OPSOMMING: Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 6


Oor Gemeenskap en Plek: Hoofstuk 6

Monsters en mense

deur Victor Correia

“Gee die tradisie in sy antwoord op die monsteragtige dialektiese kontinuïteit daaraan? ‘Nee,’ lui die antwoord uit die tradisie. Die dialektiek van die monsteragtige word in stand gehou deur die aanvaarding van ’n belangrike vooronderstelling, naamlik dat die monsteragtige ontologies ’n ‘substantiewe’ mag is waarteen ‘weerstand’ gebied moet word. Laasgenoemde vooronderstelling word ironies genoeg in die moderne kritiek op die monsteragtige bevestig, want die moderne leviatan of die puriteins-utopiese moralisme ervaar hulself as substantiewe magte wat nou in slagordes teenoor die monsteragtige te staan kom. So volg die een substansiële mag die ander dialekties op.” [1]

Die hoofstuk wil ons graag begin met die bogenoemde aanhaling waarmee Goosen sy hoofstuk afsluit. Dit blyk uit nadere ondersoek dat verskeie pogings om aan die monsteragtige te beantwoord op ’n ironiese wyse juis aan die moderne projek kontinuïteit verleen. Daar word in kritiek teen die modernisme vanuit moderne veronderstellings uitgegaan. Hieruit volg dat ons moet soek na alternatief tot die monsteragtige modernisme, sonder om in die “modernistiese dialektiek” verstrengel te raak.

Goosen stel die tradisie as uitweg uit die dilemma voor. Dit doen hy deur die monsteragtige te beskryf, die tradisie se beskouing van die monsteragtige te verduidelik en laastens by valse antwoorde op die modernisme stil te staan. Voor ons hierby uitkom, is dit belangrik om ’n paar terme wat Goosen uitlig te bespreek.

’n Paar terme

Goosen verduidelik die terme ‘geestelik’, en ‘monsteragtige’ vooraf. Die term ‘geestelik’ moet nie in teenstelling met die ‘liggaam’ beskou word nie. Eerder dui die term op die “beweging waarvolgens ons op weg is om in gemeenskap met die transendente te tree”.[2] Dat die mens ‘geestelik’ is, beteken hiervolgens dat die mens oop staan ten opsigte van die transendente geheel en dat sy lewe daarop gerig is.

Die ‘monsteragtige’ word hierteenoor gekenmerk deur ’n narsistiese gerigheid op die self waarin selfbehoud ’n belangrike plek inneem. Moderne selfbehoud verskil egter van tradisionele selfbehoud in die sin dat dit inwaarts op homself gerig is en dat die mens sy eie doel word. In ander woorde: Die mens wil nie meer homself behou ter wille van doel bo homself nie, maar alleenlik ter wille van homself. Moderne selfbehoud ontaard in vyandskap tussen mense terwyl selfbehoud in die tradisionele sin eerder op vriendskap uitgeloop het.

Terwyl die modernisme die klem op die self geplaas het, plaas die postmodernisme die klem op die nie-self in ’n poging om van die moderne problematiek te ontsnap. Hierdie negasie van die monsteragtige posisie maak wel nie die monster dood nie, maar ontaard in ’n nuwe monster wat die ou een beveg.

’n Eie voorbeeld kan gebruik word om die punt te illustreer. Beide die nasionalisme (klem op die self) en die globalisme (klem op die nie-self) staan steeds vierkantig binne die moderniteit vasgevang. Beide gaan uit van ’n immanente blik op die werklikheid, wat meebring dat die globalisme se klem op die nie-self kwalik van enige opwaartse beweging na die transendente getuig.

Siklope, Sfinkse en Medusas (monsters)

Daar is reeds vooraf genoem dat die monsteragtige met ’n hiper-individualistiese lewenswyse vereenselwig kan word. Hoewel dit iets is wat ons vandag toenemend raaksien, blyk die moderne samelewing met hul klem op die individu nie die regte antwoord hierop te hê nie. Dit is om die rede dat Goosen teruggaan na die Griekse denke, wat meer op die gemeenskap ingestel was, om hul kritiek op die monsteragtige weer te laat hoor. Die monsteragtige is iets wat nog altyd bestaan het, maar wat wel verander het met die samelewing se houding daaromtrent.

In die Antieke Griekse samelewing was ’n lewe wat net op eie belange gerig was, as monsteragtig beskou. Daar was as ware ’n dualistiese onderskeid tussen die geestelike lewe (’n lewe wat op gemeenskapsake gerig is) en die monsteragtige (’n lewe van eie belang) merkbaar. Die geestelike lewe spruit uit ’n lewe wat ooreenstem met die natuurlike orde van sake, terwyl die lewe in eie belang eintlik baie vreemd was vir die Grieke. So ’n lewe is as onnatuurlik en self abnormaal beskou.[3]

In Griekse mitologie word die verhaal vertel van ‘Ulysses’ wat die bekende Siklopsmonster ‘Polyphemus’ se oog uitsteek. Die verhaal word visueel hierbo uitgebeeld. 


Die woonplekke van mense en monsters het om dié rede ook verskil. Monsters het op die rante van die samelewing geleef deur hul tuiste op onherbergsame plekke soos grotte en riviere te maak. ‘Woning’ het in die Griekse denke die deelname aan gemeenskapsake veronderstel en dus kan van die monsters se woning eerder as ’n ‘tuistelose’ woonplek gepraat word.

Goosen lig later uit dat die dualistiese onderskeid wat die Grieke gemaak het, vandag baie vaag is. Ons moet dus nie dink dat dit die monsters is wat vandag nog op die rante van die samelewing leef en dat die stedeling die een is wat hom by uitstek met gemeenskapsake bemoei nie. Dit kan self omgekeerd wees, as ’n mens in ag neem hoe individualisties stedelinge kan wees teenoor ’n landelike gemeenskap.

Hoewel Aristoteles nie ’n dualistiese skeiding tussen mense en monsters gehandhaaf het nie, maak hy wel volgens Goosen die volgende insiggewende onderskeid:

Anders as mense, wat mede-verskyn en so aan gemeenskaplike sake deelneem, onttrek monsters hulleself en lewe hulle volgens hul eie wet.[4]

Terwyl monsters volgens hul eie wette geleef het, het die tradisie hul beroep op tydlose norme wat in die orde van die natuur ontdek kon word. Goosen meen verder dat die antwoord op die monsteragtige juis op die natuurwet gegrond behoort te word. Dit spruit uit die veronderstelling dat die werklikheid waaruit die natuurwet ontleen word, self ’n bepaalde logika vereenselwig.[5] Monsters maak dus hul eie wette, terwyl mense hul wette ontdek.

Monsters in die tradisionele denke

Moderne en tradisionele denke stem ooreen in die sin dat beide norme as gesaghebbend aanvaar, maar verskil omdat moderne denke norme losgemaak het van die verband waaruit hulle voortkom. In dié verband sê Chesterton:

The modern world is not evil; in some ways the modern world is far to good … The modern world is full of old Christian virtues gone mad.[6]

Om die punt te illustreer, wys Goosen op drie sekondêre norme waarop Thomas Aquinas ons gewys het, naamlik selfhandhawing, gemeenskap en wysheid. Die sekondêre norme spruit uit die oorkoepelende norm vir die natuurwet dat die mens die goeie moet nastreef en die kwade moet vermy. Monsters plaas net klem op selfhandhawing ten koste van gemeenskap en wysheid. Goosen maak in dié verband die volgende opmerking:

Monsters is nie monsters omdat hulle sonder norme lewe nie. Monsters is eerder monsters omdat hulle hul normatiewe visiere laat sak en alle aandag eensydig op selfhandhawing plaas. Hoër dinge soos die stig van gemeenskap met medegenote en uiteindelik met die geheel van dit wat is, lê buite hul gesigsveld.[7]

Dit eindig logies in ’n toestand waar “individue niks minder as monsters vir mekaar word nie. Elkeen veg nou verwoed om sy eie self teen die ander dreigende, tierende en dodelike monsters in beskerming te neem.”[8]

Teen die niks (valse dialektiek)

Daar is vanuit die modernisme twee belangrike, maar beide valse, antwoorde op die monsteragtige gegee. Eerstens is die moderne staat as ’n oplossing vir die ‘almal teen almal’-situasie beskou wat deur die selfgerigte denke veroorsaak is. Hobbes se Leviatan bied egter nie ’n uitweg uit die modernistiese denkwyse nie, omdat die moderne staat net ’n ruimte bied vir die hiper-individualis om sy selfgesentreerde ideale, sonder vrees vir sy eie lewe, na te streef. Hierin is tog ’n groot mate van ironie opgesluit, omdat die moderne staat vandag nie eers daarin kan slaag om sy eie burgers na behore te beskerm nie.

Tweedens, het die moderne purisme (piëteit) daartoe meegewerk dat die individu soveel klem op sy eie heil geplaas het, dat eeu oue gemeenskapsverbintenisse in die naam van religie daardeur tot niet gemaak is. Goosen verwys hier na die belangrike werk The Unintended Reformation: How al Religious Revolution Secularized Society vir die wat verder hieroor wil lees.[9] Luther het waarskynlik nie beoog dat sy klem op die mens se belewing van persoonlike saligheid tot soveel kerkskeuringe binne die protestantisme sou lei nie. Dit laat ’n mens wel vra in hoe mate die protestantisme vandag nog deur die modernisme beïnvloed is?

In ieder geval meen Goosen dat die moderne staat en piëteit kontinuïteit aan die moderne projek verleen. Beide bevraagteken nog nie een van die grondstellings van die modernisme, naamlik dat die mens per definisie as ’n individu verstaan word nie. Gevolglik neem moderne staatkunde en religie ’n wending wat hul hoofsaaklik om die belange van die individu as belangrikste entiteit van die samelewing laat draai.

Val die tradisie in dieselfde strik? Nee, argumenteer Goosen.[10] Net deur die monsteragtige as ’n werklike krag te erken, word daaraan kontinuïteit verleen. As ons insien dat die monsteragtige iets onnatuurliks is, sal daar nie gepoog word om ’n ewe monsteragtige antwoord daarop te gee nie, maar eerder om ’n uitweg buiten die valse dialektiek te vind. Dit is wat Goosen met die subopskrif “teen die niks” bedoel.

Waar die moderniteit as ’n normatiewe toestand erken word, word vanuit die staatkunde en religie op ewe individualisties geklede antwoorde uitgekom. Alleenlik deur in te sien dat die mens per definisie ’n gemeenskapswese is, kan die grondstelling van die modernisme in twyfel getrek word en by ’n werkbare alternatief vir die monsteragtige uitgekom word.

 

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)


Bron

Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek: anderkant die onbehae. Pretoria: FAK.

[1] Goosen, 2015. Oor gemeenskap en plek: anderkant die onbehae. Pretoria: FAK. bl. 114.

[2] Goosen, 2015. bl. 94.

[3] Ibid., bl. 98.

[4] Ibid., bl. 103.

[5] Ibid., bl. 104.

[6] Chesterton, 2004. Orthodoxy. New York: Dover. Bl. 22 soos aangehaal deur Goosen (2015:106).

[7] Goosen, 2015. bl. 110.

[8] Ibid.

[9] Sien ook Nisbet se bespreking van die Protestantisme in sy Quest for Community. Nisbet meen dat die Protestantisme ’n gemeenskapsverbrokkelende uitwerking op die samelewing het. Al die kerkskeuringe wat in die Protestantse tradisie al voorgekom het, bring ’n mens ten minste daartoe om ernstig van sy kritiek notisie te neem.

[10] Sien weer die aanhaling waarmee die stuk begin het.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.