Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog: Deel 3 – Prof. Elirea Bornman

Die oproep om nasiebou het sedert die aanbreek van die nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika ’n baie prominente plek ingeneem. Die nuut verkose ANC regering het begin om fragmente uit die verlede, soos groepverskille, “etniese tuislande” asook grootskaalse ongelykheid en klasverskille te herkonstrueer. Dit is egter moeilik om te verstaan hoe die ANC nasiebou konseptualiseer siende dat daar tydens die stryd teen apartheid en daarna verskillende definisies van nasiebou op verskillende tye gepropageer is met elk verskillende implikasies vir meerderheids- asook minderheidsgroepe.

Nierassigheid

Die idee van ’n inklusiewe en gemeenskaplike Suid-Afrikanisme het reeds weerklank gevind in die verwoording van Nelson Mandela se verweer tydens die Rivonia-verhoor in 1964. Nierassigheid was egter nie een van die ANC se stigtingsbeginsels nie en het eerder gegroei uit die latere alliansies met mense van alle rasse en agtergronde wat saam die stryd teen apartheid gevoer het.

Aanvanklik was die ANC ’n organisasie wat net die eng belange van die swart stedelike intelligentsia verteenwoordig het en gevolglik was lidmaatskap ook volgens ras beperk tot swart mense. Op soortgelyke wyse het die Natal Indian Congress (NIC) wat reeds in 1804 tot stand gekom het, slegs die belange van Indiër-handelaars verteenwoordig. Swart- en Indiër-organisasies, en later ook organisasies vir bruin mense, het eers vanaf 1940 begin om veelrassige alliansies met ander organisasies wat ook teen apartheid gekant was, te vorm. Lidmaatskap van die ANC was egter eers vanaf 1960 oop vir Indiër, bruin en wit lede.

Die ontwikkeling van die Vryheidsmanifes (“Feedom Charter”) – wat deur sommige gesien word as die bloudruk van die opposisie teen apartheid – kan ook nagespeur word na die veelrassige alliansies wat met ander organisasies gesluit is. Ramsamy (2007) kom egter tot die gevolgtrekking dat alhoewel die Vryheidsmanifes op die oog af op die beginsel van nierassigheid berus, die dokument eerder ’n multikulturele en veelrassige siening oor nasionale eenheid en nasiebou weerspieël. Die manifes verklaar byvoorbeeld nie dat identifisering met etniese en rassegroeperings ter wille van nierassigheid afgeskaf moet word nie en erken afsonderlike groepsidentiteite, maar beklemtoon terselfdertyd gelykheid.

Nadat die ANC egter deur die apartheidsregering verban is, het daar ’n klemverskuiwing plaasgevind weg van die multikulturele en veelrassige benadering na ’n ideologie van inklusiwiteit en nierassigheid. Hiervolgens word etniese en rasse-identiteit as ’n oorblyfsel van die apartheidsbeleid van “verdeel en regeer” gesien. Alhoewel daar steeds erkenning gegee is dat hierdie identiteite ’n rol in die persoonlike lewens van mense speel, word dit nie as relevant vir die sosiale en politieke lewe van die land beskou nie. Dié standpunt is deur die volgende stelling van Nelson Mandela beaam: “We have no whites, we have no blacks. We only have South Africans.”

Mac Maharaj, voormalige minister van vervoer, word verder in Ramsamy as volg aangehaal oor die ideologie van nierassigheid: “The only thing that I have in common with Indians is that I share a mutual love of curry and rice. I am as non-racial as they come or supposedly come, but don’t call me ‘Indian’.”

Enige vorm van etniese bewustheid word dus as ’n oorblyfsel van apartheid beskou en gevolglik as onbelangrik geag vir die sosiale en politieke bestaan van die nasie. In wese verteenwoordig die nierassige standpunt die beklemtoning van die skepping van ’n burgerlike nasie wat gebaseer is op die toekenning van individuele regte aan alle burgers, ongeag hul geloof of oorsprong (Blaser, 2004; Brubaker, 1996).

Reënboogisme

Gedurende die tydperk toe die ANC van ’n vryheidsbeweging na ’n regerende party moes transformeer, was een van die realiteite wat hanteer moes word rasse- en etniese diversiteit. Dit het Nelson Mandela gepla dat die ANC in die algemeen beskou is as ’n swart party waarmee groot getalle wit mense, Indiërs en bruin mense hulle nie kon identifiseer nie. In sy slotrede by die 48ste Nasionale Kongres van die ANC in 1991 spreek hy sy kommer hieroor uit: “There are different ethnic groups in this country and ethnicity, especially because of the policies of the government is still a dangerous threat to us. We have to redouble our efforts to make sure we have the confidence of all the different sections of the people of this country, something which is not there at the present moment.”

Die ANC se antwoord hierop was die verkondiging van die Reënboognasie-metafoor waarvolgens verskillende etniese en rassegroepe – verteenwoordig deur die kleure van die reënboog – uitgebeeld word as sou hulle in ’n eensgesinde geheel verenig wees. Die metafoor van die Reënboognasie kan gesien word as ’n kompromis tussen die ANC se verbintenis tot nierassigheid en die behoefte om die voortgesette verpolitisering van etnisiteit in postapartheid Suid-Afrika te hanteer. In plaas van die ontkenning van die sosiale en politieke realiteite van etniese en rassegroepe word dit nou eerder as die boublokke van die nuwe nasie beskou. Ten spyte hiervan, bly die doel van reënboogisme egter die skepping van ’n gemeenskaplike lojaliteit aan die burgerlike staat, ’n enkele nasie en een dominante identiteit (Blaser, 2004).

Kritiek vanuit verskillende fronte is egter hieroor geopper. Degenaar (1994) beskou die metafoor en selfs die woord nasiebou as gevaarlik aangesien dit eenvormigheid aanmoedig, terwyl diversiteit gerespekteer behoort te word. Gqola (2001) beskou die metafoor as ’n mite wat ’n valse eenheid voorstel en eerder aanleiding gee tot die handhawing van ongelykheid (Blaser, 2004). Neville Alexander (in Blaser, 2004) kritiseer weer die ANC-regering dat ten spyte van die feit dat daar 11 amptelike tale is, Engels toegelaat is om die dominante taal en lingua franca te word. Die dominansie van Engels dien volgens hom slegs in die behoeftes van die middelklas, maar strem bemagtiging op ’n breër grondslag. Naudé (2010) voer aan dat erkenning van rasse- en etniese groepe impliseer dat mag en finansiële hulpbronne na streke en etniese en rassegroepe gekanaliseer word wat tans nie gebeur nie. Mag is hoogs gesentraliseer en etniese en ander minderheidsgroepe vind dit moeilik om hul belange te beskerm ten spyte van die klem wat gelê word op die regte van minderhede binne die reënboogisme. Aan die ander kant meen Blaser (2004) dat die Reënboognasie metafoor en die simboliese voorstelling van ’n verenigde nasie wel stabiliteit gedurende die moeilike jare van oorgang bevorder het.

Afrikanisering van die nasie

Verskeie skrywers verwys na ’n Afrikanistiese wending in die nasieboustrategieë van die ANC-regering sedert die Mbeki-era. Siende dat Afrika-nasionalistiese strominge deurentyd teenwoordig is in alle teenkoloniale organisasies in Afrika behoort die verskuiwing van die Reënboognasie-ideologie tot die bevordering van ’n Afrikakultuur nie as ’n beleidsverandering beskou te word nie, maar eerder ’n klemverskuiwing.

Die doel van nasiebou word gevolglik nou gesien as die skepping van ’n enkele nasie met ’n dominante Afrika-identiteit wat die primêre identiteit van alle Suid-Afrikaners behoort te word. Hierdie idee word deur die voormalige president Thabo Mbeki (ANC, 1997, par. 44) as volg verwoord: “But it is critical that the overarchig identity of being South African is promoted among all those who are indeed South African, as part of a process of building an African nation on the southern tip of the continent. The affirmation of our Africanness as a nation has nothing to do with the domination of one culture or language by another – it is recognition of a geographic reality and the awakening of a consciousness which colonialism suppressed.”

Redes oor waarom Afrikanisme as ’n positiewe idee beskou moet word, sluit onder meer in dat dit sal keer dat Suid-Afrika ’n kloon van die VSA en die VK word; dat dit ’n teenkoloniale dimensie gee en dryfkrag vir die skepping van ’n ware Afrikastaat; en dat dit ’n verdeelde land soos Suid-Afrika met grootskaalse ongelykheid, nuwe stukrag sal gee om die nalatenskap van apartheid te bowe te kom.

Sommige meen egter dat hierdie Afrikanistiese verskuiwing as die oorwinning van ’n oorkoepelende pan-Afrikanisme gesien kan word wat deur die Pan Africanist Congress gepropageer is. Ander kritici meen egter dat dit slegs aangedryf word deur ’n swart elite in ’n poging om hulle dominansie te vestig en etniese spanning binne die swart gemeenskap te verdoesel. Sommige meen ook dat dit ’n bepaalde etniese groep is, naamlik die Xhosas, wat Afrikanisme op die spits dryf en as sodanig ’n nuwe vorm van rassisme verteenwoordig. Afrikanisme slaan boonop glad nie ag op etnisiteit en die bestaan van etniese, kulturele en taalverskille tussen swart etniese groepe asook die feit dat Suid-Afrika ook die tuiste van ’n aantal groepe is wat nie uit Afrika afkomstig is nie.

Om saam te vat: aan die een kant bevorder die leer van nierassigheid ’n burgerlike nasie waarin alle burgers gelyke regte geniet en oorwegend lojaal is aan ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse identiteit. Rasse- en etniese identiteite word beperk tot die private domein en word nie as relevant in die sosiale en politieke lewe beskou nie. Reënboogisme, aan die ander kant, erken wel die bestaan en relevansie van etniese en rasse-identiteite en die feit dat mense meervoudige identiteite het. Die totstandbrenging van ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit bly nogtans ’n prioriteit. Weinig erkenning word voorts gegee aan die sosiale en politieke relevansie van subnasionale groepe in beleid oor byvoorbeeld taal, wat belangrike implikasies vir minderheidsgroepe inhou. Weinig mag word boonop aan hierdie groepe afgewentel en groepsregte word nie in die Grondwet erken nie. Die verskuiwing van nierassigheid na reënboogisme impliseer derhalwe nie ’n verskuiwing van die bou van ’n burgerlike nasie tot die skepping van ’n multinasionale staat nie.

Aan die ander kant impliseer die bevordering van ’n Afrika-identiteit die afdwinging van hegemonie in ’n wesenlik multikulturele en veeltalige samelewing. Terwyl lojaliteit jeens ’n dominante Suid-Afrikaanse identiteit een van die belangrikste doelwitte van nasiebou is, impliseer die Afrikanistiese standpunt dat hierdie identiteit ’n Afrikakultuur moet weerspieël (Blaser, 2004).

Indien lojaliteit jeens ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit as die waarmerk van ’n klassieke nasiebouprojek beskou behoort te word, is die deurslaggewende vraag wat gevra moet word of en in watter mate ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse identiteit of ’n Afrika-identiteit werklik inklusief kan wees. Is dit moontlik vir Suid-Afrikaners van alle rasse en gelowe om hulle met sodanige identiteit te identifiseer? Enkele van hierdie vraagstukke word in die volgende afdelings hanteer.


Bostaande artikel is deel van ’n reeks uittreksels uit ’n publikasie van die FAK se NP van Wyk Louw-navorsingsentrum getiteld “Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog”. Die skrywer is Elirea Bornman, professor van die Departement Kommunikasiewetenskap aan UNISA.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.