OPSOMMING: Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 4


Oor Gemeenskap en Plek: Hoofstuk 4

Gemeenskap en nabootsing

deur Victor Correia

Die vryswewende individu kom nie daarvan weg dat hy wil behoort aan ’n groter groep nie. Dit onderstreep die punt wat vroeër gemaak is dat die mens per definisie ’n gemeenskapswese is. Hoewel sy begeertes op ’n individualistiese wyse deur die media uitgebuit word, is ’n groot deel van die sukses van verskeie advertensieveldtogte dat daar aan ’n veel dieper behoefte van die mens om “te behoort” voldoen word.

Goosen wys daarop dat begeertes op ’n besondere wyse met nabootsing van ander mense saamhang:

So begeer ek nie die Alfa Romeo omdat my begeerte daarvoor as’t ware spontaan vanuit my eie individualiteit voortvloei nie.

Ek begeer eerder die Italiaanse motor omdat ek die begeertes van betekenisvolle andere (soos ’n suksesvolle besigheidsman, resiesjaer, verleidelike vrou, politieke leier, jongste estetiese voorskrifte, ensovoorts) naboots.[1]

Dit verduidelik trouens waarom maatskappye groot geld belê om internasionale sterre te kry om hul produkte te bemark. Daar word ’n assosiasie tussen die superster en die man op straat gemaak met die produk as die middelman. Dit bring ons uit by die rol wat die gemeenskap speel in die vorming en beperking van menslike begeertes.

Begeertes is ’n gemeenskapsaak

Dit is Rene Girard wat begeertes as ’n gemeenskapkwessie beskryf het. Dit sluit goeie en slegte begeertes in. Eerstens die goeie. Die nabootsing van goeie begeertes deur middel van opvoeding skenk ’n bepaalde stabiliteit aan ’n samelewing. Dit vorm tradisie.[2] Dit sien ons waar ouers hul waardes aan hul kinders oordra, of waar skole en universiteite die waardes van ’n gemeenskap oordra na die volgende geslag toe.

Slegte begeertes kan wel ook nageboots word, waar daar bv. vir ons kinders geleer word dat hulle self kan kies wat reg en verkeerd is, sonder om aan hulle enige leiding te gee. Terwyl mense se keuses binne ’n gemeenskap begrens is, wil die moderne mens geen grense aan sy kiesmoontlikheid stel nie. Hy wil self kies wat om te begeer en in geen opsig die gemeenskap aan hom laat voorskryf nie.

Goosen wys daarop dat die verwydering van grense nie vrede tot gevolg het nie, maar eerder anargie soos ons dit vandag beleef. Elke dag as ons die nuus lees, sien ons dat die een se vryheid die ander se dood kan beteken, wat vir ons wys dat dit wel nodig is om mense se begeertes te beperk, soos dit in vroeër gemeenskappe wel gedoen is.

Beperking van begeertes hoef op sigself nie as negatief beskou te word nie. Vandag voel ’n mens dikwels so oorweldig deur al die moontlike keuses dat dit ’n mens tot wanhoop kan stem. Waar ’n mens binne ’n gemeenskap minder keuses het, kan dit ook die lewe vergemaklik dat ’n mens meer sekerheid verkry oor dit wat jy behoort te doen.

 

Las Vegas die stad van onbeperkte begeertes

Las Vegas en Parys word as voorbeelde van die moderne en tradisionele gemeenskappe voorgehou. Las Vegas is die stad met onbeperkte keuses waar die mens se begeertes vir alle aardse dinge bevredig kan word. Las Vegas wat vol advertensieborde hang, verkondig die boodskap dat elke denkbare begeerte van die mens (al is dit sondig) hier bevredig kan word. Die stad is tekenend van ’n samelewing waar individue op die bevrediging van hul eie begeertes ingestel is.

In die land van Las Vegas streef elke huweliksmaat, elke kind, elke student, elke werker, elke bestuurder, elkeen onafhanklik in wedywering teenoor die ander vir hul eie belang. Die leuse van die land is “niks op aarde is vir my verbode nie” en dit word gekenmerk deur ’n totalitêre toewyding aan hierdie wêreld. Moderne mense leef dus net vir hulself, maar juis hierin is ook die donker kant van die moderne samelewing te vinde.

Las Vegas kan ook beskryf word as ’n stad van alleenlopers. Dit is hulle wat nie vreugde in hul gemeenskappe kon vind nie, wat in die stad na bevrediging van hul individuele begeertes gaan soek. Tussendeur die massas bly diegene wat hul vervulling in hul individuele begeertes soek nog leeg, omdat begeertes ten diepste net binne ’n gemeenskap vervul kan word. Dit verduidelik trouens waarom selfmoord binne die moderne samelewing meer gereeld plaasvind. Mense wat tot die gevolgtrekking kom dat niks in hierdie lewe vir hulle vervulling van hul begeertes kan bied nie word deur ’n geweldige gevoel van wanhoop getref wat soms tot selfmoord lei.

Parys die stad van begrensde begeertes

Parys van die Middeleeue staan hierteenoor bekend as ’n stad waar die mens se aardse begeertes beperk is. In die stad het die gemeenskapslewe rondom die kerk gedraai. Dit is ’n stad waar die mens se begeertes wel beperk is, maar daar is minder wanhoop in hierdie stad, omdat daar juis in die begrensing van die mens se begeertes meer betekenis aan sy lewe geheg is deur hom te wys op die groter sin van die lewe. Die lewe het in die stad nie net om die selfsugtige vervulling van die mens se eie begeertes gedraai nie, maar om God en ander in die gemeenskap.

Dieselfde kerk wat die mens teen verskeie valse begeertes gewaarsku het, het die pad na die ewige lewe gewys en ’n boodskap van hoop uitgestraal. Juis in die transendente strewe na nie-materiële deugde (goeie, ware en skone) is begeertes na die horisontale dinge beperk. Hier kan ’n mens net dink aan die Christelike deug van vergenoegdheid wat leer dat ons alles in Christus het, daarom kan ons vergenoegd wees met dit wat ons op aarde het. Die moderne mens wil niks van die beperking van sy begeertes weet nie.

 

Samevatting

Goosen sluit af deur op ’n aanhaling van Ross Douthat te wys waarin hy verduidelik waarom selfmoord onder middeljarige Amerikaners vanaf 2002 aansienlik gestyg het.[3]

… there’s a strong link between suicide and weakened social ties: people – and especially men – become more likely to kill themselves “when they get disconnected from society’s core institutions (e.g. marriage, religion) or when their economic prospects take a dive (e.g. unemployment).” That’s exactly what we’ve seen happen lately among the middle-aged male population, whose suicide rates have climbed the fastest: a retreat from family obligations, from civic and religious participation and from full-time paying work.

Dit hoef ons nie te verbaas dat daar in Suid-Afrika, waarin Afrikanermans deur middel van swart bemagtiging gemarginaliseer word, elke nou en dan ’n berig is van ’n man wat selfmoord gepleeg het nie. Dit geld veral vir hulle wat grootgeword het in gemeenskappe waar mense na mekaar omgesien het, maar hulself nou in ’n individualistiese gemeenskap bevind waar elkeen vir homself sorg. Hulle probeer immers, maar weinig kry dit reg.

Die punt is dat gemeenskappe ’n geweldige belangrike rol speel in die beperking en rigting van individue se begeertes. Gesonde gemeenskappe kan ’n ontsaglik belangrike rol speel om verlore individue te wys op meer edele begeertes wat nagestreef kan word. Selfs Maslow het later in sy lewe besef dat die mens se lewe nie net om selfverwesenliking kan draai nie, maar ware vervulling juis daarin geleë is om ander se geluk te soek.

Aangesien ons kinders by uitstek ook eendag die gemeenskappe waarin hulle grootgeword het, gaan naboots, is die noodsaak van goeie en gesonde gemeenskappe waarin ons kinders kan grootword uiters belangrik.

Hoewel daar gepoog is om Goosen se hoofstuk op te som, bevat die stuk die skrywer se interpretasie van Goosen. Die leser word aangemoedig om die betrokke hoofstuk self te lees.

 

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)


[1] Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek: anderkant die onbehae. Pretoria: FAK. bl. 70.

[2] Ibid., bl. 71.

[3] Ibid., bl. 79.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.