Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog: Deel 2 – Prof. Elirea Bornman

Foto: Maroela Media

Modelle vir nasiebou en postkoloniale Afrika

In die vorige artikel in hierdie reeks onder die opskrif “Teorieë oor en benaderings tot nasiebou” is gewys op die kritiek teen modernistiese nasiebou. In hierdie artikel word gefokus op modelle van nasiebou en hoe dit in Afrika sedert die postkoloniale tydperk toegepas is.

Volgens Dersso word twee vorme van nasiebou geassosieer met die twee uiteenlopende standpunte oor die rol en posisie van etniese groepe. Volgens die modernistiese of liberale standpunt behoort etniese groepe ontbind te word om deel van die “hoër”, dominante kultuur te word. Die “hoër kultuur” word met die nasiestaat in verband gebring en daar word aanvaar dat daar ooreenstemming tussen die nasie en die staat behoort te wees. Daar word dus geglo dat die nasie ’n linguisties en kultureel homogene entiteit behoort te wees wat die eenheid van die staat weerspieël. Nasiebou behels dus prosesse van “assimilasie”, “akkulturasie” of “amalgamering” vir die totstandbrenging van ’n enkele kultuur, identiteit en taal en die vorming van nuwe lojaliteite en ’n nuwe identiteit wat met die staat geassosieer word. Hierdie standpunt behels derhalwe ’n een-tot-een-verhouding tussen modernisering en kulturele homogenisering. Daar word dikwels na hierdie model – wat voorheen die dominante model en kenmerk van die grondwetlike staat was – as Jakobinistiese nasiebou verwys.

Daarenteen beskou die alternatiewe neopremordiale standpunt kulturele diversiteit as voordelig vir ’n samelewing en ’n skans teen tirannie. Daar word geglo dat die samelewing nie deur die ideologie van eenheid, eenvormigheid en assimilasie nie, maar eerder deur respek vir diversiteit gerig behoort te word. Hierdie tweede benadering – ook bekend as sinkretistiese nasiebou – erken en waardeer die realiteit van diverse etnopolitieke gemeenskappe en groepe binne ’n staat (Dersso, 2008). Etniese identiteite verkry erkenning deur middel van verskillende instellings en beleid wat openbare ruimte vir hul erkenning bied, terwyl ’n gemeenskaplike nasionale identiteit terselfdertyd bevorder word deur gemeenskaplike instellings en gedeelde waardes en simbole. Sinkretistiese nasiebou word tans in moderne multi-etniese state soos Switserland en Kanada beoefen.

Sinkretistiese nasiebou bevraagteken verder die direkte verband wat deur nasiebouteoretici tussen modernisering en kulturele homogenisering getrek word en glo dat dit futiel is om te probeer om etnisiteit uit te roei. Dit is dikwels eerder die geval dat moderne ontwikkelings op die gebied van kommunikasie en vervoer etniese bewustheid verhoog, aangesien dit daartoe lei dat die lede van etniese groepe meer bewus word van die verskille tussen hulle en ander groepe. Simpson (1994) wys in dié verband daarop dat die tydperk na die Koue Oorlog gekenmerk word deur ’n oplewing in etnisiteit, nie slegs in baie state van Oos-Europa en Afrika wat onlangs onafhanklik geword het nie, maar ook in Westerse state wat al geruime tyd as “stabiele” demokrasieë beskou word, byvoorbeeld Quebec, die Baskiese gebied, Katalonië, Skotland en Wallis, asook die hernieude spanning tussen die Vlaminge en Wallone in België.

Die gebeure in die voormalige ledestate van die Sowjetunie lei Brubaker (1996) tot die afleiding van ’n drieledige tipologie van staatmodelle wat met verskillende standpunte oor diversiteit en nasiebou ooreenstem:

  • Eerstens is daar die burgerlike staat, met ander woorde die staat is daar vir sy burgers, ongeag hul etniese lidmaatskap.
  • ’n Tweede model is dié van die bi- of multinasionale staat wat uit twee of meer etnokulturele groepe bestaan.
  • ’n Derde model is die hibridiese model waarvolgens die staat nie as ’n nasionale of nasionaliserende staat beskou word nie. Lede van minderheidsgroepe geniet nie slegs individuele regte as burgers nie, maar ook bepaalde minderheidsgroepregte – gewoonlik op die gebied van onderwys – wat hulle teen potensiële nasionaliseringsneigings van die staat beskerm.

Terwyl etnisiteit en minderheidskulture geen plek in die burgerlike staat het nie, het dit wel openbare en politieke betekenis in die bi-nasionale staat. In die burgerlike staat is die samestellende elemente individue, terwyl dit in die bi- of multinasionale staat etnokulturele groepe is. Die hibridiese staat bevat elemente van albei.

Wat betref nasiebou in postkoloniale Afrika, het lande met onafhanklikheidswording voor die probleem te staan gekom dat hul bevolkings heterogeen en divers was en dat die grense van die meeste Afrikalande deur koloniale avonturisme bepaal is en gevolglik vele groepe en gemeenskappe met afsonderlike tale, kulture en geskiedenis insluit. Probleme rakende diversiteit is boonop vererger deur die swak institusionele vermoë, asook onderontwikkelde ekonomieë en infrastruktuur wat baie Afrikastate kenmerk. In ’n poging om oplossings te vind vir die probleme wat met diversiteit verband hou, is die verbeelding van die meeste Afrika-leiers deur die nasiestaat- (of Jakobinistiese) model van nasiebou aangegryp. In Afrika het hierdie model weens verskeie redes – onder meer die liberalegrondwet-tradisie – die feitlik vanselfsprekende keuse geword om diversiteitsvraagstukke te hanteer. In teenstelling met die 19de-eeuse liberale denke word daar algemeen geglo dat ’n enkele, homogene identiteit ’n voorvereiste vir demokratiese regering en politieke stabiliteit is. Daar word boonop geglo dat die gladde funksionering van die moderne staat ’n kultureel (en taalkundig) homogene samelewing vereis sodat burgers transaksies met mekaar kan aangaan, die burokrasie effektief bestuur kan word en dieselfde hofstelsel vir almal gebruik kan word. Nog ’n belangrike rede is die feit dat Afrika-etnisiteit in hoë mate geassosieer word met stamgebondenheid (“tribalism”), wat algemeen as ’n belemmering vir modernisering en ontwikkeling beskou word.

Die meeste Afrikalande pas gevolglik nasieboustrategieë toe wat assimilasie en integrasie beklemtoon. Die klem val op homogeniteit en eenheid. Grondwette, wetgewing en omgewingsbeleid het almal instrumente geword in die hande van hoogs gesentraliseerde regerings om homogeniteit en eenheid te bevorder en af te dwing. Die sentralisering van politieke en ekonomiese mag het in Afrika een van die belangrikste instrumente in die hande van regerings geword om pluralisme te onderdruk. ’n Algemene tema onderliggend aan die meeste grondwette en politieke diskoerse in Afrika is die weiering om wetlike, politieke of institusionele uiting te gee aan bepaalde groepe, asook die opheffing van enige vorm van groepsbeskerming. Etnisiteit word boonop beskou as ’n verdelende krag wat nasionale eenheid ondermyn. Die uitdrukking van etniese solidariteit en politieke mobilisering op ’n etniese grondslag word verder verbied. So hoop Afrika-regerings om etniese lojaliteite uit te roei ten einde hulle state te transformeer in “a nation-state proper and hoping to live happily ever after” (Dersso, 2008).

Hierdie wens is ongelukkig nie bewaarheid nie. Nasiebouprosesse hou verreikende nadelige gevolge vir etniese groepe in Afrika in. Eerstens het unitêre en hoogs gesentraliseerde regeringsvorme gelei tot oorheersing van die staatsmasjinerie deur bepaalde dominante groepe en wydverspreide sosio-ekonomiese ongelykhede tussen groepe en streke. Aan die een kant het hierdie situasie in baie gevalle mededinging (in plaas van samewerking) om beheer oor die staat en, aan die ander kant, die marginalisering en vervreemding van minderheidsgroepe veroorsaak. Op die politieke terrein was geweld – selfs gewapende geweld – dikwels die bitter gevolg van nasiebou. In ’n land soos Soedan het inter-etniese geweld uiteindelik tot afstigting en die skepping van twee nuwe state, Soedan en Suid-Soedan, gelei.

Op kulturele vlak het nasiebou in Afrika tot die nasionalisering van kultuur en tale gelei ten einde “eenheid” van die land te weerspieël. In die meeste Afrikastate dien die twee belangrikste koloniale tale – Engels en Frans – nie alleen as die simboliese tale van nasionale eenheid nie, maar het dit ook die lingua franca en tale van die regering en ekonomie geword. Waar inheemse tale wel erken word, word voorkeur gegee aan die tale van die dominante groep. Die gebruik van baie minderheids- inheemse tale is gevolglik beperk tot die gesin, kerk en die kleiner gemeenskap, wat tot die marginalisering en agteruitgang van hierdie tale en kulture lei. Die 1986-inisiatief van die OAE (nou die Afrika-unie) om ’n taalaksieplan vir die erkenning van inheemse tale en die toenemende gebruik daarvan aan te moedig, het maar weinig sukses in die meeste Afrikalande gehad.

 


 Bostaande artikel is deel van ’n reeks uittreksels uit ’n publikasie van die FAK se NP van Wyk Louw-navorsingsentrum getiteld “Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog”. Die skrywer is Elirea Bornman, professor van die Departement Kommunikasiewetenskap aan UNISA.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.