OPSOMMING: Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 2


Oor Gemeenskap en Plek: Hoofstuk 2

Mede-verskyning en gemeenskaplike sake

deur Victor Correia

 

Met mede-verskyning en gemeenskaplike sake word die dinamiese en statiese vorme van menslike interaksie bedoel. Mede-verskyning vind plaas waar individue “bo-oor ons eie individuele grense uitreik en in verhouding met andere tree”,[1] terwyl gemeenskaplike sake op die “substantiewe, stabiele of konstante”[2] dui. Mede-verskyning is in die sin oop vir invloede van buite, terwyl daar by gemeenskaplike sake ook van grense sprake is. Mede-verskyning vind gestalte in die postmoderne globalisme, terwyl die fundamentalisme gekenmerk word deur ’n eensydige klem op die onveranderlike dinge. Die globalisme en fundamentalisme is in dié opsig direk in stryd met mekaar, maar dit is die fundamentalisme wat volgens Goosen deur die onbegrensde globalisme gevoed word:

Hoe meer die era van globalisering grense verwyder, des te sterker antwoord die fundamentalisme daarop deur onoorbrugbare grense rondom hul gemeenskaplike sake te trek. In hierdie sin is globalisering nie ’n alternatief op die fundamentalisme nie, maar juis die voedingsbron daarvan.[3]

’n Uiterste vorm van mede-verskyning vind ons waar alle grense tot niet gemaak word, geen ruimte vir die substantiewe gegun word nie en dit onmoontlik word om ’n bepaalde identiteit te handhaaf. In die wêreldpolitiek word dit veral in die werkswyse van die Europese Unie opgemerk, waar daar geen ideologiese ruimte vir die begrensing van verskillende identiteite gegun word nie.

Hierdie verwikkeling is volgens Goosen aan die moderne verandering van die begrip “natuur” in iets wat deur die mens manipuleer kan word, te wyte. Terwyl Aristoteles natuur beskou het as iets wat in ooreenstemming met die natuurlike orde van dinge tot stand gekom het, het Hobbes natuur tot ’n menslike skepping gereduseer met die gevolg dat die staat as omvattende vorm van menslike gemeenskap (Aristoteliaanse opvatting) as ’n menslike skepping beskou is.[4] Hobbes is dus die ideologiese voorvader van die onbegrensde mede-verskyning, omdat hy dit vir die mens moontlik maak om die gemeenskap bloot as ’n menslike produk of iets sekondêr tot menswees te beskou. Hierteenoor het Aristoteles sy insig dat die mens ’n gemeenskapswese is, uit die skeppingsorde self afgelei. Vir hom is gemeenskap primêr en die mens se individualiteit van sekondêre belang.

Goosen wil nie die klem eensydig op mede-verskyning en gemeenskaplike sake laat val nie. Eerder vind hy dit nodig om in die era van globalisme weer die Aristoteliaanse opvatting van gemeenskap uit te lig. Hy waak egter daarteen om een of die ander te oorbeklemtoon en meen dat daar eerder ’n balans tussen mede-verskyning en gemeenskaplike sake gehandhaaf moet word.

Teenoor die onbegrensde globalisme, handhaaf Goosen dat daar wel ruimte gemaak moet word vir substantiewe sake. Identiteit is volgens hom net moontlik waar gemeenskaplike sake bestaan. Dit impliseer dat daar met ander gemeenskappe verskil kan word en onderstreep die noodsaak vir grense.[5]

Hy wys op die ironie van die postmodernistiese ontkenning van gemeenskappe en wys hoe die ontkenning van gemeenskappe eintlik ’n bevestiging hiervan is.

Postmoderniste het immers dié een enkele substantief gemeenskaplike saak met mekaar gemeen, naamlik dat hulle teen gemeenskaplike sake is. Ook diegene wat met ander woorde die feit van gemeenskaplike sake ontken, bevestig dit in die oomblik dat hulle dit ontken.[6] [Eie beklemtoning]

 

Opmerking:

Dit laat ’n mens nogal dink aan die wyse waarop postmoderne politieke partye met verskillende ideologiese vertrekpunte verenig teen enige party wat die saak van ’n bepaalde gemeenskap voorstaan.

Ten spyte van die globaliste se beswaar teen gemeenskaplike sake, kan hulle eintlik nie ontken word nie. Daar is vandag verskeie gemeenskappe wat aanspraak op erkenning maak, ten spyte van die vloedgolwe van globalisme wat oor die wêreld spoel.

Die vraag is egter hoe ons hierop moet antwoord? Daar kan maklik in globalisme geantwoord word deur net klem te plaas op die onveranderlike, maar Goosen meen dat ’n gebalanseerde antwoord op die uitdagings wat die globalisme bied, gegee moet word. Daar moet ruimte vir die dinamiese interaksie van individue gemaak word, maar terselfdertyd moet daar ook erken word dat onderskeie gemeenskappe in sover hulle onties bestaan, nie maar weggewens kan word nie. Daar moet erns gemaak word met die verskeie gemeenskappe in die wêreld se stryd om hul eeu-oue tradisies teen die vloedgolf van globalisme te beskerm. Gemeenskappe mag by ander leer en moet ook verander volgens die eise van die tyd, maar hulle hoef nie in alles te verander nie. Verandering is nie ’n doellose imperatief wat net ter wille van “verandering self” hoef te geskied nie.

 

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)

 


[1] Goosen D, 2015. Oor gemeenskap en plek: anderkant die onbehae. Pretoria: FAK, bl. 54.

[2] Ibid., bl. 55.

[3] Ibid., bl. 57.

[4] Ibid., bl. 53.

[5] Ibid., bl. 57-58.

[6] Ibid., bl. 59.

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.