Die toekoms van skoolgeskiedenis – Prof. Anton van Vollenhoven

Prof. Anton van Vollenhoven

Die FAK en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het tydens ‘n onlangse oggendsimposium die tema “Die toekoms van skoolgeskiedenis” onder die loep geneem. Dit is gedoen in die lig van die Departement van Basiese Onderwys se voorneme om ‘n nuwe Geskiedeniskurrikulum vir skole daar te stel en ook teen 2023 Geskiedenis as skoolvak verpligtend tot Graad 12 te maak.

In hierdie aanbieding kyk professor Anton van Vollenhoven (professor by die Noordwes Universiteit en ook verbonde aan Archaetnos Argeoloë) na die moontlike risiko of voordele verbonde aan argeologie as deel van die toekomstige kurrikulum.

 

 

 


ARGEOLOGIE AS DEEL VAN DIE TOEKOMSTIGE KURRIKULUM: GELEENTHEID OF RISIKO?

Professor Anton van Vollenhoven

Inleiding

Die Ministeriële Taakspan vir Geskiedenis is onder meer saamgestel om die gebrek aan ’n historiese bewussyn onder die jeug aan te spreek. Die geskiedeniskurrikulum is reeds in die verlede aangepas, eers om van apartheidsinhoud ontslae te raak, later om die grense tussen vakdissiplines te verwyder en nog later om heropbou en versoening te beklemtoon. Tans is die inhoud van die geskiedenisleerplan gefokus op inhoud wat burgerskap bevorder. Afrikageskiedenis skiet egter steeds te kort.

’n Verdere bekommernis is dat geskiedenis op skool ook ander gebreke het, waaronder veral die kwaliteit van die kurrikulum. Klem is daarop geplaas dat geskiedenis nie gebruik moet word vir politieke doeleindes nie en dat die rol wat dit kan vervul in die ontwikkeling van kritiese denke beklemtoon moet word.

Die mandaat van die taakspan was:

  • om te adviseer of geskiedenis vir die laer grade verpligtend moet wees;
  • om te adviseer of geskiedenis deel van ’n ander vak in die leerplan moet wees (bv. lewensoriëntering);
  • om die inhoud en pedagogiek van die geskiedeniskurrikulum te hersien en
  • om die implikasies van die moontlikheid dat geskiedenis ’n verpligte vak word, te ondersoek.

Een van die gevolge van die Verslag van die Ministeriële Taakspan vir Geskiedenis[1] is dat argeologie, of dan onderwerpe met ’n onderbou vanuit die argeologie, tot die geskiedeniskurrikulum toegevoeg moet word. Gevolglik is dit nodig om van die toepaslike historiese wetenskappe uiteen te sit, sodat daar begryp kan word hoe dit by mekaar inskakel. Hierdie wetenskappe verwys na geskiedenis, argeologie en erfenis.

Die verband tussen geskiedenis, argeologie en erfenis

Die bedoeling is nie hier om enige van hierdie drie vakgebiede te definieer nie, maar bloot om ’n idee te gee van die algemene verstaan van waaroor elke vakgebied gaan. Erfenis, oftewel erfenisbestuur, word ingesluit vanweë die sterk verband wat dit met beide geskiedenis en argeologie het.

Wat is geskiedenis?

In kort kan geskiedenis beskou word as die studie van die menslike verlede. Dit maak van historiese bronne gebruik en fokus hoofsaaklik op dokumente, maar soms gebruik dit ook mondelingse getuienisse.

Wat is argeologie?

Argeologie kan eweneens beskou word as ’n studie van die menslike verlede. Ook hierdie vakgebied maak van historiese bronne gebruik. In hierdie geval is die fokus hoofsaaklik op die materiële getuienis (artefakte, strukture, ens.), m.a.w. dit wat in of op die aardoppervlakte nagelaat is. Mondelingse getuienisse word ook dikwels gebruik, terwyl historiese argeoloë weliswaar ook dokumente benut.

Wat is erfenis (bestuur)?

Erfenis of erfenisbestuur vorm ’n integrale deel van geskiedenis en argeologie aangesien beide hierdie vakdissiplines belangrik is in die bestudering van erfenis, hoewel erfenisbestuur uit die vakgebied argeologie ontwikkel het. Erfenis vorm ’n belangrike deel van ons kollektiewe historiese kennis en kan inderwaarheid as ’n toepassing van geskiedenis en argeologie beskou word.

Samevatting

Die vraag wat gevolglik beantwoord moet word is of argeologie dan wel geskiedenis is? Uit die voorafgaande is dit duidelik dat geskiedenis, argeologie en erfenis historiese dissiplines is en dat dit die verlede, veral soos daargestel deur mense, bestudeer.

 

Beide argeologie en geskiedenis probeer die verlede rekonstrueer en verklaar en strewe daarna om dit so volledig en akkuraat as moontlik te doen. Omdat beide met onvolledige bewysmateriaal werk, maak dit sin dat die twee vakdissiplines aanvullend tot mekaar benut behoort te word.

Die gevolgtrekking is dat argeologie niks anders as geskiedenis is nie. Verskeie geskiedenispublikasies wat in die laaste kwart van die twintigste eeu verskyn het, het dan juis ’n hoofstuk oor voorgeskiedenis ingesluit. Die argeologie maak egter gebruik van ’n bykomende databasis, nl. dit wat in of op die aardoppervlakte gevind kan word.

Uiteensetting van Suid-Afrikaanse argeologie

Om Suid-Afrikaanse argeologie te verstaan, is dit nodig dat die Suid-Afrikaanse kultuurkonteks kortliks verduidelik word. Die Suid-Afrikaanse kultuurkonteks word in drie tydperke verdeel, nl.:

  • Die Steentydperk
  • Die Ystertydperk
  • Die Historiese periode

Die Steentydperk

Die Steentydperk is die periode in menslike geskiedenis waarin daar hoofsaaklik van klip gebruik gemaak is om werktuie te vervaardig. In Suid-Afrika word die Steentydperk in drie periodes verdeel, maar dit is belangrik dat daarvan kennis geneem sal word dat die datums relatief is en bloot ’n breë raamwerk daarstel. Navorsing word deurgaans gedoen en die datums word gevolglik gedurigdeur verander.

Die indeling van die Steentydperk is soos volg:

  • Vroeë Steentydperk (VST) 2,6 miljoen – 150 000 jaar gelede
  • Middel Steentydperk (MST) 150 000 – 30 000 jaar gelede
  • Latere Steentydperk (LST) 40 000 jaar gelede – 1850 n.C.

Die grootste hoeveelheid van die rotskuns van Suid-Afrika, word met die San- en Khoimense van die LST verbind. Rotskuns kan twee vorme aanneem, nl. rotsskilderinge of rotsgravures. Steentydperkterreine word dikwels in grotte of onder oorhangende kranse aangetref, maar sogenaamde oop terreine is ook al geïdentifiseer.

Die Ystertydperk

Die Ystertydperk is die benaming wat aan die tydperk in die menslike geskiedenis gegee word, waar mense hoofsaaklik van metaal gebruik gemaak het om werktuie te vervaardig. Hierdie mense het dus oor die vermoë beskik om metaal te smelt en/of te bewerk.

Dit kan in die grootste gedeelte van Suid-Afrika in twee fases verdeel word, nl.:

  • Vroeë Ystertydperk (VYT) 200 – 1000 n.C.
  • Laat Ystertydperk (LYT) 1000 – 1850 n.C.

In die verre Noordelike dele van die Limpopo Provinsie word daar ook ’n Middel Ystertydperk onderskei.  Die datums in hierdie gebied is soos volg:

  • Vroeë Ystertydperk (VYT) 250 – 900 n.C.
  • Middel Ystertydperk (MYT) 900 – 1300 n.C.
  • Laat Ystertydperk (LYT) 1300 – 1840 n.C.

Ook in hierdie geval moet daar onthou word dat daar deurlopend navorsing gedoen word en dat die datums dienoorkomstig aangepas word. Die oorvleueling in datums is omdat verskillende groepe op dieselfde tydstip oor verskillende stadia van tegnologiese vermoëns beskik.

Laat Ystertydperkterreine word hoofsaaklik met die voorsate van die huidige Bantutaalsprekende mense in Suid-Afrika verbind. Die grootste gedeeltes van die Wes- en Noord-Kaap is nooit deur hierdie mense bewoon nie.

Daar is nog nie veel van die VYT-terreine gevind nie.  Dit wil voorkom asof hierdie terreine hoofsaaklik naby aan water geleë is. Latere terreine word in oorvloed aangetref, gewoonlik op of teen die hange van hoogliggende gebiede (berge, koppies, heuwels). Dit bestaan gewoonlik uit klipmure omdat hierdie mense van klip gebruik gemaak het om krale en ander strukture te bou.

Potwerk is van klei gemaak en die verskillende versierings daarop help om die kultuurverband en verspreiding van groepe te bestudeer. ’n Groot hoeveelheid potwerk word gevolglik ook dikwels op terreine aangetref.

Die Historiese periode

Die Historiese periode begin met die eerste mondelinge oorleweringe i.v.m. die geskiedenis van groepe mense in Suid-Afrika. Hierdie oorleweringe is dikwels deur antropoloë gedokumenteer. Dit sluit ook die koms van mense in, wat oor die vermoë om te skryf en lees beskik het. Dit beteken dus dat daar benewens dit wat in die aardoppervlakte oorgebly het (argeologiese reste), daar ook historiese bronne bestaan (geskrifte en oorleweringe) wat gebruik kan word om die geskiedenis na te vors. Die tydperk staan dikwels ook bekend as die Koloniale era of die resente verlede.

Faktore soos die groei in populasies en ’n afname in sterfgetalle het daartoe gelei dat Suid-Afrika deur veel meer mense as ooit vantevore bewoon is. Gevolglik is daar ’n baie groter aantal kultuurerfenisterreine wat met hierdie tydperk verbind kan word as met enige van die ander.

Wat staan in die taakspan se verslag t.o.v. argeologie?

Die Verslag van die Ministeriële Taakspan vir Geskiedenis raak verskeie onderwerpe wat d.m.v. die argeologie bestudeer word aan. In kort kom dit daarop neer dat argeologie benut moet word om die geskiedenis van Suid-Afrika (beter) te vertel.

Wat is reeds in die kurrikulum?

Onderwerpe wat met die argeologie verband hou en reeds in die kurrikulum vervat word, sluit onder meer die volgende in:

  • Die Wieg van die mensdom
  • Egipte, m.a.w. die antieke geskiedenis van Noord-Afrika
  • Melding word gemaak van argeologie in Noord-, Wes- en Oos-Afrika, as bewys van prekoloniale sentrums wat onafhanklik van buite-invloede ontstaan het
  • Erfenis
  • Slegs in voetnote word daar verwys na komplekse Tswana-nedersettings in die noorde van die RSA

Kritiek teen die kurrikulum

Dit sou onmoontlik wees om volledig die taakspan se kritiek teen die kurrikulum hier te herhaal. Daar word dus volstaan met enkele belangrike gedagtes.

Eerstens is die gevoel dat daar nie wyd uiteenlopende vrae gevra word nie. Voorts ontbreek daar ’n waardering vir die verskillende skale van tyd (m.a.w. van miljoene jare tot enkele resente gebeure). Gevolglik word chronologie nie werklik verstaan nie. ’n Verdere kritiek is dat dit nie nasionalisme beklemtoon nie.

Sekere aspekte van die geskiedenis in die kurrikulum word buite konteks weergegee. As voorbeeld dien die geskiedenis van Noord-Afrika. Dit word onder andere verduidelik dat daar geen agtergrondsinligting gegee word om die ontwikkeling van die kameelhandel te begryp nie. Derhalwe is daar ook geen begrip wat geskep word van hoe dit plaaslike gemeenskappe beïnvloed het nie en dat die Islamgodsdiens daardeur versprei het nie. Die gevolg hiervan is dat dit suggereer dat Noord-Afrika altyd Islamities was. Verder verduidelik dit nie hoe die kultuur en godsdiens vanuit die gebied oos van die Middellandse See, hierdie areas verander het nie.

Die kurrikulum fokus voorts ook nie genoegsaam op Suider-Afrika nie. So kry die transatlantiese slawehandel meer aandag as die Indiese Oseaan-slawehandel, terwyl laasgenoemde ’n direkte verband met Suider-Afrika het en eersgenoemde nie. Die gebrek aan sekere inligting (en bronnemateriaal) beteken dat leerders geforseer word om hulle geskiedenis deur Europese en Amerikaanse lense te verstaan. So word die kolonisasie van Suider-Afrika gedurende die sewentiende eeu behandel,  sonder om aan te dui hoe Afrika voor daardie tyd uitgesien het. Dit lyk dus asof Afrika geen geskiedenis gehad het voor die koms van Europeërs nie. Hierdeur word konsepte soos die Europese ‘empty-land thesis’ gekonsolideer.

Wat moet tot die kurrikulum bygevoeg word en waarom?

Die belangrikste onderwerpe wat vermeld word as onderwerpe wat tot die kurrikulum toegevoeg moet word, sluit onder andere menslike evolusie in. Hoewel die Wieg van die Mensdom tans in die geskiedeniskurrikulum voorkom, is die gevoel dat die evolusie van die mens onderbeklemtoon word en gevolglik nie begryp word nie. As gevolg van hierdie tekortkoming is die geleentheid verspeel om die belang van Afrika aan te toon. Die toevoeging hiervan sal voorts bydra om ’n waardering te gee van die diepte van tyd.

Die opwinding wat argeologie kan bied (van ontdekkings in grotte, molekules in gebeentes, tot groot antieke bouwerke) word gesien as iets wat belangstelling in geskiedenis in die hand sal werk en waardeur leerders meer blootstelling t.o.v. beroepsmoontlikhede kan kry. Inligting oor slawerny moet bygevoeg word asook die bydrae wat molekulêre inligting in hierdie verband kan bied. Voorts moet terreine en voorwerpe van verset beklemtoon word.

Omdat die verbintenis met geskrewe bronne die indruk skep dat die geskiedenis van Afrika net d.m.v. die rekords van ‘buitelanders’ vertel kan word, moet die inheemse kennis, soos veral verkry uit die argeologie, benut word. Hierdeur sal die indruk dat Afrika geen geskiedenis gehad het voor die koms van buitelandse invloed nie die nek ingeslaan word. Tans word die bevooroordeeldheid en beperkinge van bestaande geskrewe bronne nie uitgewys nie en ook dít moet reggestel word.

Sommige van die onderwerpe wat voorgestel word, het ’n sterk argeologiese onderbou. Hieronder tel jagter-versamelaars (Steentydperk), landbougemeenskappe (Ystertydperk), ’n Afrika-koninkryk – Mapungubwe – (Ystertydperk), en so meer. Hierdie onderwerpe sal noodwendig sterk op argeologiese getuienis moet steun om effektief weergegee te word.

Waarom argeologie?

In die verslag van die taakspan word aangetoon dat argeologie ’n integrale deel van die geskiedeniskurrikulum moet wees. Die antwoord op die vraag, waarom juis argeologie, is eintlik reeds duidelik uit die voorafgaande.

Dit kan opsommend soos volg gestel word: Argeologie vorm ’n belangrike deel van historiese kennis. Afrika-historiografie is spesifiek bekend vir mondelingse geskiedenis en die gebruik daarvan sal tot gevolg hê dat antieke, prekoloniale en koloniale Afrika-geskiedenis beter verstaan word.

Argeologie maak gebruik van ’n groter verskeidenheid van bronne as tradisionele geskiedenis en verskaf primêre getuienis. Voorts werk dit gemaklik saam met ander studiegebiede soos paleontologie. Dit benut gesofistikeerde dateringstegnieke en verskeie tegnologiese ontwikkelinge soos die gebruik van infrarooi en digitale tegnologie, satellietdata, LiDar en so meer. Op hierdie wyse maak dit baie verwante velde vir leerders oop.

Argeologie bring ons in kontak met inligting oor Afrika lank voor die aankoms van Europeërs, gee ’n beter begrip van die landbourewolusie, komplekse gemeenskappe, beskawings, handelsnetwerke, kultuurkontak ens. Laastens word argeologie as ’n meer inklusiewe wetenskap beskou aangesien dit ons blootstel aan die geskiedenis van gewone mense.

Huidige beperkinge vir die toepas van die argeologie

Die benutting van argeologiese kennis kan nie sonder meer toegepas word nie. Mense het in die algemeen onkunde omtrent die vakgebied. Sommige mense weet glad nie wat argeologie is nie en dit word telkemale met paleontologie en geologie verwar. Hiermee saam kan gestel word dat die opleiding van onderwysers om argeologiese getuienis te begryp ’n noodsaaklike voorvereiste is.

Voorts is daar kulturele en godsdienstige teenkanting teen argeologiese getuienis. Dink byvoorbeeld aan die evolusieleer.

Kritiek teen die tydelike kurrikulum

Dit is duidelik dat argeologie ’n noodsaaklike onderdeel van die geskiedeniskurrikulum moet wees. Tog is die tydelike kurrikulum nie van kritiek gevrywaar nie. Enkele hiervan is die volgende:

Onder die afdeling vir plaaslike geskiedenis, word bv. slegs ‘struggle’-helde behandel. Klem word voorts geplaas op die benutting van sogenaamde ‘folk tales’. Die vraag is of leerders ook sal leer dat hierdie verhale eintlik waarheid is wat met fiksie vervleg is en of hulle in staat gestel sal word om tussen hierdie konsepte te onderskei.

Een van die punte van kritiek teen vorige kurrikula was dat dit van gelaaide terme gebruik gemaak het en dat daardeur ’n subtiele boodskap oorgedra is. Desnieteenstaande maak die voorgestelde tydelike kurrikulum ook van gelaaide terme gebruik. Hieronder tel terme soos kulturele imperialisme en die ideologiese implikasie van die ‘ontdekkers’ van Afrika.

Aansluitend hierby is die ‘verhoogde status’ van sekere idees, soos bv. die aanduiding dat mense in droogtetyd aan mekaar hulp verleen het en onderling ondersteuning gebied het tot almal se voordeel. Dit word betwyfel dat die argeologie werklik tot hierdie mate benut kan word, terwyl daar waarskynlik ook voorbeelde kan wees wat tot die teendeel spreek.

Daar is twee sigbare weglatings in die tydelike kurrikulum. Die eerste is die Anglo-Boereoorlog (Suid-Afrikaanse oorlog) en dit blyk dat daar slegs op die nagevolge hiervan gefokus word. Die tweede is die Groot Trek.

Risiko’s

Die voorafgaande dui reeds op sekere bedreigings. Die vraag kan tereg gevra word of die kurrikulum op volledigheid kan aanspraak maak. Dit gaan gepaard met die vraag oor wie se geskiedenis dan beklemtoon sal word? Argeologie kan weliswaar leemtes vul, maar die fokus daarvan op die Ystertydperk kan moontlik tot ’n oorbeklemtoning hiervan lei. Hiermee saam hang die moontlikheid dat geskiedenis opnuut verpolitiseer kan word.

Die oorbeklemtoning en onderbeklemtoning van sekere aspekte is reeds uitgewys en so ook die neiging om aspekte in ’n beter of swakker lig te stel as wat dit werklik is. Op hierdie wyse word nuwe mites geskep en kan dit moontlik wanbegrip en wantroue tussen verskillende groepe in die hand werk. Dit dui op ’n ongebalanseerde benadering en die gevaar bestaan dat die Afrikaner bloot tot ’n skurkfiguur gerangeer kan word.

Geleenthede

Ten spyte van die kritiek gelewer, is die taakspan waarskynlik opreg in sy bedoeling om die kurrikulum aan te pas. Dit is natuurlik eerder die uitvoering daarvan wat tot probleme kan lei. Nietemin behoort enige poging om nader aan die waarheid te kom, ondersteun te word en dit is inderdaad die geval dat die benutting van argeologiese getuienis hierdie moontlikheid insluit.

Die wyer blootstelling wat leerders aan die verskillende tegnieke en metodes van die argeologie kan kry en daardeur moontlikhede vir meer beroepsmoontlikhede het, is beslis iets om oor opgewonde te raak. Dit sou selfs tot ’n bloei in die historiese wetenskappe kan lei. Hiermee saam hang die blootstelling aan ’n groter bronneverskeidenheid.

Die kurrikulum hou voorts in dat bestaande mites aan die kaak gestel kan word. Dit kan ook tot ’n groter begrip tussen verskillende groepe en kulture lei. Dink bv. aan die volgende:

Wat is die verhaal hier agter?

Dink bv. aan die volgende:

  • Rotstekeninge of -gravures
  • Klipwerktuie
  • Monumente of gedenktekens
  • Klipmure of bouvalle
  • Kleifigure of potwerk
  • Smeltoond gemaak van klei
  • Kulturele landskappe
  • Metaal-, keramiek- of glasvoorwerpe
  • Grafte, skelette of begraafplase
  • Historiese geboue of strukture

Vra jouself af:

  • Wie het dit gemaak?
  • Waar kom dit vandaan?
  • Wat beteken dit?
  • Waarvoor is dit gebruik?
  • Het dit steeds waarde/betekenis?
  • Vir wie?
  • Hoe kan ons die inligting bekom?
  • En so meer?

Gevolgtrekking

Daar is geen twyfel daaroor dat argeologie gewis ’n positiewe toevoeging tot geskiedeniskurrikulum sal wees nie. Inderwaarheid behoort enige inligting wat ons nader aan die waarheid bring, benut te word.

Argeologie help ons gewis om dieper en verder in die verlede terug te kyk en bring inligting na vore wat nie deur konvensionele geskiedenis daargestel kan word nie. Dit op sigself behoort ’n opwindende tydvak vir die historiese wetenskappe in te lui.

Daar is egter voorwaardes, want daar kan nie goedsmoeds toegelaat word dat politici en andere met moontlik bevooroordeelde menings die proses kaap nie. Dit is gevolglik nodig om deel van die gesprek te wees en belangrik dat die emosie rondom die geskiedenis verwyder word. Dit behoort die begronding van die geskiedenis op wetenskaplik gefundeerde, onbevooroordeelde, outentieke en kredietwaardige navorsing, sover as menslik moontlik, in die hand te werk. Sodoende kan mites aan die kaak gestel word, ’n aspek wat natuurlik ’n tweesnydende swaard is en na alle kante kan werk. Die uiteinde is die strewe na ’n gebalanseerde aanbieding en toepassing van geskiedenis.

[1] Republic of South Africa, 2018. Report of the History Ministerial Task Team. (Pretoria: Department of Basic Education).

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.