Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog: Deel 5 – Prof. Elirea Bornman

  1. Die voortbestaan van subnasionale identifisering

Alhoewel dit waar is dat etniese en rassebewustheid tydens apartheid gemanipuleer en versterk is, kan apartheidsmanipulering volgens Ramsamy (2007) nie ’n verklaring bied vir die voortbestaan van etniese, rasse- en ander identiteite in die postapartheid-Suid-Afrika nie.

Inteendeel, die bekende politieke wetenskaplike, Donald Horowitz, het reeds in 1991 voorspel dat die rasse- en etniese verdelings waarskynlik nie met die aanbreek van ’n demokratiese bedeling sal verdwyn nie. In ooreenstemming hiermee meld nog ’n analis, O’Malley (1994), dat strategieë vir nasiebou en versoening in Suid-Afrika tevergeefs sal wees as die nasionalistiese strewe van etniese groepe nie op grondwetlike en politieke vlak erken word nie.

Verskillende empiriese studies na 1994 dui op die teenwoordigheid van ’n sterk Suid-Afrikaanse identiteit, maar terselfdertyd ook dat etniese, rasse- en ander identiteite gedy (Bornman, 2010).

Die resultate van twee opnames wat in 1994 en 2001 gedoen is, dui nie alleen aan dat ’n Suid-Afrikaanse identiteit saam met etniese en ras-identiteite bestaan nie, maar ook dat daar beduidende verskille tussen die identiteitspatrone wat deur die onderskeie groepe vertoon word bestaan. In 1994 het die drie groepe wat ondersoek is – swart mense, Afrikaans- en Engelssprekende wit mense – ewe sterk met Suid-Afrikaners geïdentifiseer. Afrikaanssprekende wit mense het egter sterker met hul etniese groep (Afrikaners) geïdentifiseer. Wat swart mense betref, het drie belangrike bronne van sosiale identiteit na vore getree: swart mense, Suid-Afrikaners en swart etniese groepe. By al drie groepe was ’n Afrikanistiese identiteit ondergeskik aan hierdie identiteitskategorieë. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat ’n Suid-Afrikaanse identiteit asook hul onderskeie etniese en rasse-identiteite vir al drie groepe belangrik was, alhoewel hul rasse-identiteit minder belangrik vir Afrikaanssprekende wit mense as vir die ander twee groepe was.

Hierdie resultate bevestig Mattes (1999) se waarskuwing dat sosiale identiteite in heterogene state tussen identifisering met die groter politieke gemeenskap wat deur die staat verteenwoordig word en identifisering met subgroepe verskeur is.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat Suid-Afrikaners meervoudige identiteite het. Identifisering met Suid-Afrika sluit nie noodwendig gelyktydige identifisering met subnasionale groepe en/of ’n Afrika-identiteit uit nie. Kontekstuele omstandighede sal waarskynlik bepaal of etniese en rasse-identiteite dominant sal wees of nie en/of dit ’n basis vir groepsmobilisering sal word.

1.1       Verskillende vertakkings vir die historiese geheue van verskillende groepe

Maré (2005) en Ramsamy (2007) skryf die voortgesette bestaan van subnasionale identiteite toe aan die feit dat hierdie identiteite gewortel is in historiese ervarings wat eie is aan ’n bepaalde groep en wat deur alledaagse ervarings versterk word. Alhoewel identiteite van hierdie aard gemanipuleer en gemobiliseer kan word en derhalwe as “denkbeeldig” beskryf kan word, word hierdie groepsverbintenisse nogtans gekoester deur lede veral in gemeenskappe wat marginalisering ervaar en ’n behoefte aan erkenning en verteenwoordiging het. ’n Verdere probleem in Suid-Afrika is die feit dat die historiese herinneringe van verskillende groepe aan verskillende takke hang.

In die Vryheidspark wat in Pretoria gevestig is, is ’n gedenkmuur opgerig om diegene wat tydens konflikte wat in die vorming van die huidige Suid-Afrika ’n rol gespeel het, te gedenk. Toe veteraneorganisasies egter die name voorgelê het van soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) wat tydens die Grensoorlog omgekom het, het die Trust hierdie versoeke geweier, terwyl die name van Cubaanse soldate wat in dieselfde oorlog op Afrikagrond gesneuwel het, wel ingesluit is. Op die ou end is ’n alternatiewe muur, die Suid-Afrikaanse Weermag se Muur van Herinnering, by die Voortrekkermonument opgerig om die SAW-soldate te gedenk wat in die Namibiese/Angolese konflik gesneuwel het. Daar is gevolglik nou twee mure – wat elk verskillende vertakkings van herinneringe, verskillende historiese tradisies, verskillende groepe en miskien ook verskillende beskawings voorstel.

1.2       Afrikaneridentiteit in die postapartheid-era

Afrikaners as ’n groep is waarskynlik die meeste geraak deur die sosiale, politieke en ekonomiese veranderings wat in ’n relatief kort tydperk sedert 1994 plaasgevind het (Blaser, 2004). Die uitwerking van nasiebou, soos dit in Suid-Afrika beoefen word, het boonop die groep in so ’n mate gedemoraliseer dat ’n ontleder, Alistair Sparks, die stelling maak dat Afrikanernasionalisme dood is (aangehaal in Blaser, 2004:192). Verskeie Afrikanerakademici het ongemak, ontevredenheid en hewige weerstand uitgespreek teen nierassigheid en die gebrek aan erkenning van etniese groepe – waaronder Afrikaners – in die nuwe bedeling (Blaser, 2004). Politieke partye met ’n Afrikaner-steunbasis soos die Vryheidsfront (VF) vaar ewenwel nie goed in die nuwe bedeling nie en die meeste Afrikaners verkies skynbaar om vir die veelrassige Demokratiese Alliansie (DA) te stem. ’n Aantal ander organisasies het ook tot stand gekom om Afrikaners, hul identiteit en taal in die nuwe bedeling te ondersteun. Die prominentste en suksesvolste hiervan is waarskynlik die vakbond Solidariteit met al sy filiale wat saam die Solidariteit Beweging vorm.

Op grond van sy navorsing onder Afrikaanssprekende studente aan die Universiteit van Noordwes, Potchefstroom-kampus, voorspel Van der Merwe (2010) dat Afrikaners in die volgende dekade sterk na vore sal tree aangesien nasieboupogings Afrikaners opnuut aangespoor het om hul taal, kultuur en unieke identiteit binne die Suid-Afrikaanse landskap te beskerm.

1.3       Etniese en streeksidentiteite onder ander groepe

Etniese bewustheid kan ook onder ander Suid-Afrikaanse groepe bespeur word (De Haas & Zulu, 2007). Alhoewel Suid-Afrika ’n unitêre staat is, is dit ook in nege provinsies verdeel wat elk in ’n sekere mate die etnolinguistiese verskeidenheid van Suid-Afrika weerspieël (Cornelissen & Horstmeier, 2002). Elkeen van hierdie provinsies verteenwoordig ’n mikrokosmos wat potensieel ’n terrein van etniese identifisering maar ook streeksidentifisering kan wees.

Een van die opvallendste hiervan is die provinsie KwaZulu-Natal wat nie slegs die voormalige Zoeloetuisland insluit nie, maar ook groot getalle lndiër- en Engelssprekende wit inwoners het. Die verkiesing van Jacob Zuma, wat in Zoeloeland gebore is, as president van Suid-Afrika het verder meegehelp om die etniese mobilisasie van Zoeloes te ontlont. De Haas en Zulu (2007) se navorsing dui egter daarop dat baie swart mense wat in KwaZulu-Natal woon – insluitend jong mans en vroue – hulleself nog steeds as Zoeloes beskryf en hierdie identiteit hoofsaaklik met die Zoeloetaal verbind. Baie ander beskou hulself weer eerstens as swart of Afrikane. Hierdie identiteite word dikwels aan koloniale verdrukking gekoppel. Min Zoeloes beskryf hulself egter aan die hand van ’n primêr Suid-Afrikaanse identiteit.

1.4       Sosiale identifisering onder Indiërs

Volgens Ramsamy (2007) word Indiër-identiteit tans deur ambivilensie gekenmerk. Indiër-gebaseerde organisasies soos die Transvaal Indian Congress (TIC) en die Natal Indian Congress (NIC) het nie slegs ’n belangrike rol in die stryd teen apartheid gespeel nie, maar ook gehelp om Indiër-identiteit te versterk. In die postapartheidsera is aangevoer dat die voortgesette voortbestaan van hierdie organisasie ’n bedreiging vir die ANC se beleid van nierassigheid inhou. ’n Vooraanstaande NIC-lid, AK Docrat, het die volgende vraag gevra: “Can you describe yourself as an lndian in the South African context and still claim to be non-racial?” (aangehaal in Ramsamy, 2007:473). Hulle ontbinding het egter nie tot die einde van etniese bewustheid onder Indiërs gelei nie.

Dit is voorts belangrik om daarop te let dat, ten einde die lndiër-stem te wen, die ANC van sy standpunt jeens nierassigheid afgesien het en begin het om te poog om die guns van die Indiër-gemeenskap te wen deur ’n beroep op hul kultuur en etnisiteit te doen. Volgens Ramsamy (2007) is Indiër-etnisiteit in die nuwe bedeling verder aangewakker deur persepsies oor die kwesbaarheid van Indiërs rakende kwessies soos eiendomsreg, werksekerheid, die gehalte van opvoedkundige lndiër-instellings en die manier waarop regstellende aksie beoefen word. Aangesien daar nog nie ’n sterk Indiër-party na vore getree het wat die stem van die meerderheid Indiërs kon werf nie, is Indiërs ook verdeeld wat hul politieke lojaliteite betref. Terwyl die hoër klas wat geweldig deur ANC-beleide bevoordeel is – soortgelyk aan die hoër klasse van ander groepe – vir die ANC stem, is die laer klasse geneig om vir die DA te stem.

1.5       Streeks- en plaaslike identiteite

Die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat tans nie deur die ANC beheer word nie sedert die Demokratiese Alliansie (DA) ’n meerderheid in die 2009-provinsiale verkiesing behaal het. Die Wes-Kaap is ook die enigste provinsie wat ’n provinsiale grondwet aanvaar het, en doelbewus daarna streef om ’n Wes-Kaapse identiteit te bevorder. Die enkele belangrikste bevinding wat Cornelissen en Horstmeier (2002) se navorsing hier getoon het, was dat daar onder die meeste Wes-Kaapse leiers ’n gedeelde diskoers oor ’n Wes-Kaapse identiteit geheers het. Die motief vir hierdie diskoers word toegeskryf aan pogings om die provinsiale regering te versterk en om groter onafhanklikheid van die sentrale regering te verkry. Daar is gevind dat plaaslike en subprovinsiale identiteite – eerder as ’n provinsiale of nasionale identiteit vir gewone mense – belangriker was. Plaaslike identiteite hou verband met lojaliteit aan en bekendheid met die onmiddellike omgewing. Die feit dat baie mense steeds in rasgesegregeerde gebiede woon, het daartoe gelei dat plaaslike identiteite dikwels aan die hand van ras en klas omskryf word.

 

1.6       Gevolgtrekkings

In ooreenstemming met Horowitz (1991) se voorspellings kan die gevolgtrekking gemaak word dat etniese en rasseverdelings en ander vorme van subnasionale identifisering           ondanks die bevordering van nierassigheid en nasiebou nie verdwyn het nie. Volgens Kymlicka (1995) kan ’n sterk identifisering met Suid-Afrika onder minderheidsgroepe ook dui op patriotisme en getrouheid aan die land wat hulle as hul geboorteland beskou, eerder as identifisering met die staat of die oorkoepelende Suid-Afrikaanse nasie. In die regte omstandighede sal etniese mobilisering egter waarskynlik altyd ’n moontlikheid in die heterogene Suid-Afrika wees.

 

  1. Tussengroepverhoudinge in die postapartheid Suid-Afrika

Volgens Reicher (2004) hou sosiale identifiseringsprosesse verreikende gevolge in vir die wyse waarop mense teenoor lede van hul eie groep asook lede van ander groepe optree. Die voortgesette voorkoms van etniese en rasse-identiteite in Suid-Afrika word waarskynlik nêrens beter geïllustreer as deur die hardnekkige voorkoms van rassisme nie.

2.1       Ervarings van rassisme

Ramsamy (2007) illustreer hierdie punt deur Indiërs se ervarings van rassisme in postapartheid-Suid-Afrika. Aangesien Indiërs tydens die stryd teen apartheid bondgenote van die ANC was, was die oorgrote meerderheid van die lndiër-gemeenskap in 1994 optimisties oor hulle toekomsgeleenthede in Suid-Afrika. Hulle het vas geglo dat die rasseskeiding tussen Indiërs en swart mense te bowe gekom is en nie meer in die toekoms enige rol sou speel nie. Dit was egter nie die geval nie. Ramsamy (2007) verwys na voorbeelde van xenofobiese stellings wat onder meer deur swart redakteurs in koerantberigte gemaak is asook deur die voormalige leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, wat in ’n 2011-toespraak na Indiër-kinders as “koeliekinders” verwys het.

Op soortgelyke wyse kla Afrikaners ook oor rassisme jeens dié groep wat toenemend voorkom met oortreders wat ongeskonde daarvan afkom.

Bepaalde regeringsbeleid soos regstellende aksie ontlok ook rasgegronde reaksies met baie Afrikaanssprekende wit werkers wat dit as omgekeerde diskriminasie ervaar. Indiër en bruin werkers beleef regstellende aksie ook as rassisties en Cornelissen en Horstmeier het bevind dat deelnemers in fokusgroepe van mening was dat regstellende aksie hulle van geleenthede ontneem het.

Misdaad is nog ’n vraagstuk wat dikwels met rassisme in Suid-Afrika in verband gebring word (Vorster, 2005) en alhoewel politieke geweld beperk is, het misdaadsyfers die hoogte in geskiet. Wanneer lede van minderheidsgroepe die slagoffers is van gewelddadige misdaad soos moord of ernstige fisiese beserings, word die term “etniese suiwering” dikwels opgehaal, veral waar dit in landelike gebiede plaasvind.

2.2       Navorsing oor tussengroepverhoudinge

Studies wat gedurende, sowel as direk na die apartheidsera gedoen is, dui op betreklik positiewe verhoudinge tussen swart mense en Engelssprekende wit mense, maar negatiewe verhoudinge tussen Afrikaanssprekende wit mense en swart mense en vice versa.

Opmerklike veranderings in tussengroepgesindhede is egter in meer onlangse studies aangeteken (Bornman, 2011). In ’n oorsig van die resultate van ’n aantal studies kom Durrheim, Tredoux, Foster en Dixon (2010) tot die gevolgtrekking dat vooroordeel onder wit mense afgeneem het, maar redelik konsekwent onder swart mense gebly het.

Gibson en Claasen (2010) het in 2001 en 2004 response op ’n reeks van nege vrae oor tussengroepverdraagsaamheid en versoening gemeet in twee studies waarby groot steekproewe betrek is. Hulle som die resultate as volg op: enkele positiewe veranderings is onder wit mense en bruin mense waargeneem, terwyl sterk positiewe veranderings onder Indiërs aangetref is. Swart mense het egter negatiewe veranderings in vooroordeel jeens wit mense getoon.

In ’n vergelyking deur Bornman (2011) van die resultate van drie landswye opnames wat in 1998, 2001 en 2009 gedoen is, blyk die opvallendste bevindings te wees die negatiewe houdings van Afrikaanssprekende wit mense jeens swart mense en omgekeerd. Nog ’n belangrike bevinding is dat die houdings van swart mense jeens Engelssprekende wit mense nie meer so positief was as tydens apartheid nie.

2.3       Gevolgtrekking

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die aanbreek van demokrasie en gelykheid asook strategieë gerig op die bevordering van nasiebou (nog) nie daarin geslaag het om ’n harmonieuse en verenigde Suid-Afrikaanse samelewing te skep nie. Tussengroepspanning blyk steeds deel van die daaglikse bestaan te wees. In sommige gevalle blyk dit dat omstandighede in die nuwe bedeling daartoe gelei het dat rasseverhoudinge eerder versleg as verbeter het.

 


Bostaande artikel is deel van ’n reeks uittreksels uit ’n publikasie van die FAK se NP van Wyk Louw-navorsingsentrum getiteld “Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog”. Die skrywer is Elirea Bornman, professor van die Departement Kommunikasiewetenskap aan UNISA.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.