Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog: Deel 6 – Prof. Elirea Bornman

Nasiebou in Suid-Afrika: die pad vorentoe

Hierdie artikel is die laaste in ’n reeks deur prof. Elirea Bornman van die Departement Kommunikasiewetenskap aan Unisa. Die artikels is vir plasing voorberei deur die NP van Wyk Louw-navorsingsentrum van die FAK.

Die Suid-Afrikaanse samelewing is na sowat 20 jaar van demokrasie steeds ’n erg verdeelde en heterogene samelewing. Alhoewel nasieboustrategieë oënskynlik daarin geslaag het om ’n betreklik sterk Suid-Afrikaanse identiteit onder die meeste groepe te vestig, het etniese, rasse- en ander vorms van subnasionale identifisering nie verflou soos gehoop of verwag is nie. In sommige gevalle het hierdie identiteite selfs sterker geword as gevolg van die magsposisie wat bepaalde groepe in die nuwe bedeling beklee en in ander gevalle as gevolg van gevoelens van marginalisasie en kwesbaarheid. Die sterk hand waarmee die ideologie van nierassigheid deur die ANC-regering beoefen word, het in ’n hoë mate daarin geslaag om etniese mobilisering op ’n politieke vlak te onderdruk. Dit beteken nie noodwendig dat alle groepe tevrede is met omstandighede in die nuwe bedeling of dat die regering daarin geslaag het om ’n verenigde nasie te skep wat deur sosiale harmonie en positiewe tussengroepverhoudinge gekenmerk word nie. Dit is eerder ’n geval dat spanning onder die oppervlak aan die broei is. ’n Belangrike vraag is hoe lank die regering in staat sal wees om spanning, wat met die diversiteit van die bevolking verband hou, te beheer en hoe lank dit sal duur voordat hy gedwing sal word om hierdie diversiteit strategies te hanteer.

Die model van ’n multinasionale staat pas waarskynlik baie beter by die Suid-Afrikaanse samelewing as by die burgerlike of nasiestaatmodel waarin gestreef word om ’n enkele homogene nasie te skep. Die bekende Kanadese ontleder, Will Kymlicka (2003), identifiseer ’n aantal kerneienskappe van ’n multinasionale of multikulturele staat:

  • Eerstens verwerp ’n multinasionale staat enige idees dat die staat aan ’n enkele, homogene groep of enige meerderheidsgroep wat binne die grense van die staat woon, “behoort”. Dit is belangrik dat mense waarneem dat die staat aan al sy burgers, insluitend alle rasse-, etniese en kultuurgroepe en ook minderheidsgroepe, behoort. Dit beteken dat burgers nie hul etniese of ander identiteite hoef weg te steek of te ontken ten einde toegang te verkry tot alle dienste wat die staat bied nie.
  • Die staat het die verpligting om aan die geskiedenis, taal en kultuur van minderheidsgroepe dieselfde erkenning en ruimte as aan dié van die meerderheidsgroep of -groepe te verleen.
  • In ’n multinasionale staat word voorts erkenning gegee aan enige ongeregtighede wat enige groepe aangedoen is en die staat behoort ’n gewilligheid te openbaar om een of ander vorm van herstel of regstelling te bied.

Sowel Kymlicka (2003) en Derso (2008) sê dat daar nie ’n enkele resep bestaan wat die aspirasies van alle groepe in ’n bepaalde multinasionale samelewing sal bevredig nie. Daar word dus onderskei tussen twee groepe: een met ’n sterk gevoel van identiteit en ’n eiesoortige taal en kultuur wat streef na een of ander vorm van outonomie en ’n ander wat dalk nie na outonomie streef nie, maar nogtans ’n behoefte het dat hulle die reg het om hul kultuur en taal te beoefen en/of dat enige vorm van diskriminasie verwyder word wat in die weg staan van hul volledige integrasie en deelname aan die breë samelewing en hul aanvaarding as volwaardige burgers. Vir die meeste groepe is die reg op kultuur, met ander woorde die reg om hul eie kultuur te beoefen en in hul eie taal onderrig te word, baie belangrik (Dersso, 2008). Dit beteken egter dat die unitêre en eentalige staat deur ’n multinasionale en veeltalige staat vervang behoort te word. Dit beteken onder andere dat burgers daarna streef om deur middel van verskillende vorms van multikulturele burgerskap verskillende verhoudings met die staat te hê. Ten einde ’n multinasionale en multikulturele staat te word, behoort ’n staat homself derhalwe te transformeer om ruimte vir verskillende vorms van multikulturele burgerskap te skep. Hierdie vorms van multikulturalisme ontken egter nie dat ’n mate van eenheid steeds behoue bly en dat burgers hulself steeds vir sommige doeleindes as lede van die groter nasie sal beskou nie (Kymicka, 1995). Internasionale ervaring toon dat regerings en hul opponente hul strategieë slegs na ’n proses van uitgerekte en bitter ondervindings sal verander. Dit is hoogs waarskynlik dat dieselfde in Suid-Afrika sal gebeur en dat daar nog ’n lang en moeilike pad voorlê voordat oplossings bereik word wat in die behoeftes van alle groepe sal voorsien.

Oorkoepelend kan die gevolgtrekking gemaak word dat Suid-Afrika steeds ’n lang pad voor hom het ten einde ’n waarlik multinasionale, multikulturele en veeltalige staat te word. Volgens Naude (2010) behoort die eerste stap op hierdie pad te wees om ten volle erkenning te gee aan die diversiteit van die Suid-Afrikaanse bevolking op alle vlakke van die samelewing – van die hoogste politieke vlakke en op elke vlak van die openbare sektor en die regering tot by die mikrokosmos van plaaslike gemeenskappe. Hierdie pluralisme behoort ook nie as ’n bedreiging nie, maar as een van die grootste bates van die land beskou te word. Slegs dan sal dit moontlik wees om strategieë en beleide te ontwikkel wat in die behoeftes van alle groepe sal voorsien. In die bevordering van ’n meer realistiese siening van die Suid-Afrikaanse samelewing en die Suid-Afrikaanse “nasie”, asook die erkenning van die diversiteit op verskeie vlakke, sal die Suid-Afrikaanse media sy rol om eenheid aan te moedig, moet aanpas deur ook ’n breë gesprek oor die brandende vraagstukke wat met die aspirasies van die onderskeie groepe in Suid-Afrika verband hou, te bevorder.


Bostaande artikel is deel van ’n reeks uittreksels uit ’n publikasie van die FAK se NP van Wyk Louw-navorsingsentrum getiteld “Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog”. Die skrywer is Elirea Bornman, professor van die Departement Kommunikasiewetenskap aan UNISA.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.