OPSOMMING: Oor Gemeenskap en Plek – Inleiding & Hoofstuk 1


Oor gemeenskap en plek: Inleiding

deur Victor Correia

In prof. Danie Goosen se boek Oor gemeenskap en plek word verduidelik waarom gemeenskapsverbintenisse wêreldwyd onder die druk van multikulturele globalisme staan. In sy inleidende hoofstuk verwys hy na die kwessie van “spoed” in die moderne lewe. Verbintenisse van ou gemeenskappe word as spoedvertragers beskou wat die individu beperk, terwyl moderne individue teen so hoë as moontlike spoed wil beweeg. Hierdie beweeglikheid het geen eindbestemming nie, maar draai om die individu self wat soveel as moontlik ruimte wil hê vir die uitoefening van sy keuses. Enige verbintenis van familie, huwelik, dorp, volk, kultuur of aan ’n bepaalde gemeenskap word as spoedvertragers beskou. Gemeenskappe hoort hiervolgens tot iets van die verlede en die globale wêreld met al sy oop moontlikhede tot die toekoms.

In die Suid-Afrikaanse konteks het dit daartoe gelei dat baie Afrikaners dit nodig geag het om van hul gemeenskap afskeid te neem. Enige verbintenis tot die verlede word immers as “dislojaliteit teenoor die reënboognasie” beskou en as verteenwoordiger van ’n multinasionale globalisme. Dit het daartoe gelei dat baie Afrikaners wat hul geskaam het oor hul apartheidsverlede, dit nodig geag het om as Afrikaners te bedank. Ten spyte van die oorgrote meerderheid van Afrikaner-akademici en die openbare media se kritiese houding teenoor die “ou gemeenskapsverbintenisse”, wys Goosen op die oplewing van ’n gemeenskapsbewustheid onder Afrikaners. Die geweldige sukses van Bok van Blerk se lied “De la Rey” het Afrikaners weer laat besef dat hulle aan ’n spesifieke gemeenskap behoort. Dit moet volgens Goosen toegeskryf word aan die eeueoue insig dat die mens van nature “’n gemeenskapswese” is.

Hoewel die vloedgolwe van multikulturele globalisme oor die Afrikanergemeenskap gespoel het, is daar nog hoop vir die Afrikaner en vele ander gemeenskappe in Suid-Afrika. Goosen sien raak dat die liberale opvatting van die mens as individu uitgedien is, maar soek nie ’n oorvereenvoudigde oplossing nie. Hy wys daarop dat nie globalisme of fundamentalisme die oplossing kan wees nie. Terwyl die globalisme die plek van die partikuliere gemeenskap ontken, ontken die fundamentalisme weer die plek van die globale gemeenskap.

Goosen meen dat daar erkenning aan beide geskenk moet word in wat hy die “paradoksale gemeenskap” noem. Die paradoksale gemeenskap erken die onderlinge afhanklikheid van gemeenskappe, maar erken dat daar ook grense tussen gemeenskappe moet wees. Die paradoksale gemeenskap word as ’n “sowel as” gemeenskap beskryf, volgens Goosen (2015:23):

sowel deur ’n eie begrensde integriteit (substansie of wese)

as ’n oopstaan vir die andere gekenmerk word.

Die boek bestaan uit vier hoofdele wat DV die volgende paar weke bespreek gaan word:

  1. Monsters en mense
  2. Die tradisionele gemeenskap
  3. Die moderne abstraksie
  4. Gemeenskap in die tussen: Die Afrikaners

Die hoofdoel van die plasings wat hieroor volg, sal wees om die boek se inhoud op ’n bevatlike wyse te bespreek en om saam oor die toekoms van die Afrikanergemeenskap te besin. Neem gerus deel aan die gesprek, lewer kommentaar, kritiek en sê jou sê.

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)


 

Hoofstuk 1 – Onbehae en hoop

Bespreek deur Victor Correia

In hoofstuk 1 van Oor gemeenskap en plek word die onbehaaglike toestand van die moderne wêreld betreur, sonder om in algehele wanhoop te verval. Goosen beskryf die toestand van die moderne wêreld, wat vandag as normaal ervaar word, as die “monsteragtige”. Monsters is volgens hom ’n beeld van die hedendaagse hiper-individualisme of soos daar in Engels gepraat word van die “Me generation”.

Hierdie hiper-individualisme is volgens Goosen so diep in ons samelewing ingeprent dat dit selfs dieper as ideologiese verskille sny. Volgens hom word die neoliberalisme sowel as die neokonserwatisme gekenmerk deur ’n voorkeur vir die individu bo die gemeenskap. Die punt word vandag nog telkemale bevestig. As ’n liberalis hom vervies vir die Afrikanergemeenskap, wil hy daaruit bedank, maar ook die konserwatief wat hom vervies vir die kerk, wil summier daaruit bedank. Dit blyk wel of Goosen ’n geldige punt hier beet het.

Die groot verdelingslyn het volgens Goosen ontstaan in die 16de eeu toe die modernistiese klem op die individu stelselmatig die tradisionele gemeenskapslewe vervang het. Op grond daarvan dat ons vandag so gewoond aan die modernistiese denkwyse is, steek Goosen kers op by die Grieke met die doel om te verstaan hoe ’n gemeenskapslewe gelyk het voor die modernistiese breuk.

In die Griekse mites word melding gemaak van Siklope wat eenkant geleef het en nooit in ander se sake ingemeng het nie. Hierdie monsters was wel nie streng gesproke hiper-individue in die sin dat hulle binne die private sfeer gemeenskapsake nagestreef  het nie, maar hulle het geen belang in gemeenskaplike sake gehad nie. Die private sfeer was vir die monsters die somtotaal van hul gemeenskapslewe. Die mite leef vandag springlewendig voort in die lewens van menigte moderne mense wat hul eie belange bo dié van die gemeenskap plaas.

Die probleem wat Goosen uitlig, is dat hierdie lewe vandag as normaal beskou word. Terwyl die lewe in gemeenskap met ander vir die Grieke as die ‘normale lewe’ beskou was, is die selfsugtige strewe na eie belange die nuwe ‘normaal’, hoewel dit vanuit ’n gemeenskapsperspektief hoogs abnormaal is. Die gevolge van die verandering is wel drasties. Voortaan sou medemense nie meer mekaar se genote wees nie, maar eerder mekaar se kompetisie word. Die monsteragtige aard van die moderne individu vind juis gestalte in die wyse waarop individue teen mekaar wedywer:

Ons kan sê dat die monsteragtige tydens die era van die modernisme normatief vir die menslike strewe geword het. Wat vroeër afgewys is, word nou aangeprys. Waarom? Volgens die modernisme is ’n lewe wat op homself en sy eie individuele belange inkring onontbeerlik vir ekonomiese groei en vooruitgang. Waarom? Want die definiëring van onsself as hiper-individue maak van die andere mededingsters en vyande. En juis daarin – in die ervaring van die ander as mededingster en vyand – lê die onontbeerlikheid van die monsteragtige opgesluit (Goosen, 2015:38).

Die moderne staat en die moderne ekonomie het verdere stukrag hieraan verleen. Goosen brei later in sy boek hieroor uit. Samevattend meld Goosen dat die monsteragtige klem op die individualisme ’n nuwe fase in die menslike geskiedenis is.

Monsters en hul kenmerkende lewenshouding – hiper-individualiteit, absolute keusevryheid – het in die moderne era normatief van die menslike toestand geword. Waarskynlik vir die eerste keer in die geskiedenis van die mens (Goosen, 2015:43).

’n Mens sou instemmend hierop kan antwoord, maar in wanhoop verval. Goosen wys ons egter op ’n ander pad. Die hedendaagse politieke verwikkelinge en veral die opkoms van wêreldwye populistiese bewegings, wys op ’n globale ontevredenheid met die liberale wêreldorde. Goosen (2015:46) beskryf dit as politiek van herinnering. Met herinnering word aangesluit by die verlede, sonder om daarna terug te keer. Die herbesinning oor die verlede moet juis rigtingwysers bied vir die toekoms.

Hoewel Goosen die onbehaaglike toestand van die moderne wêreld raaksien, het sy boek ’n optimistiese of eerder hoopvolle aanslag. Met die agtergrond van die breë Westerse tradisie wil Goosen ons in staat stel om verby die eensydigheid van die hedendaagse kulturele krisis te kom. Hy wil nie teruggaan na die Griekse oudheid of Middeleeue nie, maar met behulp van die lang geskiedenis van die Westerse filosofiese tradisie vir ons wys hoe eensydig die hedendaagse oorbeklemtoning van die individu in vergelyke hiermee is. Trouens kan baie van die siektes van ons tyd aan die bekrompe vashou aan die mens se individualiteit toegeskryf word.

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.