OPSOMMING: Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 3


Oor Gemeenskap en Plek: Hoofstuk 3

Spore van gemeenskap

deur Victor Correia

 

Die Afrikaner het ’n sterk gemeenskapsgevoel onder hulle gehad. Waar daar vandag gewoonlik gevra word watter beroep iemand beoefen, het die ou mense gewoonlik gevra: “Waar kom jy vandaan?” waarna die familiebande uitgelê is. Ten grondslag hiervan was die veronderstelling dat ’n mens nie los van jou verbintenisse kan staan nie.[1]

Vir geslagtelikheid het dieselfde beginsel gegeld. ’n Mens kon nie sommer jou eie geslag kies nie, maar jou identiteit is in ’n groot mate vooraf bepaal deur jou geslag.[2] Dit het vandag verander, maar in hoe mate die mens werklik homself kan definieer los van sy verbintenisse, bly ’n saak van voortdurende diskussie. ’n Man kan kies om ’n vrou te wees en homself soos ’n vrou laat lyk, maar verander dit hom werklik in ’n vrou?

Ook wat ’n gemeenskap betref het, was dit ook gebruik van die ou mense om met die keuse van huweliksmaats die gemeenskappe waaruit iemand voortkom eers goed te keur voordat die persoon uit daardie gemeenskap aanvaar kon word. In die verband onthou ek dat my oupa se suster eenmaal met ’n Engelsman wou uitgegaan, maar die verhouding is afgekeur. Hierteenoor word nie meer vandag gevra uit watter gemeenskap iemand kom nie, maar eerder of die individue vir mekaar goed sal wees.

Dit bring ons by die vraag wat Goosen stel: Is gemeenskap ‘my’ keuse of is gemeenskap ’n keuse wat vir my gemaak is, nog voordat ek kon kies?

Gemeenskap as keuse

Die uitdrukking ‘my’ gemeenskap kan individualisties opgevat word, asof die gemeenskap waaraan ek behoort in die eerste plek deur my self gekies is. Filosowe soos Hobbes, Locke en Rossouw het vir die beskouing ruimte gemaak deur aan die mens te dink as ’n louter individu in die eerste plek. Die mens kom volgens hulle in die wêreld as ’n losstaande atoom (los van enige gemeenskapsverbintenisse) en kan self besluit aan watter gemeenskappe hy homself wil verbind.[3]

Die beskouing sluit ook in die mens kan kies om ’n globale burger te wees en hom nie op plaaslike vlak aan enige gemeenskap wil verbind nie. In menigte jong Afrikaners is hierdie keuse logies teen die agtergrond van die verwronge beeld van die Afrikanergeskiedenis wat heimlik stel dat alle verbintenisse tot die gemeenskap verbreek moet word as ons vooruit wil beweeg. Keusevryheid bring ook mee dat daar vandag gekies kan word in watter land jy wil gaan bly en watter taal jou kinders op skool moet leer. Selfs by hul wat gekies het om te immigreer, bly die verlange na hul tuisland in baie gevalle nog sterk. Ook die Afrikaner wat kies om uit Afrikanergeledere te bedank, bly nieteenstaande sy keuse tog ten diepste ’n Afrikaner en sal hulle waarskynlik ’n groot identiteitskrisis ontwikkel.

Goosen wys ons op ’n ander weg. Gemeenskap kan nie net beperk word tot ons eie keuse nie, want gemeenskap is ten diepste ’n geskenk. ’n Geskenk wat ’n mens of met dank kan aanvaar of met groot moeite kan ontken.

Gemeenskap as geskenk

My ‘gemeenskap’ kan ook bedoel dat die individu juis sy bestaan aan die gemeenskap waaraan hy behoort te danke het. Die eeu-oue insig word deur Goosen soos volg verwoord:

Vanuit die tradisie beoordeel, het die inisiatief in die besitsverhouding vanuit die gemeenskap self uitgegaan. Alvorens ek kon besluit tot watter gemeenskap ek wou behoort, was ek – altyd alreeds – opgeneem in en deel van ’n bepaalde gemeenskap. Vroeër was dit dus nie soseer die individu self wat besluit het aan watter gemeenskap hy wil of nie wil behoort nie, maar eerder die gemeenskap wat my gekies het.[4]

Gemeenskap word volgens die opvatting as ’n geskenk beskou wat tot die geboorte van ’n kind teruggaan: “Vandat ek die eerste keer my oë oopgemaak het, was ek daarvan bewus dat ek – altyd alreeds – deel van ’n sekere gemeenskap was, dat ek daarin opgeneem was, dat ek daaraan behoort het.”[5] Met verwysing na Hans Urs van Balthasar word die punt verder onderstreep. Balthasar:

Nadat ’n moeder vir baie dae en weke vir haar kind geglimlag het, ontvang sy eindelik ’n glimlag in antwoord van haar kind.[6]

Vanuit die oogpunt dat ’n kind geen keuse uitoefen oor hul eie ontstaan nie, kan geargumenteer word dat die mens op ’n soortgelyke wyse sy individualiteit aan die gemeenskap waarin hy gebore is te danke het. Dit hoort nie in spanning met die mens se individualiteit gesien te word nie, maar deur die ondersteuning van die gemeenskap word die individu juis tot besondere prestasies in staat gestel wat hy kwalik op sy eie sou kon bereik.

Identiteitslose massas

Hoewel vooruitgang op soveel gebiede plaasgevind het in die moderne era, blyk daar een aspek van moderniteit te wees wat aan ’n geweldige sielkundige kwaal lei. Die individualis mag homself as outonoom beskou en hom oneindige moontlikheid van keuses voorhou, maar terselfdertyd word die laaste eeu deur geweldige angs en alleenheid gekenmerk. Dit blyk verband te hou met die verlies van egte gemeenskapsbande, waarin dit gebalanseer word deur veiligheid in die massas te vind.

In die mate waarin egter gemeenskap op die agtergrond tree, in daardie mate tree die massa na vore om vir die verlies van gemeenskap te kompenseer.[7]

Individue wat van hul gemeenskapsbande gestroop is, bly steeds in die moderne era deur ’n sin van “behoort aan ’n groter groep” gekenmerk. Dit spruit moontlik uit die eie besef van onvergenoegdheid, wat die vroeër gedagte dat die mens ’n gemeenskapswese is, onderstreep. As die mens ʼn louter individu was, sou hy nie die aansluiting met die groter groep gesoek het nie.

Dit het daartoe gelei dat die naamlose massas so maklik deur moderne totalitêre bewegings bekoor kon word. Hulle het die ware soeke na gemeenskap, verwar met deel wees van die massa.[8] Terwyl die gemeenskapsbesef in die moderne tyd op ’n intellektuele vlak ontken is, het die praktyk van die dag dit bevestig dat mense ten diepste ’n behoefte het om aan ’n gemeenskap te behoort. Waar mense van ware gemeenskapsbande ontneem word, word gemeenskap steeds gesoek in die massas.

 

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)

 


[1] Goosen, 2015. Oor gemeenskap en plek: anderkant die onbehae. Pretoria: FAK, bl. 61.

[2] Ibid.,

[3] Ibid., bl. 62-63.

[4] Ibid., bl. 63.

[5] Ibid., bl. 64.

[6] Eie vertaling van Von Balthasar, H.U. 2005. Love alone is credible. Aangehaal deur Goosen ibid., bl. 65.

[7] Ibid., bl. 67.

[8] Ibid.

 

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.