Wie is ons

NP van Wyk Louw sentrum kantoor

Die Sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies, is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir suksesvolle en selfstandige gemeenskappe. Die sentrum is reeds in 2013 vanuit die FAK gestig en deel steeds kantore met die kultuurorganisasie wat geleë is op die historiese Voortrekkermonumentterrein. Daar word gereeld konferensies gehou, publikasies en navorsingsverslae uitgereik asook meningstukke geskryf wat weekliks in Standpunte en ook ander media verskyn. Die tradisie van die ‘oop gesprek’ word nou op die Standpunte afdeling van ons webtuiste voortgesit.

Die geskiedenis van Standpunte

Standpunte was veertig jaar lank die mees vooraanstaande intellektuele tydskrif in Afrikaans. Dit het poësie, prosa en artikels van hoogstaande gehalte geplaas en was ook in die buiteland bekend. Heelparty gedigte van die bekende Nederlandse digters soos A. Roland Holst, Gerrit Achterberg, J.C. Bloem, Simon Vestdijk en Jan Greshoff het daarin verskyn. Onder die Afrikaanse medewerkers was digters soos N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, W.E.G. Louw, Ernst van Heerden, Peter Blum, Ina Rousseau, Sheila Cussons, Breyten Breytenbach en Lina Spies.

Dit is veral die broers N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw wat hulle vir die tydskrif beywer het. Uit hul briewe in die laat jare dertig en vroeë jare veertig blyk die behoefte wat hulle gevoel het aan ’n intellektuele tydskrif. “Ag, waarom het ons nie ’n eie tydskrif waar ’n mens openlik en vrymoedig die stryd kan aanknoop nie”, skryf W.E.G. Louw op 27 Mei 1936 aan sy broer. Net soos hy was Van Wyk Louw oortuig daarvan dat die beskikbare tydskrifte nie voldoen aan hul hoë verwagtings van ’n suiwer kulturele lewe nie, “omdat die behoeftes van die massa … die koers bepaal (22 Junie 1939). Die Louws en hul geesgenote soos die Nederlands-gebore letterkundige en digter H.A. Mulder was ontevrede oor die stand van die Afrikaanse literêre kritiek wat nie vry was van vooroordele nie.

Daar was twee struikelblokke: die papierskaarste wat deur die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak is, en ’n gebrek aan geld. Papier het na die oorlog weer beskikbaar geraak en die geldgebrek kon opgelos word deur geld te leen. In die onderhandelinge met die drukkers, die Nasionale Pers, het die eerste redaksie, die Louws en Mulder, volkome onafhanklikheid geëis.

Die eerste uitgawe het in Desember 1945 verskyn. In die eerste hoofartikel stel die redaksie sy beleid soos volg:“Hierdie nuwe reeks wil die vrye geestelike en intellektuele lewe dien. Ons werksaamhede gaan in hoofsaak strek oor die gebied van die literatuur en van die literêre en verwante ideëkritiek; in die tweede plek ook – aangesien geen enkele geestelike aktiwiteit volkome los van ál die ander staan nie – sal die reeks (vir sover prakties moontlik blyk) die gebiede van die musiek, die beeldende kunste, die wysbegeerte, die geskiedenis en staatkundige denke aanraak. Ons doel is nie om ’n standpunt te propageer nie, maar om vrye bespreking van die grondslae van hierdie aktiwiteite in Suid-Afrika moontlik te maak.”

Standpunte was van die begin af ’n sukses. In die vierde nommer (Oktober 1946) meld die redaksie dat soortgelyke tydskrifte in die VSA met sy 150 miljoen inwoners moeilik meer as 500 of 10000 intekenaars haal. Die Afrikaanse bevolking is skaars ’n honderdste van hierdie aantal, maar Standpunte is byna onmiddellik uitverkoop en die oplaag moes aansienlik vergroot word.

Die redaksie is gou vergroot deur die aanstelling van Jan Greshoff en D.J. Opperman, en later nog meer bekende skrywers en letterkundiges. Die “redaksiesekretaris” was in die praktyk die hoofredakteur en die bydraes is na hom aangestuur. Dit was aanvanklik Van Wyk Louw. In later jare was dit Opperman, W.E.G. Louw, A.P. Grové, P.G. du Plessis, J.C. Kannemeyer en Ernst van Heerden. André P. Brink was redakteur van die laaste twee nommers. Die Nasionale Boekhandel, ’n filiaal van die Nasionale Pers, het die blad baie jare lank gesubsidieer. Tientalle belangwekkende artikels is deur die jare gepubliseer.

Ernstige politieke meningsverskille tussen redaksie- en direksielede het algaande al hoe groter geraak. Die Nasionale Boekhandel het in 1986 besluit om hom van Standpunte los te maak en sy borgskap te staak. Die boekhandel het in ’n verklaring gesê hy is reeds jare bewus “van ’n blykbaar onoorbrugbare verdeeldheid in die redaksie en die direksie van Standpunte. Ons as uitgewers wou nie en wil nie kant kies tussen skrywers en letterkundiges, of tussen literêre groepe nie.” Kannemeyer het met ander uitgewers gaan praat om die blad uit te gee, maar niemand wou nie. Die nommer van Augustus 1986 was ook die laaste.

“Standpunte” is die amptelike mondstuk van die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum. Standpunte sit NP van Wyk Louw se tradisie van oop gesprek voort deur aktuele en lewensbeskoulike standpunte te publiseer wat Afrikaners raak. Die standpunte op die blad is nie noodwendig die mening van die FAK-direksie en personeel nie.