europa vind, kondig dit natuurlik ’n breuk met Engeland aan. Dit beëindig die Verenigde Koninkryk – die Britse staat – en herstel die konstitusionele posisie van Skotland soortgelyk aan die tydperk voor Skotse opname in die Verenigde Koninkryk. Terselfdertyd herstel dit weer Skotland se bande met Wes-Europa soos wat Skotland dit vir baie lank op sy eie onderhou het. In die breuk met die Verenigde Koninkryk en aansluiting by Wes-Europa lê daar dus terselfdertyd ook ’n herstel van ’n ou tradisie sodra Skotland, anders as Engeland, weer op sy eie hegter bande met Wes-Europa opneem.

  1. ’n Kentering weg van die politiek van verstaatliking

Na die voorbeeld van Brittanje en Wes-Europa het politiek oral grotendeels verstaatlik. Die politiek word naamlik op grond van ’n algemene staatlike ideologie – die ideologie van verstaatliking – beoefen. ’n Mens kan dit, soos hieronder verduidelik, ook die politiek van staatlike liberalisme noem. Verstaatliking is op baie plekke so stewig ingegrawe dat dit in ’n toestand van staatlikheid versteen het. Verstaatliking erken slegs twee entiteite, naamlik die staat en die individu. Daarenteen staan dit vyandig teenoor gemeenskappe – kultuur-, taal-, godsdienstige en dergelike gemeenskappe. Kulturele, taal- en godsdienstige groeperings word wel erken, maar bloot as lukrake, arbitrêre en gewoonlik vlietende samevoegings van individue wat op grond van individuele voorkeur met mekaar assosieer. Die groeperings is egter juis nie gemeenskappe nie en word derhalwe ook nie konstitusioneel as openbare identiteite met bevoegdhede erken nie. Slegs individue (met individuele reg) kwalifiseer vir konstitusionele erkenning. Dit is juis vanweë die uitsluitlike erkenning van individue (naas die staat) en die gepaardgaande verwerping van gemeenskappe dat die ideologie van verstaatliking ook as staatlike liberalisme beskryf kan word.

Die ideologie het twee dimensies.

Die eerste: Ongeag die oorsprong van ’n bepaalde staat, dit wil sê, van hoe ’n bepaalde staat ontstaan het en hoe arbitrêr die staatsgrense ook al afgebaken is, is die staat bepalend vir mense se openbare identiteit. Van almal in die Britse staat word vereis om hulle besonderse plaaslike en kulturele identiteite te laat vaar en om op te gaan in ’n enkele Brits-Engelse openbare identiteit. Dieselfde geld vir alle gemeenskappe in Frankryk waar die talle taal- en kultuurgemeenskappe – Bretoons, Oksitaans, ens. – gedwing is om hierdie gemeenskapsidentiteite af te sterf ten einde in ’n algemene Franse staatlike identiteit te verdwyn. Dieselfde geld ook vir talle ander state, met inbegrip van Suid-Afrika, waar gemeenskappe soos die Afrikaners met skemas van transformasie en “representivity” gedwing word om hulself ongedaan te maak ten einde in ’n algemene Suid-Afrikaanse identiteit opgeneem te word. Die skemas staan bekend as nasiebou wat klaarblyklik, soos Walker Connor jare gelede reeds uitgewys het, ’n bedrieglike benaming is, want nasies – volkere en kultuurgemeenskappe – word nie hierdeur gebou nie, maar daarenteen juis vernietig.

Die tweede is dat die politiek basies sentralisties en administratief van aard is. Hierdie sy van staatlikheid spruit voort uit die eerste. In die lig van die feit dat geen gemeenskappe erken word nie, is daar uiteraard geen rede vir regerings vir bepaalde gemeenskappe ooreenkomstig hulle eie behoeftes nie. Daar is per slot van sake volgens die staatlike ideologie nie eers so iets soos ’n gemeenskap nie. Daar bestaan slegs, soos die grondlegger van die staatlike ideologie, Thomas Hobbes geleer het, ’n algemene losse versameling van mense en derhalwe is daar net ’n enkele sentrale regering aan die hand van ’n unitêre konstitusionele orde. Vir doeleindes van doeltreffende regering kan die staat weliswaar in verskeie eenhede verdeel word. Die eenhede neem egter nie gemeenskappe in ag nie. Dis nie bedoel om vorme van selfregering vir gemeenskappe moontlik te maak nie. Dit laat derhalwe nie ruimte vir vorme van federalisme nie. Dit neem na alles nie die besondere bewoningspatrone van gemeenskappe in ag nie; inteendeel, dis blote administratiewe streke ter beskikking van die unitêre sentrum.

Die ideologie van verstaatliking het diep in die eietydse denkwyse ingedring, onder andere, ook in die akademie en in die media. In die ou territoriale state van Wes-Europa – state soos Frankryk en Brittanje – waar die huidige territoriale staat ontstaan het, is die ideologie van verstaatliking op sy sterkste.

In weerwil hiervan en in weerwil van die establishment van politieke partye en die media (asook enorme buitelandse beïnvloeding) het die meerderheid kiesers – Engelse en Skotte elk op hulle eie manier – albei kante van die ideologie van verstaatliking verwerp. Die Engelse en die Skotte het hulle eiesoortige gemeenskapsidentiteite bevestig en terselfdertyd ’n keuse vir selfregering in plaas van ’n sentralistiese regering gemaak. Hiermee is die ideologie van verstaatliking, wat reeds vir etlike eeue dominant is en wat veral sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog hoogty vier en in die sestigerjare sy hoogtepunt bereik het, in sy spore gestuit.

’n Alternatief op die territoriale staat is natuurlik al geruime tyd aan die groei. Dit kom natuurlik tot uitdrukking in die ontstaan van nuwe kleiner state wat uitdrukking gee aan die behoefte vir selfregering; in federalisme en minderheidsregte; in vrye stede wat outonoom van hulle state raak en dan natuurlik ook deur talle outonome gemeenskapsinisiatiewe wat vry van die sentrale beheer van territoriale state staan en waarvan baie Afrikaners trouens getuies en aktiewe deelnemers is.

Dit is besonder betekenisvol dat die Engelse (en die Skotte) van die Verenigde Koninkryk, wat onbetwis die staat is met die langste blootstelling aan die ideologie van verstaatliking, assimilasie van klein gemeenskappe en unitêre regering, nou hierdie ommekeer gemaak het.

  1. ’n Kentering in die basiese uitgangspunte van die politieke verlies vir die universele liberalisme

Oor die afgelope dekades en veral sedert die sestigerjare het verstaatliking, oftewel die staatlike liberalisme, op etlike plekke, maar meer prominent nog in die Westerse wêreld, ’n omvorming ondergaan na ’n nuwe vorm van liberalisme, naamlik die kosmopolitiese liberalisme. Dis die jongste mutasie van die liberalisme – die laat-liberalisme. Myns insiens is die raakste beskrywing daarvoor die universele liberalisme of kortliks die indiversalisme. Vir die indiversalisme, net soos vir staatlike liberalisme, is die individu steeds een van sy twee basiese grondslae. Die indiversalisme verwerp ook gemeenskappe met dieselfde weersinnigheid as die staatlike liberalisme. Die een groot verskil tussen die staatlike liberalisme en die indiversalisme is dat dit die staat met die universele mensdom vervang. Indiversalisme bepaal dat ’n individue derhalwe lid van slegs een “gemeenskap” (meer korrek een omvattende groepering) kan wees en nie van ’n kultuurgemeenskap, godsdienstige gemeenskap, taalgemeenskap of welke ander gemeenskap ook al, of selfs van ’n staatlike gemeenskap nie, maar eerder van ’n enkele universele mensdom.

Volgens die indiversalisme is mense fundamenteel abstrakte individuele wêreldbewoners. Die drie komponente van indiversalisme, naamlik abstraktheid, hiper-individualiteit en wêreldbewonerskap is heg verweef.

Abstraktheid impliseer dat mense juis nie konkreet en besonders is nie. Hulle het geen besondere gemeenskapskarakter of -identiteit nie. Hulle is van geen besondere kultuur, godsdiens, taal, afkoms, plek of enigiets dergeliks wat hulle eiesoortig, onderskeibaar, besonders, vreemd of anders maak nie.

Hiper-individualiteit beteken dat almal bloot enkelinge is. Niemand behoort tot enige gemeenskap/pe nie. Hulle kan ook nie as behorend tot gemeenskappe beskou word nie, want dit sal ’n toegewing aan besondersheid, eiesoortigheid en onderskeibaarheid wees, wat teen die idee van abstraktheid indruis. In werklikheid behoort hierna as wêreldswerwerskap eerder bewonerskap verwys te word, want om te woon impliseer alreeds iets blywend met ’n gepaardgaande verbondenheid aan ’n besondere plek en gemeenskap. Volgens die indiversalisme is alle mense dus bloot individue met regte. En aangesien geen mens aan enige besondere gemeenskap verbonde is nie en almal bloot abstrakte fundamenteel eenderse mense is, is die regte abstrakte regte, oftewel universele menseregte. Die woord menseregte is gepas, want alle regte wat ’n mens toekom, is juis regte van abstrakte – ongebonde en ongedefinieerde – individuele mense, en juis nie die regte van mense met ’n besondere identiteit en in ’n besondere konkrete konteks nie. Alle regte en aansprake is bloot individueel. Trouens die idee van universele menseregte is as’t ware die juridiese uitdrukking van die indiversalisme.

Vir sover daar wel “gemeenskappe” bestaan, is die “gemeenskappe” net soos vir die staatlike liberalisme bloot ’n tydelike abnormaliteit – toevallige groeperings wat bowendien dikwels as inherent gewelddadig beskou word omdat dit mense wat nie tot ’n bepaalde gemeenskap behoort nie, sou uitsluit. Daarom moet die gemeenskappe – die groeperings –verdwyn.

Die indiversalisme het sy volle krag bereik met die welkomskultuur, wat verlede jaar onder leiding van die Duitse kanselier, Angela Merkel, en die burokrate van die Europese Unie in Brussel aangekondig is. Daarvolgens moes die EU sy deure oopswaai vir die Moslem-immigrante. Hulle kon in groot getalle Wes-Europa toestroom soos wat dit in elk geval in die afgelope dekades gebeur het, want per slot van sake is daar eintlik nie iets soos ’n (besonderse) Wes-Europese (Duitse, Nederlandse, Hongaarse, ens.) kultuur, tradisie of gemeenskap, wat moontlik onder druk kon kom vanweë die vestiging van groot getalle Moslems nie. Inteendeel, volgens die indiversalisme word Europa en sy onderskeie streke nie geag as Wes-Europees met ’n eiesoortige tradisie en kultuur en wat deur eiesoortige besondere gemeenskappe bewoon word nie, maar bloot deur abstrakte individuele mense. Nuwe aankomelinge – ook Moslems – kan derhalwe maar op groot skaal instroom, want die “Moslems” is in die finale instansie nie werklik Moslems nie. Moslemskap en ’n Moslemgemeenskap, soos enige ander gemeenskap, is ten slotte ook ’n blote tydelike en toevallige abnormaliteit, wat spoedig in die universele abstrakte mensdom sal assimileer en verdwyn. Moslems is derhalwe ook maar net ’n skyngemeenskap en hulle verskille met ander mense is eweneens ’n blote skyn-verskil. “Hulle” – die “Moslems” – is in die finale instansie ook net abstrakte individue net soos wat die bestaande inwoners van Wes-Europa (en die hele wêreld) abstrakte individue is. “Hulle” assimilasie – eenwording – met die bestaande inwoners van Wes-Europa is derhalwe eintlik reeds ’n voldonge feit wat spoedig met absolute noodwendigheid gaan voltrek. Trouens ek plaas die “hulle” (en “Moslems”) doelbewus in aanhalingstekens, want volgens die indiversalisme is daar geen “ons” of “hulle” nie; daar is bloot een groot versameling (aggregaat) van algemene individue met individuele menseregte. Die begrip  “Duitsland”, “Nederland”, “Hongarye” of “Engeland,” ens., wat ook ’n bepaalde (staatlike) gemeenskap aandui, is volgens die indiversalisme natuurlik net soos Moslemskap (en alle ander besondere gemeenskappe) ’n tydelike abnormaliteit, wat onafwendbaar vir assimilasie in die universele individuele abstrakte mensheid bestem is.

Talle figure in Wes-Europa se huidige politieke (burokratiese) elite, soos Angela Merkel en Francois Hollande en natuurlik die opperburokrate in Brussel soos Jean Claude Junkers en Martin Schultz, is luidrugtige woordvoerders van die indiversalisme. Dit is hierdie Europese Unie-burokrate wat die oopgooi van Europa se grense voorstaan en dit is hulle wat ongenaakbaar staan teen enige regering, party of gemeenskap wat die Europese tradisie, enige bepaalde Europese staat of die integriteit van enige spesifieke Europese (volks)kultuur probeer beskerm. Dit is hulle wat ook alle respek vir demokratiese selfregering van die onderskeie state en gemeenskappe verloor het en vanuit die sentrum wil dikteer wat elkeen moet doen.

Daar is egter reeds vir geruime tyd ’n beweging aan die gang om die Wes-Europese tradisie te herontdek en sy integriteit te herstel. Die beweging is lank reeds oor die hele Europa en in Brittanje, asook in die VSA, aan die oplaai. Dit het onder andere ’n sterk intellektuele basis opgebou onder die aanvoering van filosowe soos Roger Scruton wat vir dekades lank uit liberale kringe gehoon is, maar nou ’n toonaangewende intellektuele figuur in Wes-Europa geword het. Dit is ’n konserwatiewe beweging wat Europa se besonderse tradisie onder beskerming neem, verfyn en voortsit. Dit is die tradisie wat sy wortels in die Christelike godsdiens, die Griekse filosofiese tradisie, die Romeinse regstradisie en opvattings van Germaanse gemeenskappe vind – dus ’n Christelik/Grieks/Romeins/Germaanse tradisie.  Samevattend kan ’n mens daarna as die Christelik-humanistiese tradisie verwys. ’n Tradisie is nie ’n ideologie of ’n ongenaakbare teologie nie. Dit versteen derhalwe nie in absoluut vaste ongenaakbare finale “waarhede” nie. Daarom is dit ook nie uitgelewer aan die onverdraagsaamheid wat talle moderne ideologieë en sektariese teologieë kenmerk nie. ’n Tradisie is iets wat deurlopend groei en dus ook verander. Die verandering is egter nie ingrypend nie en bly trou aan die grondliggende eienskappe van die tradisie.

Hierby aansluitend en as ’n integrale deel van hierdie tradisie is daar die agting vir die waarde van die volle verskeidenheid van kleiner gemeenskappe en hulle aanspraak om hulself te wees, hulle van ander te onderskei en hulle op demokratiese selfregering en samewerking in ’n onderlinge broederskap van gemeenskappe te verlaat.

Hierdie konserwatiewe beweging is egter nie tot intellektuele kringe beperk nie. Inteendeel, oor die afgelope kwart eeu kom dit geleidelik sterker tot uitdrukking in die Europese politiek, asook op talle ander plekke buite Europa, met inbegrip van Suid-Afrika. In die Europese politiek is Viktor Orban, eerste minister van Hongarye, die helderste stem vir die koestering en herlewing van Europa se godsdienstig-kulturele wortels, Europa se subkulture en vir die demokratiese selfregering van gemeenskappe. Orban se sienings word gedeel deur verskeie regerings waaronder dié van Pole, Slowakye en die Tsjeggiese republiek. Die voorsitter van die Poolse regerende party, die Party vir Reg en Geregtigheid, Jaroslaw Kaczynski en die eerste minister, Beata Szydlo, verdien veral vermelding. In Oostenryk kom die nuwe beweging tot uitdrukking in die Oostenrykse Vryheidsparty, wie se kandidaat, Norbert Hofer, verlede maand naelskraap die presidentsverkiesing verloor het. Dit is veelbeduidend dat selfs Skandinawiese state, soos Denemarke en Swede nie met die indiversalisme vereenselwig nie veral gegee die agtergrond van Skandinawië se lang tradisie van politieke liberalisme. In Frankryk is die Front National tans die enkele sterkste politieke krag en word dit slegs deur ’n gemanipuleerde kiesstelsel van ’n prominente posisie in die nasionale vergadering weerhou. Die Front National sal egter waarskynlik binnekort finaal in die Franse politiek deurdring. In Nederland groei die Partij voor de Vrijheid sterk. Die party word onder andere van ’n intellektuele basis verskaf deur een van sy prominentste parlementslede, Martin Bosma, wat ’n gerekende politieke skrywer is, asook die onafhanklike stem van die jong politieke skrywer, Thierry Baudet. Die Nieu Vlaams Alliansie is die sterkste krag in Vlaandere. In Duitsland self sien ons tans vir die eerste maal die opkoms van ’n volksparty in die Alternative für Deutschland wat pas op 15 Maart ’n opskudding in drie streeksverkiesings veroorsaak het. Daarbenewens word Merkel ook sterk teengestaan deur die CDU se susterparty in Beiere, die Christen Sosiale Unie (CSU) onder Horst Seehofer.

Die Brexit-uitslag staan in die teken van hierdie oplaaiende beweging. Dit is nie ’n uitsondering nie, maar deel van ’n al hoe duideliker patroon in die Wes-Europese politiek; ’n al hoe gunstiger herwaardering van die breë Wes-Europese tradisie, die integriteit van sy onderskeie kleiner gemeenskappe en van die demokratiese selfregering van daardie gemeenskappe. Gepaardgaande hiermee is dit ’n klinkklare verwerping van die hele indiversalistiese establishment – sy burokrate, politici en sy media.

Dit is duidelik dat ons nie hier met ’n blote vlietende reaksionêre krag te doen het nie. Twee faktore dui daarop dat dit eerder ’n diepgaande beweging met blywende implikasies gaan wees. Eerstens is die grondslae daarvan net te diep, siende dat dit ook ’n intellektuele beweging is met sy wortels in die filosofie, politieke filosofie en elders in die akademiese wêreld. Tweedens is dit wydlopend en strek dit oor die hele Europa, asook in die VSA en Suid-Afrika, waar denke onder Afrikaners dieselfde opvattings en oortuigings adem. Dit beteken nie dat die oorwinning oor die liberalisme en sy uitloper, die indiversalisme reeds ’n voldonge feit is nie. Daar lê ’n lang stryd op talle terreine voor om die liberale “common sense”-konsensus finaal te breek. Die feit dat die Engelse deur Brexit die indiversalisme nie net met flambojante leiers nie, maar van nog groter belang deur stewige intellektuele onderkraging, in die tande geskop het, is uiters veelseggend. Dis veel meer veelseggend as waarskynlik enige ander plek in die wêreld, aangesien Engeland in vele opsigte die bakermat van die liberalisme is, maar ook onder andere vanweë die dominante posisie van Engels wat soveel invloed uitoefen.

Ross Douthat wys insiggewend daarop dat die indiversaliste oplaas glad nie so universalisties en kosmopolities is as wat hulle voorgee nie. Inteendeel, in die finale instansie word hulle opgemaak uit ’n klein elite van burokratiese politici en sakemagnate (nie almal nie), ondersteun deur ’n korps van joernaliste van ’n handvol mediahuise. Hulle is nie kosmopolities nie. Ofskoon hulle wêreldwyd in ’n paar groot hoof- en sakestede saamtrek, is hulle eintlik treffend homogeen, eintlik ’n soort stam met dieselfde oortuigings en vooroordele en afkeure, aldus Douthat. En hulle is treffend beterweterig, voorskriftelik, ondemokraties en onverdraagsaam – ’n klein kliek, wat neersien op al die ander wat nie hulle sienswyse deel nie. Meer nog, tipies van die geslote wêreld van ’n stam, kan hulle dit net nie klein kry dat talle mense – die meeste mense – nie soos hulle wil wees nie; dat daar mense is wat inderdaad ander waardes het, mense wat hulle eiesoortige gemeenskappe koester en wat self hulle eie sake wil bestuur. Dis tog belaglik, irrasioneel en bloot emosioneel om dit te doen, redeneer dié elite, want na alles is daar tog net een rasionaliteit, naamlik die rasionaliteit van hierdie elite self. As die klomp dom mense nie van hulle irrasionele emosies wil afsien nie, moet hulle gedwing word om dit te doen. Dit verklaar die sonderlinge venyn wat die elite gedurende die veldtog en na die uitslag ten toon gestel het. Daar is talle voorbeelde hiervan. Die treffendste illustrasie was die uitbarstings van die CNN-joernalis, Christiana Amanpour, in etlike onderhoude na afloop van die Brexit-uitslag met toonaangewende Brexiteers. Mense durf tog na alles nie vir hulself besluit nie. Hulle moet teen wil en dank die vanselfsprekende heilsleer van die indiversaliste aanvaar.

Dis treffend dat die indiversaliste hulself met hierdie soort gedrag by die beste, oftewel die slegste, voorbeelde van imperialisme skaar. Die Britse imperialiste het ook geen begrip gehad dat die Boere hulself wou wees en oor hulself wou regeer nie en halsstarrig verseg het om Brits en Engels te word. Dit eggo ook die latere nasiebouers, wat na die voorbeeld van die stelling van Jean-Jacques oortuig was dat mense verplig moes word om “vry” te wees, oftewel gedwing moes word om hulle besondere identiteite te laat vaar en hulself in die groot staatnasies moes laat assimileer. Later het die Marxiste dieselfde soort aggressie teen kleiner gemeenskappe losgelaat, wat volgens hulle nie sogenaamde historiese nasies was nie en wat gevolglik verplig was om hulself in die grotes op te los.

Die stam van indiversaliste wat Douthat hier blootgelê het, is derhalwe die herhaling van ou ding – ’n ou slegte ding – die van die eensydige, beterweterige, onverdraagsame en dikwels gewelddadige imperialis. Afrikaners is goed vertroud hiermee in die gedaante van Alfred Milner en die Britse imperialisme.

Die belangrikste rede vir die indiversaliste se argwaan teen gemeenskappe wat hulle eie identiteit opneem en op selfregering aandring, is waarskynlik die feit dat hulle – die indiversaliste – daarvan oortuig was dat die individuele universalisme finaal geseëvier het en dat daar geen politiek-filosofiese ideeraamwerk is wat dit weer sou kon uitdaag nie. Hierdie ongekende selfvertroue van die indiversaliste is vervat in die titel van Francis Fukuyama se veelbesproke boek, The end of history and the last man wat in 1992 verskyn het (en wat ’n uitbreiding was van sy artikel van drie jaar tevore in die tydskrif National Inerest). Daarin het Fukuyama juis geredeneer dat die laat-liberalisme (wat ek hier die indiversalisme noem) die finale (sintetiese) eindpunt van die geskiedenis aangedui het en dat dit nooit weer uitgedaag kon word nie. Alle politiek sou voortaan blote administrasie binne die indiversalistiese raamwerk wees. Die basiese uitgangspunte van die indiversalisme was egter ’n permanente gegewe en alles sou daarna binne die raamwerk daarvan plaasvind.

In die eers daaropvolgende jare kon dit dalk lyk of Fukuyama reg was, dit wil sê dat die indiversalisme inderdaad finaal geseëvier het. Daarom kon die indiversaliste met soveel selfvertroue optree – ’n selfvertroue wat spoedig in arrogansie en voorskriftelikheid oorgegaan het. Nou blyk dit dat die taksering van die politiek en van die wêreldgeskiedenis inderdaad bes moontlik verkeerd was, en dat die indiversalisme in die vaarwater beland het na mate dit met toenemende sukses deur die politiek van gemeenskapsidentiteit en               -selfstandigheid soos wat dit in Brexit tot uitdrukking gekom het, uitgedaag word. Dit wil dus lyk of die geskiedenis, nadat die einde daarvan dramaties aangekondig is, tog weer met groot energie en lewenskrag ’n nuwe aanvang geneem het.

Vir Afrikaners is Brexit en sy nadraai van baie groot belang. Brexit wys dat Afrikaners se stryd om erkenning as gemeenskap te midde van ander gemeenskappe en sy strewe na demokratiese selfregering, sy plek inneem as deel van ’n wydlopende internasionale beweging. Bowendien is daar heelwat inspirasie te put uit die grootste veldslag wat met Brexit sover teen die indiversaliste gewen is. Afrikaners het as’t ware oral geesgenote en strydgenote in gemeenskappe wat aandring op erkenning en op demokratiese selfregering. Die geskiedenis het weer begin en die wêreld is besig om gunstig te verandering.

 

8 Responses to “Brexit kondig ’n nuwe politiek aan – en dis goed vir die Weste en vir klein gemeenskappe – Prof. Koos Malan”

  1. Hannes Nel 2016-07-28 at 11:38 am #

    Waar, maar te veel filosofie en te min praktiese voorstelle.

    • Christoff van Wyk 2016-08-02 at 6:32 am #

      Dankie vir jou inset Hannes.

      Het jy dalk praktiese voorstelle?

      Frans Cronje van die Rasse Instituut spekuleer dat daar in die toekoms ‘n Zulu staat en ‘n Kaap staat ens. kan ontstaan.

      Wat is die gevoel daaroor? Moontlik of nie?

  2. Leon 2016-07-28 at 12:22 pm #

    Baie interesante artikel Christoff, sal graag wil hoor wat die uitende van die VSA se lot gaan wees as Mnr Donald Trump sy sin kry met die komende presidentiele verkiesing,

    • Christoff van Wyk 2016-08-02 at 6:34 am #

      Dankie Leon.

      Die uitkoms van die VSA se presidentsverkiesing gaan verseker ‘n groot invloed, nie net op SA nie, maar vir die hele wêreld inhou.

      Ons sal die uitslag fyn dophou en ontledings plaas.

      Maar, intussen wie dink jy gaan wen?

  3. Co van den Raad 2016-07-28 at 5:04 pm #

    Magtig, wat ‘n uitstekende berig! Dit stuur ek na almal wat ek ken, hier en die buiteland!

    • Christoff van Wyk 2016-08-02 at 6:34 am #

      Baie dankie Co.

      Hou ons webtuiste dop vir nog goeie artikels wat oppad is.

  4. Nita 2016-07-28 at 5:20 pm #

    Dankie vir die verstommende en uiters interessante insig. My oorlede ou vader se geliefde sêding – die wiel draai en dit draai gewis – kom by my op. Wens ek kon oor so ‘n paar dekades die spreekwoordelike vlieg op die muur wees….

    • Christoff van Wyk 2016-08-02 at 6:36 am #

      Dankie vir jou inset Nita.

      Die wêreld soos ons dit ken gaan verseker ‘n groot omwenteling ondergaan binne die volgende paar dekades.

      Ek wonder of die uitdrukking ‘hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde’ nog van toepassing is?

Leave a Reply