Jeugdag – Die verhaal van drie penkoppe en ‘n beeld – Dr. Danie Langner

Die standbeeld van adv. CR Swart wat voorheen op die kampus van die Vrystaatse Universiteit gestaan het. Die standbeeld is deur Die Voortrekkers op die plaas Doornkloof heropgerig nadat vandale dit beskadig het tydens studentebetogings.


Daar is geen roman wat daarin slaag om die vernietiging en ontbering, tragedie en pyn van die verskroeideaardebeleid so aangrypend te beskryf as PG du Plessis se  Fees van die ongenooides nie.

Daar is egter ’n opvolgstorie om te vertel. Dit is die verhaal van Afrikaners wat die oorlog verloor het, maar die vrede gewen het deur kinders wat die konsentrasiekampe oorleef het. Kinders wat uit hulle verskroeide aarde opgestaan het en met verset teen miskenning ’n  Afrikaanse toekoms gebou het.

Dit is die storie van drie Vrystaatse konsentrasiekampkinders.

NJ van der Merwe

NJ van der Merwe was as 11-jarige seun saam met sy ma en susters na Norvalspont-konsentrasiekamp gestuur.

In wintersneeu en Karoo-hitte het  hulle gesin van hongerrantsoene en vrot vleis oorleef.

Onder die wapperende Union Jack het hy die lykstoet van vriende en vriendinne gevolg.

In Milner se konsentrasiekampskool het hy  van die groot en magtige Empaaier geleer, terwyl Boeregeneraals in die veld vasbyt  vir vryheid.

Die brandarm kampseun wat met net ’n bliktrommel in die hand  na Grey Kollege gestuur is om in Engels onderrig te ontvang, was die dominee wat aan die Vrystaatse Sinode voorgestel het die Bybel moet in Afrikaans vertaal word.

In verset teen armoede wat kinders van ’n toekoms beroof,  het  hy die stukrag geword van die Vrystaatse Helpmekaarbeweging. Ten tye van sy dood is 49 700 Pond bestee om 539 arm kinders te help studeer.

President Steyn het aan hom geskryf: “Die taal van die veroweraar is in die mond van die verowerde die taal van slawe.” In verset teen die hooghartige Britse miskenning van Afrikaanse taal en kultuur, het NJ nie net die FAK  help stig nie, maar as die eerste hoof daarvan gedien. In sy tyd het:

  • die Handhaaf-en-Boureeks verskyn met Engels-Afrikaanse woordelyste vir motorterme, kruideniersterme, slagtersterme, skoenmakersterme, kookterme en fotografiese terme.
  • Op sportgebied het hy gehelp om ’n drie vir Afrikaans te druk met Afrikaanse woordelyste vir rugby, sokker, krieket, skyfskiet, brugspel, atletiek, boks, swem, waterpolo, tennis, biljart, hokkie, korfbal en gholf.
  • Afrikaanse musiek het in 1937 vlamgevat met die FAK-Sangbundel.
  • Die Sentrale Volksmonumentekommissie is gestig met die Voortrekkermonument, Bloedriviermonument, die Retief- en Maritz-standbeelde by die Geloftekerk in Pietermaritzburg as resultaat.

As stigterslid en eerste Hoofleier van Die Voortrekkers het hy Afrikanerkinders trots gemaak op wie hulle is; die fondamente van die eerste Afrikaanse jeugorganisasie gevestig en aan Die Voortrekkers die taak gegee om kultuurbouers vir toekomstige geslagte te vorm.

 

CR Swart

CR Swart wat as sewejarige seun Winburg-konsentrasiekamp oorleef het, het hom onderskei  as Volksblad-joernalis, advokaat, parlementslid, Minister van Justisie en Staatspresident.

In sy hart was hy ’n kultuurbouer en ’n kindervriend. Met die stigting van Die Voortrekkers het oom Blackie op die dagbestuur van die Vrystaatse Voortrekkers  gedien. Op sy voorstel  en met sy hulp is die historiese plaas van die Groot Trekleier, Sarel Cilliers, as kamp- en kultuurterrein vir die Vrystaatse kinders gekoop.

Later  jare het hy as Hoofbeskermheer van Die Voortrekkers gedien en uit erkenning vir sy meelewende rol as Hoofbeskermheer het Die Voortrekkers die Presidentsverkennertoekenning na hom vernoem.

Dit is net reg dat sy gevandaliseerde beeld ’n tuiskomplek op Doornkloof gevind het.

 

Piet Geyer

Piet Geyer se vroegste kinderjare was ingekleur deur die smarte van die oorlog. Hy is in die Bethulie-konsentrasiekamp gebore in die tyd toe sy pa as krygsgevange op St Helena gesterf het.

Na die oorlog het hulle brandarm na hulle plaas teruggekeer om die murasies van hulle afgebrande plaas te herbou. In die jare was hy plaaswerker, skaapwagter, touleier.

Eers op 10 jaar is hy vir die eerste keer skool toe waar hy dikwels met donkie-ore in die hoekie moes staan omdat hy nie Engels kon praat nie.

Hy  het nooit die voorreg om te kan leer as vanselfsprekend aanvaar nie. Hy wou ’n onderwyser word om kinders die geleentheid tot onderrig te gee wat hy so amper gemis het.

Met behulp van ’n Helpmekaar-studiebeurs behaal hy ’n BA-graad in Geskiedenis en Afrikaans, asook ’n HOD aan die jong universiteit in wording, UKOVS.

Die arm seun uit die Suid-Vrystaat het elke geleentheid aangegryp wat sy pad gekruis het. Hy dien as lid van die studenteraad, was rasieleier, deel van die universiteitstoneelgroep en ’n ywerige rugbyspeler.

Bowenal het oom Piet hom as kultuurskepper onderskei.  In 1934 word hy ’n Voortrekker op Edenburg wat hy vir 50 jaar sou bly.

In 1949 word oom Piet verkies as Provinsieleier van die Vrystaat en dien vir 35 jaar in die amp.

Onder sy leiding word Doornkloof Voortrekkerplaas ontwikkel as ’n tuiskomplek vir Vrystaatse kinders.

Dit sou hom gelukkig maak om te weet dat geslagte Vrystaatse Voortrekkers steeds op Piet Geyer-kampterrein kamp.

 

Bou en staan

Die betekenis van drie penkoppe se lewenswerk moet nie gesoek word in hulle CV  of posisies nie. Die betekenis van hulle lewenswerk word gevind in Esegiël 22:30,  die teks wat dominee JP van der Spuy, moderator van die Vrystaatse NG Kerk by die begrafnisdiens van NJ van der Merwe gebruik het: “Ek het ’n man gesoek wat ’n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land.”

Bou en staan was hulle kulturele versetwoorde waarmee hulle gesê het: “Ons weier om slagoffers van ons verskroeide aarde te wees. Ons sal uit die ashope van ons kinderjare opstaan. Ons sal uit die puinhope  van die allerverwoestende oorlog ’n Afrikaanse toekoms bou, sodat die volgende geslag Afrikaanse kinders nooit weer kultureel misken en minderwaardig hoef te voel nie.”

Dit is hulle kulturele nalatenskap. Ons geslag het die kulturele kapitaal van hulle bouwerk, in die woorde van NP Van Wyk Louw, as erfgename ontvang.

 

Die noodsaak van skeppende bou en behou

Hulle storie is ’n onvoltooide storie.

“Bestaansreg,” skryf Van Wyk Louw, “is nie iets waarmee ’n volk gebore word nie, of iets wat as ’n geskenk aan hom gegee word nie. Bestaansreg is iets wat hyself oorspronklik moet skep en gedurig, geslag na geslag, skeppend moet behou.”

Daar is baie te sê oor universiteite se verskroeidetaalaarde en diegene wat Afrikaans opnuut tot konsentrasiekampe wil verdoem, maar miskien sê  ons te min oor die noodsaak van ons skeppende bou en behou vir die voortbestaan van ons taal en kultuur.

Ons kan nie die toekoms van ons taal en kultuur as vanselfsprekend aanvaar nie.

Nie net die grotes soos Karel Schoeman, PG du Plessis en Breyten Breytenbach nie, maar elke dromer, digter, skilder, prediker,  kultuurleier, takvoorsitter, spanoffisier, ja, elkeen wat Afrikaans liefhet, is skrywers van die onvoltooide Afrikaanse storie. Ons bou en behou is nou  die verskil.

Nie net Afrikaans nie, maar veral Afrikanerkultuur bloei.

Die finansiële  uitdagings, polities gemotiveerde persepsies en ’n ontoeganklike korporatiewe wêreld is groter as wat baie kultuurorganisasies kan hanteer.

Kulturele identiteit en trots word in ons gebroke landjie te maklik, selfs moedswillig,  met rassisme verwar.

Laat ons nie blind wees vir ons eie aandeel in die krisis van Afrikanerkultuur nie.  Verstarde en rigiede kulturele denke;  ondoeltreffende en uitgediende organisasiestrukture wat ontwerp is in ’n vorige eeu vir ’n ander konteks; ’n naïewe amper blinde vertroue dat die staat en grondwet taal en kultuur sal beskerm; gebrekkige leierskap; en onbetrokkenheid  is van die groot struikelblokke wat die bestaansreg van talle kultuurorganisasies bedreig.

Die grootste struikelblok is egter dat Afrikaners hulle   kulturele selfvertroue verloor het om op te staan en te sê hier is ons bouwerk. Afrikanerkultuurorganisasies dink te klein  oor hulself en die positiewe verskil wat hulle maak in baie gemeenskappe regoor die land.

In krisis en keerpunt, onsekerheid en verwarring, verstarring en vervreemding moet kultuurbouers  in die woorde van Danie Goosen, “meer  wees as die napraters van die bestaande orde en slawe van kleiner belang.”

Om bestaansreg te bevestig, sal kultuurbouers met oortuiging moet opstaan teen:

  • diskriminasie en ongeregtigheid van alle  ideologieë en -ismes wat ons  kulturele identiteit misken en as minderwaardig afpraat.
  • swart rassiste wat ons plek onder Afrika se son wil ontken, maar met nog meer verset opstaan teen wit rassiste wat Afrikaners en Afrikaans ’n slegte naam gee.
  • kulturele verstarring en rigiede denke wat met ’n  selfbehoud-modus eerder ’n kultuurorganisasie se dood administreer as dinamies

Uit die lewenswerk van die drie Vrystaatse penkoppe sien ons bestaansreg word geskep deur:

  • ’n gemeenskapsgerigte diensbaarheid, innoverende denke, nuwe woordvelde en kreatiewe projekte.
  • nuwe vennootskappe, hande te vat, saambou.
  • kulturele leierskap wat nie aan posisies klou, eie eer najaag of applous soek nie, maar wat die ongesiene, ondankbare, opofferende werk met liefde en toewyding doen.
  • ’n geloofsoortuiging wat weet ons saak is reg.

Die belangrikste les uit die verlede is, koester ons kinders. Hulle is ons taal en kultuur se beste toekomsbelegging.

Trackbacks/Pingbacks

  1. Kultuurbouers in Bloemfontein vereer - NP van Wyk Louw-sentrum - N. P. van Wyk Louw-sentrum - 2017-06-13

    […] deur dr. Danie Langner,  besturende direkteur van die FAK, gelewer en sy volledige toespraak kan hier gelees […]

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.