Die toekoms van skoolgeskiedenis – Mnr. Daan Potgieter

Mnr. Daan Potgieter

Die FAK en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het tydens ‘n onlangse oggendsimposium die tema “Die toekoms van skoolgeskiedenis” onder die loep geneem. Dit is gedoen in die lig van die Departement van Basiese Onderwys se voorneme om ‘n nuwe Geskiedeniskurrikulum vir skole daar te stel en ook teen 2023 Geskiedenis as skoolvak verpligtend tot Graad 12 te maak.

In hierdie aanbieding kyk meneer Daan Potgieter (oudskoolhoof van Waterkloof Hoër en nuutaangestelde uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk) na die toekoms van geskiedenis as skoolvak.


Die toekoms van geskiedenis en die Afrikaanse Onderwysnetwerk

Meneer Daan Potgieter

Die toekoms van Geskiedenis as skoolvak is vandag meer as ooit tevore onder die soeklig. Die rede hiervoor is die bekendstelling van die verslag van die ministeriële taakspan wat in 2015 in die lewe geroep is om te besluit of Geskiedenis ‘n verpligte skoolvak vir leerders in Grade 10 tot 12 moet word. Die Taakspan het bevind dat Geskiedenis inderdaad ‘n verpligte vak moet word, en dat dit Lewensoriëntering moet vervang. Voorts moet die departement van basiese onderwys ‘n vyfjaarperiode gegun word om voorbereidings te tref vir die implementering van Geskiedenis as ‘n verpligte vak. Die voorgestelde implementeringsdatum is dus 2023.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het aangedui dat sy die bevindings van die taakspan sal ondersteun.

Met hierdie aankondiging kan die afleiding gemaak word dat Geskiedenis nie net ‘n rooskleurige toekoms tegemoet loop nie, maar dat die bestaande uitdagings om die vak aan te bied spoedig iets van die verlede sal wees. Dit is derhalwe heel verstaanbaar dat die aankondiging uit sommige oorde met applous begroet is. Ander stemme het egter twyfel uitgespreek oor die departement se vermoë om die beoogde inisiatief susksesvol te implementeer. Kritici wys onder andere na die poging om Afrikatale (tweede addisionele tale) in laerskole te implementeer – ‘n goeie idee wat skipbreuk gelei het vanweë gebrekkige kapasiteit in die departement van basiese onderwys.

Dit is duidelik dat die taakspan se bevinding bepaalde uitdagings skep en belanghebbende partye noop om oor die toekoms van Geskiedenis te besin, net soos in die geval met die politieke oorgang in 1994.

Om ‘n voorspelling oor die toekoms van Geskiedenis as vak te waag is dit nodig om veral drie faktore in ag te neem.

Eerstens, die kwaliteit en aantal onderwysers as vakkundiges

Tydens die verandering aan die kurrikulum oor ten minste die laaste dekade het die grondslag van Geskiedenis merkbare skade gelei. Menslike en Sosiale Wetenskappe vorm tans die basis, terwyl Geskiedenis dikwels afgeskeep word as dit by periode-indeling kom. Die situasie word vererger deur onderwysers wat nie onderlê is in Menslike en Sosiale Wetenskappe nie. Dikwels word dit aan die jong onderwyser toevertrou bloot om sy of haar periodetoewysing vol te maak. Dit gebeur ondanks die feit dat die onderwyser geen indiepte-kennis het nie.

Daar is ‘n wesenlike gevaar dat Geskiedenis toenemend onder dieselfde juk gebuk kan gaan. So byvoorbeeld het die Universiteit van Johannesburg in 2017 navorsing oor die opleiding van Geskiedenisonderwysers gedoen. Daar is bevind dat onderwysers wat die vak behoorlik kan aanbied oor die afgelope dekade geweldig afgeneem het.

‘n Primêre rede vir hierdie toedrag van sake is die siening dat die vak nie ekonomiese waarde bied nie. Die verwagting is dat leerders vir die wêreld van werk voorberei moet word, met ander woorde deur vakke te kies wat hul sal toelaat om ‘n pos in ‘n hoogs kompeterende arbeidsmark te bekom. In ‘n land wat gekenmerk word deur ‘n hoë werkloosheidsyfer en ‘n krimpende ekonomie is daar diegene wat dit as absoluut essensieel beskou. Geskiedenis vorm uiteraard nie deel van sodanige vakke nie.

 

Dit is interessant om daarop te let dat die vak tog onteenseglik daarin slaag om bepaalde vaardighede te ontwikkel. Kritiese denke, analitiese vermoëns en kommunikasie is maar enkele van dié vaardighede. Terwyl daar na ander studievelde (geneeskunde is ‘n voorbeeld) as sogenaamde gereedskapkisgrade verwys word, geniet Geskiedenis steeds op internasionale vlak erkenning as “intellectually stimulating”. Die feit van die saak is dat Geskiedenis daarin slaag om vaardighede te ontwikkel wat is op vele ander terreine toepaslik.

Tesame met die bovermelde is die toelatingsvereistes om Geskiedenis op tersiêre vlak te neem van so ‘n aard dat dit moeilik is om hoë kaliber studente te keur. In die meerderheid van gevalle neem studente die vak sonder dat hulle dit op skool gehad het. Die meeste studente beplan ook nie om hulle as onderwysers te bekwaam nie. Dit is dus nie net die vak wat skade lei nie, maar ook die leerders, aangesien opvoedende onderwys geensins gedien word nie.

Hierdie toedrag van sake is natuurlik verdoemend vir die toekoms van Geskiedenis as vak.

Tweedens, die befondsing van universiteite.

Die taakspan het bevind dat dit nodig sal wees om Geskiedenisonderwysers op te lei en te ontwikkel. Die verslag verskaf egter nie voldoende inligting om te bepaal hoeveel addisionele onderwysers benodig sal word nie. Wat wel soos ‘n paal bo water staan is dat die uitdagings wat universiteite (en dus ook Opvoedkunde Fakulteite) in die gesig staar in terme van befondsing, dit uiters moeilik sal maak om personeel te bekom om nuwe onderwysers op te lei. Universiteite neig om eerder klem te plaas op die sogenaamde ”kritiese vakke”, terwyl Geesteswetenskappe verwaarloos word. Die kanse dat hierdie situasie gaan verander, is skraal. Dit beteken dat ‘n nuwe geslag Geskiedenisonderwysers bloot ‘n droom gaan bly.

Derdens, die afskaling van Geskiedenis

‘n Struikelblok in die groei van Geskiedenis in die laer grade is die afskaling van die vak as gevolg van die Kurrikulum- en Asseseringsbeleidverklaring. Die kurrikulum soos dit tans daar uitsien, vervreem leerders. Hulle beskou die vak as nie ”koel” nie, en vind geen aanklank by temas wat bespreek word nie. Die herhaling van temas dra ook by tot leerders se siening dat die vak hulle nie uitdaag of vir ‘n loopbaan voorberei nie.

Dit is natuurlik ook so dat die blaam nie net voor die kurrikulum se deur gelê kan word nie. Dikwels het onbekwame onderwysers ook ‘n rol te spel.

Geskiedenis kan en het gegroei

Daar is duidelike tekens dat die vak in sekere skole gegroei het. In skole waar dit wel die geval is, is ‘n aantal gemeenskaplike faktore teenwoordig:

  • Skoolbestuur ondersteun die vak en die belangrikheid van historiese gebeure word beklemtoon.
  • ‘n Sterk organisasiekultuur word gevestig.
  • Tradisies word gehandhaaf en ondersteun.
  • Bekwame personeel met ‘n passie vir geskiedenis bied die vak aan.

Statistiek bewys dat daar uit die 147 668 leerders (nagenoeg 27% van matrikulante wat die eksamen in 2017 afgelê het) wat Geskiedenis as vak geneem en eksamen daarin afgelê het, 86% die vak geslaag het.  Hiervan het 4,5% ‘n A-simbool behaal.  In vergelyking hiermee het daar 204 849 leerders Besigheidstudies as vak geneem. Dit is sowat 11% meer as Geskiedenis, maar slegs 68% het die vak geslaag met 1.1% wat onderskeidings behaal het.  Die tendens seders 2013 strook met die statistiek in 2017.

Die toekoms van geskiedenis

Die bevindings van die ministeriële taakspan skep ‘n geleentheid vir Geskiedenis as skoolvak om te groei en te ontwikkel.

Daar sal egter eers debat gevoer, en konsensus bereik moet word oor die kurrikulum en die onderwys-metodologie. Suid-Afrika se historiese en huidige diversiteit is van so ‘n aard dat geen leerder mag voel sy of haar geskiedenis word uitgesluit nie, of dat daar te veel klem op sekere gebeure of temas geplaas word.

‘n Werkkomitee wat die volle spektrum van Suid-Afrika se geskiedenis verteenwoordig, sal die kurrikulum moet ontwikkel. Dit is ononderhandelbaar indien ons die foute wat in die verlede gemaak is wil vermy en nasiebou wil bevorder.

As die kurrikulum aanvaarbaar en aantreklik vir leerders en student is, as die waarde van Geskiedenis duidelik is en voortdurend deur bekwame en passievolle onderwysers ontwikkel word, kan die vak ‘n blink toekoms hê.


Bostaande referaat is aangebied op ‘n onlangse simposium gehou deur die FAK, in samewerking met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die tema van die simposium was: “Die toekoms van Skoolgeskiedenis”.

 

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.