OPSOMMING: Kultuurvryheid en selfbestuur – Hoofstuk 2


Hoofstuk 2

’n Menseregteraamwerk om Afrika se taalminderhede te beskerm – Innocent Maja

deur Christoff van Wyk

In dié hoofstuk van Kultuurvryheid en selfbestuur, bespreek Innocent Maja die wyse waarop kultuurgroepe in Afrika, dikwels primêr op grond van hul taal geïdentifiseer word en hoe nuwe en bestaande wetgewing gebruik en verbreed kan word om taalminderhede en minderheidstale voldoende te beskerm.

Maja maak heel aan die begin van sy artikel die volgende stelling rakende die wyse waarop mense in Afrika die verband tussen die individu en die gemeenskap beskou: “In Afrika word individue beskou as deel van en in harmonie met hulle gemeenskap, eerder as onafhanklik of in konflik daarmee. Mense word mense in ’n gemeenskapskonteks en deur hulle kultuur.” Hy maak ook die volgende stelling wat uiters relevant is: “Kulturele identiteit definieer dus die reg op identiteit in Afrika.”

Volgens Maja is taal een van die kernelemente wat die kulturele identiteit van mense in Afrika opmaak. Dit is daarom belangrik dat bestaande wetgewing, plaaslik sowel as internasionaal, ontleed en beoordeel moet word om te bepaal of voldoende beskerming verleen word aan taalminderhede en minderheidstale.

“… minderhede in Afrika bly omstrede en problematies.”

Die postkoloniale nasiestaat-model wat voortgesit is deur verskeie Afrikalande, selfs na onafhanklikheid, het die taalprobleem vererger. Maja verwys na Bamgbose wat twee benaderings identifiseer wat deur postkoloniale state in Afrika gevolg word, nl. Die taal-as-’n-probleem-ingesteldheid of die taal-as-’n-hulpbron-ingesteldheid.

Afhangend van watter benadering gevolg word, spruit daar weer twee ander tendense voort, nl. Afrikalande (26 in totaal) wat geen inheemse taal amptelik erken teenoor die res van Afrika waar inheemse asook sekere minderheidstale amptelike erkenning geniet.

Wat egter problematies is ten opsigte van die tweede tendens is dat dié erkenning dikwels net simbolies van aard is en dat die wetgewing wat die gebruik van die tale reguleer, ontbreek of bloot nie geïmplementeer word nie. Suid-Afrika en Zimbabwe is sprekende voorbeelde hiervan. Die verlies van die gebruik van verskillende tale kan direk herlei word na ’n verlies aan kultuur en identiteit. Maja verskaf die volgende statistiek wat werklik tekenend is van die probleem, “… 35 uit die 2000 Afrikatale in 18 lande (is) amptelike tale. Dit sluit (die) 10 amptelike tale in Suid-Afrika (in) …”

Omrede daar “… geen uitdruklike regsraamwerk vir die beskerming van minderheidstale op substreeks- of kontinentale vlak is nie”, soos wat die geval in Europa is, meen Maja dat diskriminasie teen taalminderhede tans besig is om te vererger.

Maja argumenteer dat daar genoegsame internasionale gesag bestaan wat die daarstelling van ’n omvattende menseregteraamwerk vir die beskerming van taalminderhede en minderheidstale in Afrika regverdig. Indien so ’n menseregteraamwerk egter ontwikkel word, sal dit ten minste aan twee kernvereistes moet voldoen, nl. dat taalminderhede hierdeur op gelyke voet met ander burgers geplaas word; en dat dit die effektiewe bewaring van taalidentiteit moontlik maak.

Vervolgens gee Maja ’n definisie van wat bedoel word met minderhede en hy behandel ook kritiek wat geopper word teen die idee van minderheidsbeskerming.

Die res van die hoofstuk word breedvoerig daaraan gewy om twee oplossings te bespreek wat die beskerming van minderheidstale en taalminderhede in Afrika teweeg sal bring aan die hand van ’n menseregteraamwerk.

“Die eerste is die toenemende uitleg van bestaande taalnorme aan die hand van artikel 60 en 61 van die Afrikahandves vir Mense- en Volkereregte. Die tweede is die aanvaarding van óf ’n protokol óf ’n verdrag vir die beskerming van minderheidstale en taalminderhede.”

Temas wat dan verder uit hoofde van dié voorstelle bespreek word, sluit onder andere in: vryheid van uitdrukking; die reg op kultuur; die reg op werk; die reg op onderwys; die reg op ’n billike verhoor; die reg op deelname; die voorkoming van assimilasie van taalminderhede; die reg op identiteit; ens.

Ten spyte van die vele tekortkominge in Afrika met betrekking tot kwessies rakende minderheidstale, taalminderhede en menseregte wat deur Maja uitgelig word, word daar tog ook vordering gemaak. Gemeenskapsleiers soos die uitgesproke Innocent Maja is besig om regoor die vasteland uitstekende werk te verrig in terme van die oplossings waarmee hy vorendag kom. Maja wat self van Zimbabwe afkomstig is en tans ’n regspraktyk in Harare bedryf, is ten nouste verbind tot die stryd teen menseregtevergrype in Afrika. Hy en vele ander denkers kan in dié opsig gesien word as bondgenote vir Afrikaners in ons stryd om die behoud van ons taal en kultuur.


Kultuurvryheid en selfbestuur – Keuses van klein groepe wêreldwyd (Matthee, H. 2017) is beskikbaar by Kraal Uitgewers en kan bestel word van hul webblad deur hier te kliek.  

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.