OPSOMMING: Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 7


Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 7

‘n Gedifferensieerde gemeenskap

deur Victor Correia

Gemeenskappe wat nie ruimte vir die veelheid in hulself skep nie, word deur suurstoftekort gekenmerk (Goosen, 2015:116)

In hierdie kort, maar belangrike, hoofstuk bespreek Goosen verskeie verhoudinge. Die verhouding van gemeenskap en individu, van gemeenskappe onderling en van die gemeenskap se verhouding ten opsigte van die totaliteit. Waar hierdie verhoudinge reg gesien word, gee dit gestalte aan wat Goosen ’n “politiek van nederigheid” noem, en waar die verhoudinge in wanbalans is lei dit tot ’n “politiek van selfopgeblase jingoïsme”.

1.1         Gemeenskap en totaliteit

Die gemeenskap waarvoor Goosen voorspraak maak, is die onselfgenoegsame gemeenskap. Die gemeenskap is bewus dat dit deel is van ’n groter totaliteit en dat die gemeenskap homself nie daarvan kan afsonder nie. Dit veronderstel ’n nederige houding omdat elke gemeenskap homself nie van die groter totaliteit waarvan dit deel is, behoort af te sonder nie.

Hierdie nederige onselfgenoegsaamheid word egter nie in leegheid begrond nie, maar in volheid. Leegheid is kenmerkend van die postmoderne gemeenskap waarvoor Nietzsche se “God is dood”-stelling werklikheid geword het. Hierteenoor begrond Goosen gemeenskap in volheid. Gemeenskappe wat hulle in die tradisionele sin nie van hul vertikale band met God afgesny het nie, word tot nederigheid gestem.

Alleenlik God word as selfgenoegsaam beskou. Waar gemeenskappe met mekaar te doen kry, word hulle bewus dat die werklikheid as ’n deelnemende gemeenskapsgebeure verstaan kan word en dat hulle nie net van God nie, maar ook van mekaar afhanklik is.

1.2         Gemeenskappe onderling

Die erkenning van die veelheid van gemeenskappe en deur elkeen sy besondere plek op aarde te gun, kan die nodige ruimte vir vreedsame interaksie tussen gemeenskappe geskep word. Waar eenheid ten koste van veelheid beklemtoon word en een gemeenskap sy wil op ander afdwing, kry ’n mens te doen met die “politiek van selfopgeblase jingoïsme”. Jingo verwys na iemand wat net geld wil maak, nieteenstaande die impak op andere.[1] Dit herinner sterk aan die wyse waarop die Britte hul Empaaier ten koste van soveel ander gemeenskappe wêreldwyd gevestig het. Vir gemeenskappe om vreedsaam te leef, is ’n “politiek van nederigheid” in die plek van jingoïsme nodig.

1.3         Gemeenskap en individu

Hoewel Goosen sy vertrekpunt in die gemeenskapsgedagte neem, moet hierdie vertrekpunt nie so verstaan word dat dit vir individue minder ruimte hoef te gee nie. ’n Gemeenskap wat nie die verskeidenheid van individue binne hom erken nie en plek maak vir die individu om kritiek te lewer teen die gemeenskap, loop die gevaar om “van suurstoftekort” te sterf. Dit is krities belangrik om in te sien dat Goosen nie ’n pleidooi lewer vir ’n gestolde konserwatisme nie.

Die suurstoftekort wat Goosen bedoel, wil ek graag met ’n ander beeld belig. As ons vir ’n wyle ’n gemeenskap met ’n waterpoel kan vergelyk, is ’n stilstaande waterpoel ’n beeld van ’n konserwatiewe gemeenskap wat geen ruimte laat vir ander idees in hul midde nie. Daar word a-histories aan helde van die verlede vasgehou. Dikwels sterf die bewegings ’n stille dood, omdat hulle nie met unieke eise van elke tydvak rekening hou nie. Aan die ander kant is ’n gemeenskap wat lewend is eerder soos ’n waterpoel waardeur ’n vernuwende stroom vloei. Die stoom bring nuwe idees na vore, maar die gemeenskap filter elke nuwe idee om vas te stel hoe dit met die aard van die betrokke gemeenskap ooreenstem.

Weer terug by Goosen. As ’n gemeenskap nie ruimte laat vir individue om kritiek teen die gemeenskap te kom nie, word individuele kreatiwiteit in die kiem gesmoor. Daar word gewys op Van Wyk Louw se “Lojale verset” as ’n voorbeeld van ’n individu wat hom op bepaalde punte verset teen sy gemeenskap, maar juis hierdeur poog om die gemeenskap waaraan hy behoort te red.

“Sonder die lojale verset van die enkeling kan gemeenskappe in hulself afgegrens word en so geslote word. Gedifferensieerdheid kan so plek maak vir ongedifferensieerde eenheid; ’n vitale veeldimensionaliteit kan met doodse eendimensionaliteit vervang word. Kortom, gemeenskappe wat nie ruimte vir die veelheid in hulself skep nie, word deur suurstoftekort gekenmerk” (Goosen,  2015:116).

Dit wat Goosen hier sê, onderstreep die noodsaak van kritiese vrae wat toegelaat moet word binne ’n gemeenskap se eie geledere. Tog is een van die kritiekpunte wat nog gereeld in die openbare debat gehuldig word dat die Afrikaanse gemeenskap homself glad nie van ander gemeenskappe mag afgrens nie. Die gemeenskap moet ten alle tye oop wees vir ander gemeenskappe se invloed, al lei dit tot die ondergang van die minderheidsgroep. “Nooit mag die gruwelike geslotenheid van die apartheidsverlede herhaal word nie en daarom moet die Afrikaner nou meer oop as ooit tevore wees.” Die pendulum het nou na die anderkant oorgeswaai. Hoe antwoord Goosen hierop? Doen hy weg met grense?

1.4         Grense en oorvloed

Goosen maak wel melding van die noodsaak van grense, maar bring grense in verband met oorvloed wat vloei vanuit die deelnemende gemeenskapsgebeure.

“Ten grondslag van die eie gemeenskap lê ’n oorvloed wat telkens sy eie grense oorspoel. Dit is ’n oorvloed wat hy nie binne sy eie grense kan opneem nie en wat hy aan homself as gemeenskap dienstig kan stel nie. Kortom, sy eie begrensdheid is … is eerder ’n manifestasie van die volheid wat ten grondslag van alles bestaan” (Goosen,  2015:117).

In stede daarvan dat ’n gemeenskap gedwing word om sy identiteit prys te gee as voorwaarde vir gemeenskap met ander (globalisme), wys Goosen op ’n weg waarlangs gemeenskappe met mekaar kan deel, sonder om in die proses armer te word. Dit wat met mekaar gedeel word, spruit uit die volheid wat spruit uit die dinamiese aard van gemeenskapsgebeure in die werklikheid. Waar daar met die grense tussen gemeenskappe weggedoen word, kan daar kwalik sprake  wees van die “deelnemende gemeenskapsgebeure” waarvan Goosen melding maak.

Die tipe grens waarvan Goosen praat, is dus nie ’n grens wat lei tot die stille dood van ’n gemeenskap nie. Die grens skep eerder die voorwaarde vir gesonde gemeenskapsbande deur die gemeenskap se identiteit behoue te laat bly, terwyl die gemeenskap terselfdertyd oop staan vir die insigte van ander. Hierdie grens het ’n stippellyntjie.

 

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)


Bronne

Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek. Pretoria: FAK.

Lewis, H.O. 2016. Apartheid Brittain’s bastard child. Pretoria: Reach Publishers.

Lewis, H.O. 2016. Apartheid Brittain’s bastard child. Pretoria: Reach Publishers, bl. 110.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.