Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog: Deel 4 – Prof. Elirea Bornman

Ekonomiese ontwikkeling

Ekonomiese prosesse van modernisering en ontwikkeling word feitlik deurgaans met die idee van nasiebou geassosieer. Dit is byna vanselfsprekend dat eenheid en harmonie nie binne ’n omgewing van armoede en wanhoop kan bestaan nie. Die nuwe Suid-Afrikaanse leierskap het dit goed verstaan en onmiddellik begin met grootskaalse ekonomiese beplanning ten einde ekonomiese ongelykhede wat aan apartheid toegeskryf word, aan te spreek. Voorbeelde is die SEB (ekonomiese bemagtiging), regstellende aksie, grondrestitusie, grootskaalse behuisingsprojekte vir armes en haweloses, die HOP (Heropbou- en Ontwikkelingsplan) en later ook Gear (Strategie vir Groei, Werkverskaffing en Herverdeling). Baie was verras dat die nuwe regering terselfdertyd op ’n liberale ekonomie en privatisering van sommige van sy bates besluit het. In die eerste 17 jaar van demokrasie is vele positiewe resultate behaal (Voster, 2005). Duisende huise is vir die armes gebou. Die grondrestitusieprogram het daarin geslaag om tot 58 000 van die aanvanklike 70 000 eise wat ontvang is, te verwerk. Swart bemagtiging het vordering gemaak – ook in die landbousektor waartoe baie nuwe swart boere toegang verkry het. Al hoe meer swart mense is in die openbare asook die private sektor in diens geneem en groot bedrae is in die openbare sektor sowel as deur private korporasies aan opleiding bestee.

Die donker kant van die prentjie is egter dat, ten spyte van ’n lewenskragtige, hoogs sigbare en verbale swart middelklas wat geskep is, daar steeds enorme ekonomiese ongelykhede in Suid-Afrika bestaan (Terre Blanche, 2006). Verspreiding van welvaart is van die ongelykste ter wêreld. Alhoewel die armes nie tot ’n bepaalde rassegroep beperk is nie, is die grootste persentasies van lae-inkomstehuishoudings swart of bruin. Hierdie ekonomiese ongelykhede, wat in ’n hoë mate met rasseverdelings ooreenstem, het ’n nadelige uitwerking op nasiebou. Terre Blanche (2006) voer aan dat rasseapartheid deur klasseapartheid vervang is en dat die voortbestaan van armoede onder ’n groot persentasie swart mense in teenstelling met die betreklike welvaart van wit mense ’n ernstige bedreiging vir goeie rasseverhoudinge in Suid-Afrika inhou. Regstellende aksie-programme wat daarop gerig is om swart bemagtiging  te bevorder, word egter dikwels met weerstand begroet. Daar is ook toenemende getalle arm wit mense in Suid-Afrika. Werkloosheid bly uiters hoog en volgens Kingdon en Knight verteenwoordig dit een van die ernstigste sosiopolitieke probleme waarmee die regering te kampe het. Dit kan trouens ’n tydbom wees wat nie alleen demokrasie en bestuur nie, maar ook eenheid en harmonie kan ontwrig en tot ’n ineenstorting van tussengroepverhoudinge kan lei.

Politieke faktore

Na Suid-Afrika se betreklik vreedsame oorgang na ’n demokrasie is die finale Grondwet op 8 Mei 1996 deur die Grondwetlike Vergadering aanvaar. Die belangrikste uitgangspunte van die Grondwet beklemtoon sekere van die kernbeginsels van ‘n burgerlike staat: die eenheid van die Suid-Afrikaanse staat; die erkenning van menswaardigheid en gelykheid van alle mense; die bevordering van menseregte en vryhede; nie-rassigheid en nieseksisme; die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg; stemreg vir alles volwasse burgers; een gemeenskaplike kieserslys vir almal; gereelde verkiesings en ’n veelpartystelsel en demokratiese regering. Die Handves van Regte waarborg boonop aan Suid-Afrikaners vryheid van assosiasie en die reg om hulle huistaal te gebruik en aan die kulturele lewe van hulle keuse deel te neem. Die Grondwet stipuleer egter geen groepsregte nie (Wiechers, 2010). ’n Aantal nuwe nasionale simbole is verder ingevoer om eenheid en patriotisme te skep en die nasiebouprojek te bevorder. Hierdie simbole en die metafoor van ’n reënboognasie, asook die Grondwet, het ’n belangrike rol in die oorgang na ’n demokrasie gespeel. Wiechers (2010) wys egter op ’n aantal tekortkomings in die Grondwet. Vraagstukke wat in die nuwe bedeling kontroversieel geword het, soos die gebrek aan minderheidsregte en die praktyke van regstellende aksie behoort aandag te geniet. Welsh (2010) spreek die kommer uit dat die Grondwet weer eens deur nasionalisme vernietig  sal word – hierdie keer deur Afrika-nasionalisme. Volgens hom het die Groot Depressie van 1930 ’n belangrike rol in die mobilisering van Afrikanernasionalisme gespeel. Op dieselfde wyse kan die huidige ekonomiese afswaai en die groot aantal werkloses weer Afrika-nasionalisme aanwakker. Wessels (2010) wys op die oënskynlike gebrek aan respek wat die regering vir die reg en die Grondwet het en wat weerspieël word in die groot aantal hofsake teen die staat. Die hoë misdaadkoers – en veral die hoë voorkoms van moord en doodslag – impliseer dat die mees basiese reg van Suid-Afrikaners, naamlik die reg op lewe, voortdurend bedreig word.

Ten spyte van die feit dat demokratiese verkiesings deur waarnemers as hoogs suksesvol beskryf word, bestempel ’n kundige soos Giliomee (Adam, 1995) die uitslae as weinig meer as ’n “rassesensus”. Die staat bly hoogs gesentraliseerd met enkele federalistiese neigings. Volgens Brink (2010) baan die unitêre en gesentraliseerde aard van die staat die weg vir die staat om voortdurend in die lewens van burgers in te meng. Aangesien geen finansiële en ander hulpbronne na groepe afgewentel word nie, vind minderheidsgroepe dit baie moeilik om in die nuwe Suid-Afrika hul belange te beskerm, en taal en kultuur te bevorder (Blaser, 2004). Navorsing het ook getoon dat die  nuwe nasionale simbole nie so ’n hoë vlak van aanvaarding geniet soos dikwels veronderstel word nie. Dit blyk ook dat swart mense aansienlik meer waarde daaraan heg as Indiërs, bruin en wit mense wat verder van die setel van mag verwyder is. Die navorsing toon ook dat mense wat sterker met ’n gemeenskap of groep wat deur ’n eiesoortige kultuur gekenmerk word, geïdentifiseer het, in ’n mindere mate met die nasionale simbole identifiseer. Laasgenoemde geld onder meer vir Afrikaanssprekende wit mense. Die Suid-Afrikaanse Grondwet was in werklikheid die enigste faktor waarmee Suid-Afrikaners van alle rasse en etniese groepe hulle sterk geïdentifiseer het.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat, hoewel die oorgang na ’n nuwe politieke bedeling relatief vreedsaam was, daar nie aanvaar kan word dat nasiebou en die vestiging van ’n konstitusionele demokrasie ’n verenigde Suid-Afrikaanse nasie geskep het waar vrede en harmonie heers nie. Sommige van die verdelings in die samelewing het nie verdwyn nie en word in ’n volgende artikel bespreek.


Bostaande artikel is deel van ’n reeks uittreksels uit ’n publikasie van die FAK se NP van Wyk Louw-navorsingsentrum getiteld “Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog”. Die skrywer is Elirea Bornman, professor van die Departement Kommunikasiewetenskap aan UNISA.

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.