Om te stap vir ’n ander normaal – Dr. Dirk Hermann


Op Donderdag 25 Oktober het ’n oranje golf Sandton getref. Duisende mense het “Genoeg is genoeg!” in die nou strate van Sandton gedreunsing en daar was ’n eggo wat die stemme verder gedra het. By die hoë geboue in die hart van nasionale en internasionale kapitaal het mense vanaf stoepe en luukse daktuine foto’s geneem. Dit was ’n vreemde verskynsel, want mense met oranje hemde en pette het die norm uitgedaag.

Die kern van die dispuut is Sasol se Khanyisa-personeelaandeleskema wat wit mense absoluut op grond van die kleur van hul vel uitsluit. Rasse-uitsluiting word as normaal, nierassig, inklusief, die omarming van diversiteit, regstellend en as gelykheid gesien. Enige weerstand teen die rassenorm en stemme vir inklusiwiteit van almal word as abnormaal, rassisties, uitsluitend, regs, onverdraagsaam en antitransformasie gesien.

Die Solidariteit-lede het in September begin met ’n slimstaking en het eenheid vir eenheid Sasol se instandhoudingsprojek frustreer. Die petrochemiese reus het die krag van kennis beleef en het op die JSE se nuusdiens, Sens, aandeelhouers gewaarsku dat vooruitskattings vir petrolproduksie met tussen 200 000 en 300 000 ton gedaal het. Die Sasol-werkers het Sasol se instandhoudingsprojek met bykans twee weke teruggedruk teen verliese van miljoene rande per uur. Sasol was egter bereid om die miljoene rande te absorbeer ter wille van die kommersiële som van hulle rastransaksie.

Die gevolg is dat die dispuut nou moes skuif van die werksvloer na die hofsaal. Sasol sal nog leer dat ’n geveg om idees is nie ’n geleentheid nie, maar ’n stryd. Sasol is ’n konvensionele maatskappy, Solidariteit is guerrillas met stamina wat veg vir ’n saak.

Die bitter ironie van Sasol Khanyisa se rasse-uitsluiting is dat dit op een van Sasol se kernwaardes, naamlik inklusiwiteit en diversiteit, gebou is. ’n Wit Sasol-werker wat reeds 30 jaar by Sasol werk, kry niks nie en word uitgesluit uit die skema, maar ’n jong, swart werker wat maar slegs drie weke daar werk, kry R500 000 se aandeelwaarde. Streng silo’s van ras word onder die naam van inklusiwiteit en diversiteit gebou. As die wit werkers dan vra of dit nie dalk verkeerd is dat slegs swart mense voordeel kry nie, is hulle die rassiste.

Die Johannesburgse Effektebeurs (JEB), waar Khanyisa op die beurs se transformasiesegment genoteer is, was die stappers se eerste halte. Dié segment van die JEB is juis vir die doel van rasse-uitsluiting geskep. Slegs swart kan daar met swart besigheid doen – ’n klein, hedendaagse tuisland op die JEB. Sasol wil sy transformasiestatus behou en wil seker maak dat sy swart aandele tog net nie in wit hande beland nie. Om op die JEB-tuisland te noteer, moet wit mense uitgeskop word uit die transaksie, want op die bordjie bo die tuisland staan: “Blacks Only.” Die stappers in oranje het dié bordjie uitgedaag.

Om mense op grond van ras uit te sluit, is nie normaal nie en dit mag op geen manier genormaliseer word nie. Indien rasuitsluiting nie as abnormaal aangebied word nie, sal Suid-Afrika voortstrompel van een absurde rasskema na die ander. Die nuutste is President Cyril Ramaphosa se Jeugbemagtigingsprojek, Yes, wat behoeftige wittes uitsluit.

Khanyisa gaan oor aandeelhouding in Sasol. Gewone Sasol-werkers word mede-eienaars van die maatskappy. Dit is erkenning vir hul bydrae en maak hulle deel van die maatskappy se visie. Senior personeel (wit en swart) word reeds deur ander aandeelskemas ingebind in die visie van Sasol. Die enigstes wat daarvan uitgesluit word, is gewone wit werkers. Hulle hoor hulle is nie deel van die maatskappy se werkersmag nie; hul rol word ontken; en hulle word uitgesluit uit die maatskappy se toekomsvisie. Dit lei tot vervreemding en ’n ontkenning van wie hulle is. Onderliggend kom dit neer op ’n ontkenning van ’n stuk menswaardigheid. Dit is nie normaal nie.

Die kernwaardes van die Grondwet van Suid-Afrika is menswaardigheid, gelykheid en vryheid en dit word in daardie volgorde in die Grondwet aangebied. Menswaardigheid mag nie ingeboet word vir gelykheid en vryheid nie. Die konstitusionele hof se Barnard-uitspraak het die belangrikheid van die menswaardigheid van wit mense beklemtoon.

Die regstel van wanbalanse word deur die Grondwet gemagtig, maar nie ten koste van enige persoon se waardigheid nie. Absolute uitsluiting is ’n lui manier om wanbalanse te hanteer.

Die stappers se tweede halte was by Sasol se hoofkantoor en daar het hulle die rigiditeit van Sasol se benadering tot regstelling uitgedaag deur regsstukke op die maatskappy te beteken. Dit kan uitloop op een van die grootste hofsake in Suid-Afrika oor hoe ras in die toepassing van transformasie hanteer word. Kortom, Solidariteit gaan in die hof argumenteer dat die uitsluiting van wit mense neerkom op ’n kwotastelsel wat onder meer deur die Wet op Gelyke Indiensneming verbied word. Die maatskappy is die derde grootste maatskappy in Suid-Afrika en het ’n enorme invloed op die marknorm. Indien Sasol dus nie uitgedaag word nie, gaan rasse-uitsluiting die norm in die mark word.

Die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD), asook die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) magtig die instelling van spesiale maatreëls om rassediskriminasie uit te wis, maar maak sulke maatreëls onderworpe aan streng beperkings: Die eerste is dat sulke maatreëls tydelik moet wees. Die tydelike aard bevestig die abnormaliteit daarvan. Die tweede voorwaarde is dat die maatreëls nie aparte silo’s vir rassegroepe mag skep nie. Verskillende enklaves soos wat deur Sasol se Khanyisa-plan en die JEB se bemagtigingsegment geskep word, is abnormaal. Derdens word ook internasionaal gewaarsku teen die rigiede toepassing van sodanige maatreëls. Vierdens word aanbeveel dat daar eerder na klas as na ras gekyk moet word. Vyfdens is die oorhoofse aanbeveling dat enige spesiale maatreël genuanseerd toegepas moet word, en in die sesde plek word daar internasionaal groot klem gelê op opleiding, ontwikkeling en groei.

Internasionaal, en in Suid-Afrika, word aanvaar dat die regstel van wanbalanse nie net nodig is nie, maar noodsaaklik is. Suid-Afrika gaan egter in ’n morele moeras beland as ’n rassetoekoms sy antwoord op die verlede is. Lui benaderings ten opsigte van ras bring mee dat daar nie na die moeiliker uitdagings en volhoubare oplossings daarvoor, soos effektiewe skole en tersiêre instellings en groei, gekyk word nie. As teikens eerder op opleidingsinsette gerig word, sal rasse-uitsette natuurlik volg. Suiwer rassesyfers neem die mens weg uit die proses en menswaardigheid bly agterweë omdat sakrekenaars die vordering meet. Suid-Afrika se regstelbeleid het misluk en deur net nog meer van ’n mislukking te wil toepas, gaan nie ’n sukses tot gevolg hê nie.

Die Sasol-werkers is gewone mense wat werk. Hulle is nie politici met ’n agenda nie, maar hardwerkende ma’s en pa’s wat vir hul gesinne moet sorg en bekommerd is oor die toekoms van hul kinders. Hulle voel en sien wat die uitwerking van rasse-uitsluiting is en hulle was bereid om op te staan teen iets wat verkeerd is. Hulle het ’n stem laat hoor wat nie normaalweg gehoor word nie. Hulle het ’n “normaal” uitgedaag wat baie groter is as Sasol. Soms moet jy opstaan vir iets wat anderkant die korrektheid van die politiek van die dag is. Die Sasol-werkers en duisende ander saam met hulle het Donderdag 25 Oktober gestap vir ’n ander normaal.


Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.