Leierskap en ’n gehoor van Een – Christoff van Wyk

Andrew Carnegie, die Amerikaanse staalbaron en miljardêr het op ’n dag as jong seun op sy ma afgekom waar sy in sak en as besig was om te huil oor hulle ellendige omstandighede. As Skotse immigrante het hulle ’n heenkome in Amerika gaan soek en in ’n krotbuurt in Pittsburgh beland.

Carnegie was diep ontroerd hieroor en het haar plegtig belowe dat hy eendag baie ryk sou word en hulle uit hul ellende sou verlos. Sy het egter geantwoord: “That will do no good over here if no one in Dunfermline can see us.” Dit het haar min geskeel dat mense in ’n vreemde land haar in ’n ander lig moes beskou, vir haar het alles daaroor gegaan dat haar vriende en familie in Skotland moes sien hoe goed dit met hulle gaan.

Ware leiers word gekenmerk aan die gehoor wat hulle dien en ware leierskap, op watter vlak ook al, behoort voor ’n gehoor van Een af te speel indien dit werklik ’n blywende verskil wil maak.

Politieke leierskap in ons moderne tyd is veral skuldig daaraan dat beginsels dikwels in ’n oogwink prysgegee word onder die druk van kieserspeilings. Winston Churchill het op ’n keer gesê: “I hear it said, that leaders should keep their ears to the ground. All I can say is that the British nation will find it very hard to look up to the leaders who are detected in that somewhat ungainly posture.” In vandag se politieke arena het dit byna die norm geword om eerder te sê wat jou kiesers wil hoor as om morele beginsels na te streef. Alhoewel dit te verstane is dat enige politieke leier afhanklik is van stemme word dit al hoe moeiliker om werklik “op te kyk” na hierdie leiers wat konstant hul oor so op die grond hou.

Die uitwerking van buite-na-binne leierskap is natuurlik altyd gedoem. Die leier lei nie meer nie, maar word eerder gelei. Of dit nou deur ’n onverbiddelike ideologie is wat al oor en oor gefaal het of die lofprysing van massas is wat die ego streel. Die strewe na hoër ideale verval in ’n desperate poging om almal gelukkig te probeer hou – wat natuurlik onmoontlik is.

Een van die redes waarom baie leiers en rolmodelle verkies om eerder vir hul gehoor te leef as vir die gehoor van Een, is omrede dit dikwels met baie slegte gevolge gepaard gaan. Een so voorbeeld is die uitsonderlike storie van generaal Charles Gordon wat byna sy hele lewe lank in die Britse weermag gedien het. Hy het op jong ouderdom tot geloof gekom en veral Filippense 1:21 gereeld aangehaal waar Paulus skryf: “… want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”

Hy was veral bekend daarvoor dat hy soms bevele verontagsaam het indien hy dit as belaglik of onregverdig beskou het. Dit het ook uiteindelik tot sy dood gelei in 1885 nadat hy bevele verontagsaam het om die besette stad Khartoum in die Soedan te verlaat. Die Britse regering was glad nie beïndruk hiermee nie en het eers ’n jaar nadat die stad beleër is, versterkings gestuur. Dié weermag het egter eers twee dae nadat die stad geval het daar aangekom. Na Gordon se dood skryf ’n Skotse vriend van hom, John Bonar, as volg: “What at once, and always struck me was the way in which his oneness with God ruled all his actions, and his mode of seeing things. I never knew one who seemed so much to ‘endure as seeing Him who is invisible.’”

Nog ’n voorbeeld van so persoon was die Vrystaatse president MT Steyn. Op die vooraand van wat later as die Anglo-Boereoorlog bekend sou staan, het Steyn op sy plaas Onze Rust vroeg die oggend die veld ingegaan en in die woorde van ’n biograaf, ’n “sielsworsteling” deurgemaak en die grootste deel van die dag in gebed deurgebring. Prof. Jaap Steyn skryf in sy boek Afrikanerjoernaal die volgende: “Toe hy die aand tuiskom, was hy welgemoed, vasbeslote om tot die dood te stry vir vryheid en reg.”

Steyn moes ten volle besef dat sy besluit om nie aan die onredelike eise van die Britte in te gee nie en die voormalige ZAR te steun in die komende oorlog, verseker tot die verlies aan lewe sou lei, alhoewel hy nooit kon voorsien hoe groot die verlies uiteindelik sou wees nie. Maar, tot die einde was hy getrou aan die gehoor van Een.

Die vraag is nie of ons “voor ’n gehoor” lewe nie, maar eerder wie ons gehoor is. Andrew Carnegie was ’n uitgesproke ateïs en of dit nou vanuit sy hoë kantoorgebou was of die koninklike koets wat hy laat bou het vir sy tuiskoms na sy geboortestad, het hy sy gehoor gekies en daarvolgens gelewe. Soms kry ons egter ware leiers, bekend of selfs heeltemal onbekend, wat slegs leef voor die gehoor van Een, die ware drie-enige God. Dit behoort ons hoop te wees dat meer en meer leiers en rolmodelle werklik kan getuig: “Ek leef slegs voor die gehoor van Een. Voor ander het ek niks om te bewys, niks om te wen, niks om te verloor nie.”


Bron:

Guinness, O. The Call: Finding and Fulfilling the Central Purpose of Your Life Thomas Nelson Uitgewers, VSA (2003)

One Response to “Leierskap en ’n gehoor van Een – Christoff van Wyk”

  1. Jaap Pretorius 2018-04-20 at 8:13 pm #

    Amen

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.