OPSOMMING: Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 5


Oor Gemeenskap en Plek: Hoofstuk 5

Gemeenskap en werklikheid 

deur Victor Correia

1+1=3

“In besonder kan verwys word na die verskil tussen die tradisie, wat die werklikheid met ’n deelnemende gemeenskapsgebeure vergelyk het, en die modernisme, wat die werklikheid as leeg, sonder doel of sin en – om dit nogmaals dramaties te formuleer – as ’n gewelddadige (monsteragtige) gebeure ervaar het.”[1]

Tot dusver is daar heelwat stilgestaan by die wyse waarop die moderne wêreld die mens verander het in ’n onverbonde, eensame mens. Die mens word as vry beskou, omdat hy self kan kies tot watter verbintenisse hy homself wil verbind. Tog word dieselfde mens gekenmerk deur ’n gebrek aan sin en leegheid. Hoewel die tradisionele gemeenskappe nie dieselfde keusevryheid gehad het nie, het elkeen sy plek meer sinvol binne die groter gemeenskap ervaar. As ons wil verstaan hoekom die moderne mens vanaf ’n gebonde gemeenskapswese na ’n ongebonde individu verander het, moet daar ondersoek ingestel word na die wyse waarop die werklikheid self verander het.

Ontologie verwys na die leer van die totale werklikheid, waarin God, die wêreld en die mens ingesluit is. Goosen praat in die opsig van die “geheel” en bring ons onder die indruk van hoe die moderne ontologie van die tradisionele verskil het, deur hul met mekaar te kontrasteer. Vervolgens sal ons die verskil tussen die tradisionele en moderne ontologie bespreek.

Tradisionele ontologie

In die tradisionele (of pre-moderne) wêreld is die werklikheid as deelnemende gemeenskapsgebeure verstaan. Met die laasgenoemde is bedoel dat dinge nie van mekaar losgemaak kan word nie. Selfs die geheel kan nie los van die dinge bedink word nie, maar het “in en deur die medeverskyning en deelname aan dinge aan mekaar gebeur”.[2] Om dit te verduidelik, maak Goosen gebruik van Augustinus se musikale beskrywing van die werklikheid:

Augustinus, een van die belangrikste vertolkers van die tradisie, het daarom ook gepas na die kosmiese geheel van dinge in musikale metafore verwys. Volgens Augustinus kan die kosmiese geheel met ’n sublieme psalm vergelyk word. Nog nader geformuleer, die geheel was soos ’n musikale gemeenskapsgebeure. Ingevolge hierdie musikale beeld op dinge het die geheel nie anders gebeur as in en deur die samespel tussen ’n veelheid van musiekinstrumente nie.[3]

Hiervolgens lei samespel van verskeie musiekinstrumente tot ’n geheel wat meer is as die som van die individuele klanke van die afsonderlike instrumente. Hierdie ‘geheel’ wat die beste deur die tradisie as ’n eksessiewe werklikheid beskryf is, behoort nie van die dinge afgegrens te word nie, maar bestaan eerder in die interaksie tussen die dinge wat Goosen soos volg verduidelik:

Anders as wat dikwels met betrekking tot die tradisie gesê word, was die geheel nie ’n geslote totaliteit waarvan die omtrekke duidelik omskryf en in begrippe vasgevang kan word nie. As eksessiewe oorvloed het dit eerder elke begrensde totaliteit deurbreek. Telkens was dit méér as wat enige totaliteit binne sy grense kan opsluit. Ten diepste is die rede daarvoor opgesluit in die feit dat die geheel van dinge deur God te bowe gegaan word. Nog meer, dit is ’n gevolg van die feit dat God as ’n soort magnetiese doel optree wat die ganse geheel van dinge na Hom toe aantrek. In hierdie aantrekkingskrag wat God op die geheel uitoefen, word elke geheel telkens weer deurbreek en oopgestel vir dit wat hom as geheel te bowe gaan

Kortom, as die geheel as ’n gemeenskapsgebeure verstaan is, was laasgenoemde nie ’n geslote gemeenskap nie, maar eerder ’n eksessiewe gemeenskap, dit wil sê ’n gemeenskap wat ‘na buite’ oorgespoel het. Bogenoemde uiteensetting van die geheel het ’n belangrike implikasie vir ons begrip van die begrensde dinge (dit wil sê die dele) van die geheel gehad.[4]

Die volgende punte kan hier uitgehaal word:

  • Die geheel is nie ’n begrensde totaliteit nie, maar staan oop teenoor die werklikheid;
  • Die geheel is na God gerig en word na Hom aangetrek; en
  • Gemeenskapsgebeure moet as ’n oop geheel verstaan word.

Hiermee word egter nie gesê dat daar hoegenaamd geen grense in die werklikheid is nie. Goosen het dit teen ’n tipe begrensing van dinge van mekaar isoleer[5] op ’n atomistiese wyse waar die band tussen individuele entiteite net ekstrinsiek (van buite af) bestaan. Die tradisie het eerder van ’n intrinsieke band tussen dinge gepraat wat ’n ontsaglike verskil gemaak het in die wyse waarop die skepping deur die mens gesien word. Waar dinge losgemaak word van die verband waarin hulle staan, word dit baie makliker om hulle te manipuleer volgens die mens se eie voorkeur. Hierteenoor was daar in die Middeleeue meer agting vir die natuur, omdat die mens elke individuele entiteit as deel van ’n groter geheel gesien het.

Want, het die tradisie aangevoer, dit is juis vanweë hul intrinsieke aangewese-wees-op-mekaar dat die dinge self deur ’n onpeilbare maar glansende volheid gekenmerk is. Kortom, vanweë die intrinsieke deelname kan die dinge self aan die bod kom – en kan hulle ook verwondering, agting en respek by ons ontlok. Om daarenteen hulle aangewese-wees-op-mekaar op te skort, tas hulle onpeilbare maar glansende volheid aan. Laasgenoemde blyk uit die feit dat die dinge dan tot blote dooie dinge verskraal word, dit wil sê tot stof wat gebruik, verhandel, gemanipuleer en ook weggegooi kan word.[6]

’n Voorbeeld wat Goosen uit die wiskunde ontleen, kan die punt nog verder illustreer. Volgens die tradisie was 1 + 1 = 3. Ja, dit klink baie vreemd.[7] Of ons kan selfs sê dis onmoontlik dat 1 + 1 iets anders as 2 kan wees. Vanuit ’n modernistiese sienswyse is dit inderdaad vreemd, maar vanuit ’n holistiese blik op die werklikheid is dit inderdaad moontlik.

Bykomend tot Goosen se voorbeeld kan die huwelik en die menslike liggaam ook gebruik word om die punt verder te belig. ’n Huwelik vorm immers meer as net ’n optelsom van die twee individuele se kragte, maar vorm op ’n misterieuse wyse ’n eenheid wat meer is as die som van die individue se kragte. As daar later uit die huwelik kinders voortkom, dan moet ons erken dat 1 + 1 wel in die geval baie meer is as net twee. Op ’n soortgelyke wyse kan die mens se liggaam in klomp afsonderlike liggaamsdele ingedeel word, maar wanneer al die liggaamsdele saam funksioneer, is die funksies wat die mens kan verrig baie meer as net die optelsom van die afsonderlike liggaamsdele.

Wanneer die werklikheid op die wyse gesien word, lok dit verwondering by die mens uit, omdat in elke afsonderlike deel van die skepping ’n band met God, sowel as ’n intrinsieke band met die res van die dinge in die skepping erken word. Dit verskil drasties van die moderne opvatting van die werklikheid, waarby ons vervolgens sal stilstaan.

Moderne ontologie

In die moderne era het die beeld van die geheel verander na ’n skrikwekkend monsteragtige afgrond. Die oorsprong van die wesensverandering lê in die Nominalisme van die 14de eeu. Die nominalisme het geleer dat die werklikheid nie self enige objektiewe orde en sin bevat het nie, maar dat die mens deur sy naamgewing betekenis aan die sinlose werklikheid toeken. Die Teoloog William van Ockham het God se wil en rede van mekaar geskei, met die gevolg dat God se dade nie redelik geag hoef te word nie. Die gevolg is dat God hierna nie meer as ’n betroubare God beskou is nie, maar as ’n duistere afgrond. Hierdie sinlose belewing van God word op ’n analogiese wyse op die skepping oorgedra, met die gevolg dat die skepping voortaan ook as leeg en sinloos ervaar is. Die samehang en orde van die skepping van die tradisie het spoedig in die chaotiese afgrond van die modernisme ontaard.

Vir die sinnelose toestand het die Nominalisme met die remedie van naamgewing orde aan die sinlose wêreld probeer toeken. Betekenis word hier nie vanuit die skepping ontleen of soos Goosen dit stel afgelees[8] nie, maar eerder deur die mens aan die skepping toegeken. Dit bring ons later uit by die donker God van die nominalisme. Hierdie is nie ’n ware God nie, maar ’n God wat deur die mens geskep is om hom in sy verlore toestand gerus te stel. Die moderne wêreld word op dieselfde trant, volgens Goosen, gekenmerk deur ’n nood aan voortdurende terapeutiese gerusstelling[9] deur middel van naamgewing. Dit verteenwoordig volgens hom ’n “gesoeke na geborgenheid te midde van ’n leë werklikheid”[10] wat juis daaraan erkenning gee dat die wêreld in ’n monsteragtige plek verander het.

In die moderne wêreld word die mens ’n eensame en geïsoleerde individu. Hier is 1 net gelyk aan 1. Die wêreld is hier nie meer as die optelsom van sy afsonderlike dele nie, maar ’n sinlose konglomeraat van individue. Die gevolg hiervan is dat die werklikheid van sy glans en volheid gestroop word, niks meer besonders is nie en nie meer die mens kan verwonder nie. Dit herinner sterk aan Weber se beskrywing van ’n ontmitologiseerde[11] wêreld wat van al sy betekenisgewende tradisies gestroop is.

Transendentalia

Die geheel is in die tradisie deur vier belangrike eienskappe gekenmerk wat as transendentalia bekend gestaan het. Transendent beteken dit wat bo die sigbare werklikheid uitstyg. Hierdie vier transendentalia[12] is:

  • Eenheid (alles is met mekaar verbind)
  • Waarheid (daar kan op die geheel vertrou word)
  • Goedheid (die goeie is nagestreef en die kwaad is vermy)
  • Skoonheid (sinvolheid van werklikheid)

Vir die vier transendentalia is daar egter nie plek in die moderne werklikheid nie, omdat die moderne werklikheidsbeeld geen plek het vir objektiewe waarhede wat tot die mens self spreek nie. Die mens is die een wat betekenis aan die werklikheid met sy naamgewing toeken.

In akademiese kringe word daar vandag dikwels na die konstruktivistiese paradigma verwys. Hierdie paradigma is niks anders as ’n eietydse vertolking van die moderne wetenskapsideaal nie, want ook hier lê die klem eensydig op die mens wat betekenis aan die leë werklikheid toeken, of soos Goosen dit stel:

Tekenend hiervan is nou die haas geykte (konstruktivistiese) standpunt dat die betekenis van iets afhang van dit wat ’n mens daaraan toeken.[13]

Hierbo is gepoog om ’n ietwat meer breedvoerige bespreking van hoofstuk 5 van “Oor gemeenskap en plek” te verskaf. Hoewel ons nog hier meer met teoretiese sake te doen het, sal die implikasies hiervan wel later in die boek duideliker word. Weereens word genoem dat hierdie maar ’n gebroke poging is om prof. Goosen se gedagtes te vertolk. Diegene wat meer duidelikheid wil verkry, word tog aangemoedig om die boek en elke betrokke hoofstuk self te lees. Dit sal die leser ook help om te onderskei tussen die skrywer se eie interpretasie van Goosen en Goosen se eie gedagtes.

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)


[1] Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek: anderkant die onbehae. Pretoria: FAK. bl. 82.

[2] Ibid., bl. 83.

[3] Ibid.

[4] Eie kursivering. Ibid., bl. 84-85.

[5] Ibid., bl. 85.

[6] Ibid.

[7] Ibid., bl. 85-86.

[8] Die woord afgelees herinner sterk aan die tweede artikel van die Nederlandse geloofsbelydenis wat die skepping as ’n boek beskryf waarin die mens die openbaring van God kan aflees.

[9] Ibid., bl. 91. Sien ook MacIntyre se After virtue vir meer oor die rol van die terapeut in die moderne wêreld.

[10] Ibid.

[11] Hoewel ’n mens nie noodwendig met Weber hoef saam te stem dat die wêreld net uit mites bestaan nie, is die punt wat Weber maak dat die moderne wêreld in ’n meer armoedige toestand as die tradisionele wêreld verkeer, wel geldig.

[12] Ibid., bl. 90-91.

[13] Ibid., bl. 91.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.