Ons groot kultuurerfenis – Prof. Danie Goosen

Die Koloseum in Rome, Italie. (Foto: Wikipedia)

Dit is ’n erfenis wat veel groter is as wat uit die moedswillige penne van vyandige kommentators blyk. Ironies genoeg is dit die einste erfenis wat hulle in staat stel om hul ‘kritiek’ uit te spreek, sonder dat hulle natuurlik die nodige erkenning daaraan gee.

’n Klein groepie vyandige kommentators kan nie ophou om aan Afrikaners te verduidelik hoe boos ons verlede is nie. Volgens hulle moet nie net apartheid nie, maar ook ons ganse kultuurerfenis op die ashoop van die geskiedenis gegooi word. Dit is nie net rassisties nie, maar daarby ook nog kolonialisties, patriargaal, seksisties, ondemokraties, hiërargies en deesdae toenemend ook fascisties.

In antwoord hierop staan ons hieronder by enkele eienskappe van die “groot kulturele erfenis” van die Afrikaners stil. Dit is ’n erfenis wat veel groter is as wat uit die moedswillige penne van vyandige kommentators blyk. Ironies genoeg is dit die einste erfenis wat hulle in staat stel om hul ‘kritiek’ uit te spreek, sonder dat hulle natuurlik die nodige erkenning daaraan gee.

Alvorens ons na enkele eienskappe van ons kulturele erfenis verwys, moet slegs twee inleidende opmerkings gemaak word.

Eerstens, ons kulturele erfenis is veel ryker as wat kommentators dikwels dink. Hulle gaan dikwels verkeerdelik uit van die standpunt dat die oorspronge daarvan na die begin van die moderne era teruggevoer moet word, dit wil sê na die tyd aan die einde van die 1400’s. Laasgenoemde is die era wat saamval met die opkoms van die groot territoriale state, die moderne wetenskappe asook die moderne proses van kolonisering.

Inderwaarheid kan die wortels van ons kulturele erfenis veel verder as byvoorbeeld die koloniale era teruggevoer word. Om die waarheid te sê, ons erfenis gaan die koloniale avonture van Europa met meer as 2000 jaar vooraf.

Tweedens, om die diepte van ons erfenis te peil, moet na regte tussen twee groot ‘onderafdelings’ daarvan onderskei word, naamlik die voormoderne en die moderne erfenis. Vyandige kommentators verwys dikwels na slegs die ‘bose’ koloniale erfenis. So vergeet hulle nie net die goeie uit die moderne erfenis nie, maar ons voormoderne erfenis het bykans nie bestaan nie.

Ons voormoderne kultuurerfenis

1. Ons voormoderne erfenis word gesimboliseer deur drie stede uit die oudheid, naamlik Jerusalem (die godsdiens), Athene (die filosofie en die demokrasie) en Rome (die regte). Ons kulturele erfenis is die gevolg van die samevloeiing van hierdie drie tradisies.

 

Jerusalem

Athene

Rome

 

 

 

 

 


2. Die grootste politieke prestasie wat uit dié samevloeiing gespruit het, was die totstandkoming van die Heilige Duitse Romeinse Ryk tydens die Middeleeue. Alhoewel dit nie altyd besef word nie, was die lewensduur van dié ryk veel langer as die Romeinse Ryk. Met die kroning van Karel die Grote in die jaar 800 n.C. is dit gebore en eers ’n volle 1000 jaar daarna, tydens die afloop van die Napoleontiese oorloë, het dit tot ’n einde gekom.

Karel die Grote

Verskeie geleerdes spreek vandag hul groot bewondering vir die Heilige Duitse Romeinse Ryk uit, omdat dit ’n digte netwerk van Europese taal- en kultuurgemeenskappe erken het. Tegelyk is dit gekenmerk deur die afwenteling van gesag na die laagste dele van die sosiale orde (families, gilde, skole, universiteite, lokale regerings, ens.), terwyl die ‘sentrale gesag’ van die keiser dikwels slegs simbolies van aard was.

Terselfdertyd is die Middeleeuse orde reeds gekenmerk deur dinge waarvan die oorsprong dikwels verkeerdelik na die moderne wêreld teruggevoer word, soos die konstitusionele denke, die oppergesag van die wet, die skeiding tussen kerk en staat, die erkenning van die regte van die individu en die demokratiese inspraak van gemeenskappe in eie sake. “Hierdie eienskappe is erfgoed uit die voormoderne tradisie en in die besonder uit dié tydperk van die Christendom wat ons moderne mense verkeerdelik as ‘die Donker Tydperk’ beskryf,” skryf Patrick Deneen.

 

3. Ondanks die negatiewe vooroordeel oor die Middeleeue waarna Deneen verwys, het dié tydperk – en in die besonder die sogenaamde Hoë Middeleeue vanaf 1050 tot 1350 – ook merkwaardige kulturele prestasies behaal.

Gotiese katedraal

In hierdie verband hoef ons slegs te verwys na dinge soos die bykans ongeëwenaarde argitektuur van die Gotiese katedrale; die kloosters wat die geleerdheid uit die Klassieke wêreld oorgedra het; die universiteite wat uit die kloosters gegroei het; die grootse teologiese, filosofiese en wetenskaplike denke wat daarin geblom het; die magistrale musiek, kuns en skryfkuns uit die renaissance van die 12de eeu; die riddersetiek en die militêre ordes waarmee die integriteit van Europa beskerm is, ensovoorts.

Geen wonder dat 20ste-eeuse denkers soos G.K. Chesterton, J.R.R. Tolkien, C.S. Lewis en Christopher Dawson so ’n groot bewondering vir dié tydperk gehad het nie. Tolkien se Lord of the Rings is in vele opsigte bedoel om aan die grootsheid daarvan te herinner.

4. Ten slotte moet ons ook verwys na hoe die mens in dié tyd ervaar is. Alhoewel dit dikwels vreemd op die oor van die moderne individu val, het ons voormoderne erfenis die mens as ’n gemeenskapswese ervaar. Alhoewel dit ’n sin vir die individu gehad het, was die mens in die eerste plek ’n lid van ’n veelheid van gemeenskappe, soos jou familie, gilde, plaaslike dorp, stad, ryk en kerk. Om mense sonder hul deelname aan hul veelheid van gemeenskappe te bedink, was kwalik moontlik. Die mens was mens in en deur sy of haar deelname aan gemeenskaplike sake.

Die feit dat die mens toe ’n gemeenskapswese was, was gegrond in die feit dat die ganse ‘skepping’ as ’n grootse gemeenskap ervaar is waarin alle mense, diere, plante en selfs klippe daarna gestrewe het om die ware, die goeie en die skone in ooreenstemming met hul eie aard en wese te verwesenlik.

Ons moderne kultuurerfenis

Alhoewel die moderne wêreld geweldige prestasies (veral op die gebied van wetenskap en tegniek) behaal het, het dit ook met ontwrigting gepaard gegaan. Hier stem ek deels met bogenoemde kommentators saam. Anders as wat hulle egter voorgee, is die moderne kultuurerfenis nie net (onder meer vanweë sy kolonialisme) ‘boos’ nie. Dit word ook deur talle goeie dinge gekenmerk. Ongelukkig het ons ruimte om slegs na drie eienskappe te verwys:

  1. Soms het die voormoderne kultuurerfenis te veel klem op die gedagte van gemeenskap geplaas. So is in die outyd die risiko geloop om die skeppende enkeling aan bande te lê. ’n Uitstaande kenmerk van die moderne kultuurerfenis is daarenteen om die individuele mens uit te sonder. En die ruimte te bied waar die individu tot sy reg kan kom.

Ironies hiervan is dat kritici van die moderne kultuurerfenis dikwels ’n beroep op die belangrikheid van die individu doen sonder om te besef dat dit juis dié erfenis is wat die individu uitgesonder en selfs moontlik gemaak het.

Hoe ook al, vandag is ons gekonfronteer met die negatiewe kante van die moderne (en oormatige) klem op die individu. In die nawerking van die moderne kultuurerfenis het ons vandag met die sogenaamde hiper-individuele mens te doen. Laasgenoemde is dié mens wat homself van enige kultuurerfenis losmaak. En slegs in ooreenstemming met sy eie keusevryheid lewe (en nie ingevolge die kultuurerfenis nie).

In antwoord daarop is dit vandag belangrik om ’n balans tussen gemeenskap en individu op te soek. Om dit te kan doen, is die voorbeeld van beide genoemde erfenisse noodsaaklik, sowel die voormoderne as die moderne erfenis. Ons is nie net individue of net gemeenskapswesens nie, maar beide, sowel individu as gemeenskapswese.

  1. Die grootste politieke prestasie van die moderne kultuurerfenis was die skepping van die moderne territoriale state. Deur middel van dié state is groot gebiede by wyse van dinge soos spoorlyne, paaie, posdienste, polisiëring, gesondheidsdienste en velerlei ander instrumente ‘gestandaardiseer’.

Anders as wat uit ’n eensydige kritiek op die territoriale state mag blyk, het hierdie standaardisering van groot gebiede ’n belangrike (selfs onontbeerlike) rol in die ‘modernisering’ van die wêreld gespeel. Die feit dat miljoene mense uit die nie-Westerse wêreld vandag na die voordele daarvan smag en ten alle koste daarheen wil emigreer, spreek vanself.

Tegelyk kan ons ook nie blind wees vir die enorme probleme wat met die moderne territoriale state gepaard gegaan het nie. Vanaf Edmund Burke (1729–1797) en Alexis de Tocqueville (1805–1859) tot en met Robert Nisbet (1913–1996) het ons geleer dat die territoriale state dikwels ’n oorlog teen gemeenskappe, tale en hul veelheid van instellings voer. Anders as in die voormoderne kultuurerfenis poog state telkens om self volledig beheer oor die instellings van gemeenskappe uit te oefen. Die Suid-Afrikaanse staat met sy radikale onbegrip vir die veelheid van gemeenskappe verteenwoordig nie ’n uitsondering hierop nie.

Kortom, vanuit ’n gemeenskapsperspektief is dit vandag noodsaaklik om weer die voorbeeld van die voormoderne kultuurerfenis op te soek, omdat gemeenskappe daarin groot vorme van selfstandigheid geniet het.

  1. Tydens die moderne era het mense bewus geword van die onmeetlike grootsheid van die kosmos waarvan hulle deel is. Selfs nog meer as in die voormoderne erfenis het die moderne mens bewus geword van die misterie van die ganse werklikheid.

Tegelyk het die moderne bewussyn dikwels gepaard gegaan met die gevoel dat daar geen waarheid, skoonheid en goedheid in die werklikheid self aan te tref is nie. Alles is eerder die gevolg van toeval, meganiese kragte en ’n blinde noodlottigheid.

Ook wat hierdie saak betref, is ’n regstelling vanuit die ou wêreld vandag noodsaaklik. Te midde van die onmeetlike grootsheid van die kosmos kan steeds spore van die ware, die skone en die goeie in die dinge nageloop word.

One Response to “Ons groot kultuurerfenis – Prof. Danie Goosen”