Die toekoms van skoolgeskiedenis – Prof. Johan Wassermann

Die FAK en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het tydens ‘n onlangse oggendsimposium die tema “Die toekoms van skoolgeskiedenis” onder die loep geneem. Dit is gedoen in die lig van die Departement van Basiese Onderwys se voorneme om ‘n nuwe Geskiedeniskurrikulum vir skole daar te stel en ook teen 2023 Geskiedenis as skoolvak verpligtend tot Graad 12 te maak.

In hierdie aanbieding kyk professor Johan Wassermann (professor verbond aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit van Pretoria na die aard van skoolgeskiedenis en hoe dit die kurrikulum uiteindelik beïnvloed.

 


Die Aard van Skool Geskiedenis

Prof Johan Wassermann

In al die debatte wat daar tans woed oor die moontlikheid dat Geskiedenis ‘n verpligte vak tot Graad 12 kan word kyk ons, na my mening ‘n sleutelaspek mis, naamlik, hoe moet Geskiedenis as skoolvak daaruit sien.

As vertrekpunt is dit nodig om te onderskei tussen Akademiese Geskiedenis, dit wat op Universiteite nagevors en bestudeer word, en Skool Geskiedenis. Op Universiteit, kan studente byvoorbeeld, uiteenlopende werke oor die Koue Oorlog as deel van ‘n semester-lange module vir ‘n graadkwalifikasie neem. In die proses word Geskiedenis vir sy eie waarde in diepte bestudeer. Dieselfde kan egter nie op skool met Geskiedenis gebeur nie. Die gevolg is dat Akademiese Geskiedenis regekontekstualiseer moet word vir gebruik op skool. Dit gebeur deur Akademiese Geskiedenis in ‘n kurrikulum te vervat met die doelwit om dit in opvoedkundige kennis te omskep. In die proses word die Koue Oorlog, byvoorbeeld, gereduseer tot ‘n beperkte onderdeel van die kurrikulum. Die kurrikulum, as ‘n politieke en opvoedkundige dokument, word dan geinterpreteer in ‘n programmatiese formaat en eindig op in wat ons ken as handboeke. Die resultaat is Skool Geskiedenis wat, opvoedkundig gesproke, akademiese en siviele identiteite as moontlike uitkomste het. Hierdie identiteite kan op hul beurt nou gekoppel word aan die ideologiese waarde wat ‘n gemeenskap aan Skool Geskiedenis koppel. In die verband bestaan daar, gebaseer op die beskikbare literatuur, en veral die werk van Kirsten Kukard van die Universiteit van Kaapstad, drie basiese orientasies:

Die eerste is Geheue Geskiedenis. In terme van ‘n akademiese identiteit word in die soort Skool Geskiedenis klem geplaas op die chronologiese volgorde van historiese gebeure wat nou verband hou met die politiek. Terselfde tyd word daar gefokus op substantiewe of inhouds kennis wat verband hou met die vorming van die nasiestaat en die rol van politici, leiers en “groot” persoonlikhede en hoe hulle aksies veranderinge teweeg gebring het. Besondere waarde word geheg aan die onthou van feite en hoe om dit in ‘n logiese orde te organiseer om oorsake en betekenis aan te toon. As siviele identiteit word daar van leerders verwag om ‘n duidelike beeld te hê van die nasionale storie sodat hulle kan weet “waar hulle vandaan kom” en kan trots wees op hul land. Die opbou van ‘n gevoel van nasionalisme is uiteraard belangrik. Geheue Geskiedenis as Skool Geskiedenis rus dus op die sleutel bevoegdhede van die onthou van politieke gebeure en die ontwikkeling van ‘n persoonlike identiteit wat in noue verband staan met ‘n nasionale identiteit.

Die tweede moontlikheid is Skool Geskiedenis as Analitiese Geskiedenis. Wat ‘n akademiese identiteit betref val die fokus sterk op prosedurele historiese denk konsepte as boustene van kennis soos oorsaak en gevolg; historiese betekenis; verandering en kontinuïteit; historiese tyd en die bestaan van verskillende perspektiewe. Sterk klem word geplaas op die dissiplinêre aard van Skool Geskiedenis en dat historiese narratiewe gekonstrueer word deur die bestudering van en interaksie met historiese bewyse. Die bewyse kan gebruik word om tot verskillende vertolkinge oor die verlede te kom. Wat Analitiese Geskiedenis sterk beklemtoon is dat sommige vertolkinge meer water hou as ander. In die geheel gesien is ‘n oorkoepelende narratief van mindere belang in Analitiese Geskiedenis en die fokus is eerder op historiese temas en keerpunte en die rol van almal, gewone mense en leiers, in die Geskiedenis. In terme van ‘n siviele identiteit fokus Analitiese Geskiedenis op kritiese denke, die feit dat verskillende historiese standpunte bestaan, en dat die akkuraatheid van historiese narratiewe bevraagteken moet word deur op sosiaal-kulturele, polities en ekonomiese aspekte van die Geskiedenis te fokus. Die sleutel bevoegdheid in Analitiese Geskiedenis is vir leerders om krities te kan dink oor kontekste heen. In die proses word die fokus geplaas op die persoonlike identiteite van leerders as kritiese denkers wat aan die hand van prosedurele historiese denk konsepte die verlede moet bedink.

Die derde moontlikheid is Kritiese Skool Geskiedenis. Sover as wat ‘n akademiese identiteit aanbetref, val die soeklig op substantiewe kennis wat verband hou met die Geskiedenis van gewone mense en veral gemarginaliseerde groepe. Leiers figureer slegs in soverre hul aksies ‘n impak gehad het op die samelewing as ‘n geheel. In Kritiese Skool Geskiedenis word die idees van sosiale regverdigheid, mense regte en vryheid vooropgestel met die doelwit om plaaslike en nasionale uitdagings in die samelewing te verstaan. Die doel van Kritiese Geskiedenis is dus om krities te dink en deur middel van debatte en besprekings met alledaagse kontemporêre probleme om te gaan. In die proses word historiese bewyse bestudeer aan die hand van vooroordeel en beheer. As siviele identiteit plaas Kritiese Geskiedenis die fokus op die verstaan van persoonlike waardes en hoe dit in verband staan tot ander in die samelewing. Die idee hieragter is om te leer om hedendaagse probleme te hanteer deur op temas te fokus wat tot sosiaal-kulturele, politiese en ekonomiese aspekte van die wêreld as ‘n geheel spreek. Die sleutel bevoegdhede in Kritiese Geskiedenis is die verstaan van verwantskappe tussen die verlede en die hede. Derhalwe word die klem geplaas op die persoonlike identiteite van leerders as aktiewe betrokke burgers en idees van demokrasie, sosiale regverdigheid en globale verantwoordelikheid word aangemoedig.

Gegewe die drie orientasies waar los dit die debat oor hoe Geskiedenis as voorgestelde verpligte skoolvak tot Graad 12 daaruit moet sien? Die geluide wat uit die ANC, die regering en die kantoor van Minister van Basiese Onderwys kom leun besonder sterk in die rigting van Geheue Geskiedenis. Jong mense word daarvan beskuldig dat hulle nie patrioties genoeg is nie, nie waardering vir die bevrydingstryd se opofferinge het nie en en nie hul Geskiedenis ken nie. Al die probleme kan, so klink die argument, opgelos word deur Geskiedenis ‘n verpligte vak te maak want dan sal alle leerders ‘n duidelik nasionale narratief bemeester. Die probleem is dat Geheue Geskiedenis ‘n lang Geskiedenis het van staastvergrype – van ons eie verlede in die verband tot Patriotiese Geskiedenis in Zimbabwe. Soms word daar in dieselfde asem genoem dat deur Geskiedenis verpligtend te maak leerders sal leer om krities te dink. Dit is problematies want ‘n vervlegging van Geheue Geskiedenis met Analitiese en Kritiese Geskiedenis is ideologies en pedagogies haas onmoontlik aangesien die identiteite wat die verskillende oriëntasies kweek so verskil. Eersgenoemde sien Skool Geskiedenis as bloot feite wat onthou moet word en die laasgenoemde is wyses van weet, naamlik dissiplinêre kennis en hoe om ‘n ‘n kritiese burger te wees in ‘n demokratiese bestel. Dit is hier waar die spanning na my mening lê tussen die Ministeriële Taakspan en die regering lê, want hul orientasies ten opsigte van Skool Geskiedenis is uiteenlopend. Hoe die spanning besweer gaan word, sal net die tyd leer.


Hierdie referaat is op ‘n onlangse  simposium met die tema: “Die toekoms van skoolgeskiedenis” aangebied. Die simposium is  deur die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum vir Toekomsstudies in samewerking met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gehou.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.