OPSOMMING: Kultuurvryheid en selfbestuur – Hoofstuk 1


Hoofstuk 1

Outonomie vir verspreide kultuurgroepe: Is die kultuurraad-geesteskind van Bauer en Renner relevant in die moderne era? – Bertus de Villiers

deur Christoff van Wyk

In hierdie hoofstuk van Kultuurvryheid en selfbestuur, bespreek Bertus de Villiers die moontlike oplossing wat kultuurrade kan verskaf vir die probleem van ongelykheid tussen kultuurgroepe en veral waar hierdie groepe die minderheid vorm binne ’n spesifieke staatkundige bedeling. Dit wil al hoe meer blyk dat die demokratiese liberale teorie, selfs in gevestigde demokrasieë, nie voldoende beskerming verleen aan die taal- en kultuurbelange van minderhede nie. Om hierdie rede word daar die afgelope paar dekades gekyk na meer effektiewe mates om hierdie uitkoms te bewerkstellig.

“’n Besondere uitdaging vir grondwetlike reg, veral in Suid-Afrika, is om aan kulturele minderheidsgroepe wat verspreid woon en nie oor ’n eie grondgebied beskik nie, grondwetlike regte en beskerming te verleen?”[1]

Dit is egter duidelik dat die wyse waarop kulturele minderheidsgroepe se regte in die praktyk toepassing vind, problematies is omrede ’n land of provinsie net tot op ’n punt in kleiner dele verdeel kan word.

De Villiers wys egter daarop dat die probleem nie ’n nuwe verskynsel binne die ontwikkeling van die moderne grondwetlike bedeling is nie. Selfs in Wes-Europa waar die nasiestaat sy oorsprong van het, is daar byna geen state wat homogene bevolkings huisves nie. Dié probleem vind natuurlik ook nie net neerslag in Europa nie.

“Inteendeel, jong demokrasieë in Afrika, die Midde-Ooste, Asië en die Amerikas stoei bykans sonder uitsondering met die vraag oor hoe om kultuurgroepe wat nie oor ’n eie grondgebied beskik nie, se aansprake op selfregering, selfbestuur, outonomie of selfdeterminasie te akkommodeer.”[2]

In die res van die hoofstuk verduidelik Bertus de Villiers die moontlike, nieterritoriale oplossing van kultuurrade wat sy oorsprong by twee Oostenrykse filosowe, Otto Bauer en Karl Renner, gehad het. Hulle idees kon egter nooit in praktyk getoets word nie as gevolg van die Eerste- en Tweede Wêreldoorlog, sowel as die aanbreek van kommunisme. Daar is egter opnuut belangstelling in Europa in hul idees en groot gedeeltes van hul geskrewe werke is reeds uit Duits na Engels vertaal.

Alvorens De Villiers die Oostenrykers se idees bespreek, behandel hy tegnieke wat tans in die staatsreg bestaan om kultuurgroepe se regte te beskerm, asook die tekortkominge wat hierdie tegnieke in die gesig staar. Die tegnieke sluit onder meer in:

  • Desentralisasie van magte na streeks- en plaaslike regerings;
  • Kiesstelsels wat verseker dat minderhede verteenwoordiging in wetgewende instellings kry;
  • Beskerming van individuele regte en vryhede sodat lede vrylik kan assosieer;
  • Erkenning van tradisionele owerhede;
  • Formele en informele magsdeling; en
  • Die stig van kultuurrade.

Die groot uitdaging bly egter om die regte en outonomie van kultuurgroepe wat verspreid oor ’n groot gebied en vermeng met ander lede van die bevolking woon, te erken en te beskerm.

Bauer, Renner en hul wêreld

De Villiers bespreek in detail wie Renner en Bauer was, asook die omstandighede waarin hulle geleef het toe hulle met hul idees vorendag gekom het. Bauer en Renner was regsgeleerdes, politieke leiers en filosowe wat in Oostenryk geleef het tussen 1870 en 1950. Hulle het in onsekere tye geleef wat afgewissel is tussen plaaslike sowel as ingrypende internasionale konflik. Vanuit hierdie onsekerhede en die vrae oor regering het hul idees ontwikkel.

“Die Oostenryks-Hongaarse Ryk het ’n bevolking van ongeveer 53 miljoen mense gehad, met ten minste 15 verskillende kultuurgroepe of ‘nasies’ soos wat die kultuurgroepe destyds bekend gestaan het.”[3]

Die verskillende groepe se belange moes op die een of ander wyse binne die een nasiestaat versoen word en dit was die groot vraag waarmee hulle gestoei het.

“Hulle was dit eens dat die klassieke territoriale modelle van federasies soos die VSA, Kanada en Switzerland nie vir die Ryk gepas was nie omdat die onderskeie gemeenskappe in die Ryk vervleg gewoon het en verder dat ’n federasie soos in Switserland, waar elke kultuurgemeenskap deur middel van streeksregerings indirekte beheer oor hulle eie sake kon kry, ook nie vir die Ryk gepas was nie.”[4]

Die oplossing wat hulle voorgestel het vir die probleem was, “ … dat outonomie aan kultuurgroepe toegeken kan word om op ’n nie-territoriale basis self besluite oor die sake wat vir die taal, kultuur en tradisies van die gemeenskap belangrik is, te kan neem.”[5]

Die wyse waarop hierdie idee praktiese uitvoering sou vind, was deur die stigting van ’n regspersoon met verkose lede wat in die vorm van ’n kultuurraad sou optree en nie geografies gebonde sou wees nie. Daar is baie om te verstaan rondom hierdie begrip en gevolglik bespreek De Villiers ses vrae wat sal help om duidelikheid te gee oor hoe kultuurrade kan werk en spesifiek hoe hierdie idee moontlike toepassing kan vind in moderne grondwette:

  1. Wat is nasionaliteit?
  2. Is lidmaatskap van ’n nasionaliteit staties of dinamies?
  3. Bepaal die grootte van ’n nasionaliteit of die groep of hulle outonomie kan kry?
  4. Hoe belangrik is dit dat elke nasionaliteit ’n eie grondgebied het?
  5. Waarom behoort nasionaliteite hulle eie regerings te kan vestig?
  6. Wat is die tipiese magte wat ’n kultuurraad kan uitoefen?

Hierdie vrae word breedvoerig bespreek en daarna in ’n volgende paragraaf word die vraag rondom die relevansie van Bauer en Renner se idees vir moderne grondwette getakel.

De Villiers gee aan die hand van Bauer en Renner se idees, 13 praktiese voorstelle oor hoe die konsep van kultuurrade moontlik beslag kan vind:

  1. Kultuurrade wat ontstaan en ’n wye spektrum van behoeftes aanspreek wat wissel van privaat organisasies tot formele regerings met wetgewende en uitvoerende bevoegdhede;
  2. Nieregeringskultuurrade wat op universele beginsels funksioneer teenoor regeringskultuurrade wat magtigende wetgewing vereis;
  3. Kultuurgroepe moet volgens hul eie wil en strewe die geleentheid gegun word om kultuurrade te stig, maar geen groep mag gedwing word om so raad te stig nie;
  4. Wetgewing moet duidelik die definisie van ’n gemeenskap, reëlings oor lidmaatskap en dispuutbeslegting omskryf en reguleer;
  5. Vrye assosiasie moet erken en beskerm word;
  6. Geen individue mag verplig word om deel te wees van ’n kultuurraad of teen hul wil tot een of ander kultuurraad geklassifiseer word nie;
  7. “Die aard van die instellings wat namens ’n kultuurgroep besluite neem, hang af daarvan of dit ’n privaatregtelike kultuurraad of ’n publiekregtelike kultuurraad is.”[6]
  8. Onderskeid tussen privaatregtelike en publiekregtelike kultuurrade en hul verskillende bevoegdhede sal getref word;
  9. Die jurisdiksie van kultuurrade sal op nieterritoriale wyse uitgeoefen word;
  10. Kultuurrade mag differensieer op grond van sekere kenmerke, maar nie teen individue diskrimineer nie;
  11. Befondsing sal wissel na gelang van die feit of die spesifieke kultuurraad ’n private of publieke organisasie is;
  12. Die doel van die kultuurraad moet ten alle tye wees om die nasionale belang te bevorder en nie ’n instelling wat nasiebou en patriotisme ondermyn nie;
  13. Kultuurrade kan uiteindelik in drie kategorieë verdeel word na aanleiding van die funksie wat hulle vervul nl. informele kultuurrade (private klubs), statutêre kultuurrade (bevoegdhede soos ’n regering) en dan kultuurrade wat tussen dié twee bogenoemde sfere funksies verrig soos nodig.

Ten slotte maak De Villiers die opmerking dat “…, nieterritoriale outonomie by wyse van privaatinstellings en selfs die stigting van ’n amptelike kultuurraad,” wat betref die Afrikaanse gemeenskap, “’n strewe is wat realisties is; internasionale presedent het; en tot versoening en opbou van Suid-Afrika kan bydra.”[7]

De Villiers se aanbieding skep ruim geleentheid vir verdere bespreking oor ’n moontlike oplossing vir ’n probleem wat tans uiters relevant is, veral vir Afrikaners.

Christoff is tans bestuurder van die NP van Wyk Louw Toekomssentrum

Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd (Matthee, H.) is beskikbaar by Kraal Uitgewers en kan bestel word van hul webblad deur hier te kliek.  

 


[1] Matthee, H. Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd, Kraal Uitgewers, Pretoria (2017), bl. 26.

[2] Matthee, H. Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd, Kraal Uitgewers, Pretoria (2017), bl. 27.

[3] Matthee, H. Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd, Kraal Uitgewers, Pretoria (2017), bl. 33.

[4] Matthee, H. Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd, Kraal Uitgewers, Pretoria (2017), bl. 34.

[5] Matthee, H. Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd, Kraal Uitgewers, Pretoria (2017), bl. 35.

[6] Matthee, H. Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd, Kraal Uitgewers, Pretoria (2017), bl. 50.

[7] Matthee, H. Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd, Kraal Uitgewers, Pretoria (2017), bl. 51.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.