OPSOMMING: Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 8


Oor Gemeenskap en Plek – Hoofstuk 8

Verskillende Gemeenskappe

deur Victor Correia

“Het ons vandag met ’n vreemde mengsel van sowel die matriargale monisme as die partriargale gnostisisme te doen? Kan die heersende globale ekonomiese orde as ’n verre afskaduwing van sowel die matriargale versamelaarsekonomie as die gnostiese vyandskap téén die aardse beskou word?”

 

Die tweede afdeling van prof. Goosen se boek handel oor die tradisionele gemeenskap. Wat hy presies hiermee bedoel, word in die hoofstuk nader omskryf. Hy bedoel nie met die naam dat daar net een tradisionele gemeenskap is nie. Die tradisionele gemeenskap wat Goosen in die oog het, word deur hom beskryf as ’n samestelling van twee oeroue idees. Aan die een kant is daar die monisme wat die klem plaas op die eenheid, wat Goosen die matriargale gemeenskap noem. Aan die ander kant het ons die dualisme wat die werklikheid in twee onderskeibare dele verdeel. Goosen staan ’n analoë gemeenskap voor wat elemente van beide bevat.

Monisme of die “matriargale” gemeenskap

Die matriargale gemeenskap word deur ’n besef van eenheid gekenmerk. Die mens het hier ’n eenheidsband met die werklikheid beleef. By gemeenskappe wat die wêreldbeeld gedeel het, is die natuur grotendeels onverstoord gelaat. Die mens het in harmonie met die natuur geleef en passief die werklikheid in ontvangs geneem. Daar is in die reël nie ingemeng met die natuurlike gang van sake nie. Op die ekonomiese terrein was die gemeenskap ’n versamelaarsekonomie. Daar is in groot afhanklikheid van die natuur geleef. Wat tyd betref, is hul nie gejaagd nie, maar eerder op die “ewige nou” ingestel. ’n Geskiedkundige bewussyn soos ons dit ken ontstaan eers in die partriargale gemeenskap waar ’n onderskeid tussen die geskiedenis, hede en toekoms ingetree het. Op die sosiale terrein was die gemeenskap op demokratiese gelykheid ingestel, met die gevolg dat die een nie te veel bo die ander mag uitstyg nie.

Dualisme of die “patriargale” gemeenskap

Terwyl die matriargale orde die klem op eenheid geplaas het, ontstaan daar later ’n patriargale gemeenskap wat die werklikheid in twee hoofdele verdeel. Dit het vermoedelik ontstaan vanuit die ekonomiese realiteite van die gemeenskap. Patriargale gemeenskappe ontstaan histories uit ’n jagtersekonomie. Hulle het in meer onherbergsame plekke as die matriargale gemeenskap geleef en moes leer om baie meer moeite te doen om kos in die maag te kry. Gevolglik moes groter afstande afgelê word om voedsel te versamel, met die gevolg dat die gemeenskap ’n duideliker onderskeid tussen transendente en immanente, subjek en objek getref het. Die onderskeid tussen God en mens het dit gevolglik moontlik gemaak om die natuur te beheer, omdat God nie meer as deel van die natuur beskou is nie. Dit het die nodige ruimte geskep om kultuur te vorm en wetenskap te beoefen.

Binne die werklikheidsvisie onderskei Goosen verder tussen die hiërargiese en die gnostiese dualisme. Binne die hiërargiese dualisme is daar ’n hiërargiese samehang tussen die geheel en die onderskeie dele van die geheel. Die transendente word in die skema bo die immanente en die geestelike bo die liggaamlike geplaas. Dit beteken egter nie dat die geheel van die liggaamlike of immanente kan afstand doen, sonder groot skade aan die geheel nie. Om die punt te verduidelik, wys Goosen op hoe belangrik voetsoldate in ’n weermag is. “Alhoewel ’n weermag sonder ’n pantserdivisie, ’n vloot of ’n lugmag kan bestaan, gaan dit mank daarsonder. Kortom, sonder die laer dele se deelname aan die geheel sal laasgenoemde self deur ’n gebrek gekenmerk word” (Goosen, 2015:126).

Hierdie laaste punt word deur die gnostiese dualisme ontken. Waar die liggaamlike in die bogenoemde dualisme as noodsaaklik beskou word, beskou gnostiese denkers die liggaamlike of aardse dinge as die vyand daarvan. Vir diegene wat onbekend is met die gnostieke beweging kan die volgende net kortliks genoem word. Die beweging wat in die tweede eeu ontstaan het, het geglo dat die Demiurg die aarde geskep het en dat alle aardse dinge in wese boos was en dat dit oorkom moet word om by die geestelike dinge uit te kom. Gevolglik is die menswording van Jesus Christus deur hulle ontken. Hierdie vyandigheid duur in die moderne tyd voort in die wyse waarop gepoog word om natuurlike beperkings van die mens deur middel van wetenskap en tegnologie te bowe te kom. Net soos in die gnostiese tydperk word daar gepoog om die aardse werklikheid te ontsnap.

Goosen vra die vraag of ons vandag nie juis vasgevang is tussen die eksesse van die matriargale monisme en die patriargale dualistiese gnostisisme nie?

“Het ons vandag met ’n vreemde mengsel van sowel die matriargale monisme as die partriargale gnostisisme te doen? Kan die heersende globale ekonomiese orde as ’n verre afskaduwing van sowel die matriargale versamelaarsekonomie as die gnostiese vyandskap téén die aardse beskou word? ‘Matriargaal’, omdat ons onsself tussen die rakke van die hedendaagse “malls” as versamelaars ervaar wat onsself – ondersteun deur die fetisjisme van die handelsmerk – één voel met wat gekoop word. Maar ook ‘dualisties patriargaal’, omdat ons vanweë die spoed waarmee alles verbruik word tegelyk afskeid neem van dit wat ons so fetisjisties boei” (Goosen, 2015:127).

Dit bring hom daarby uit om laastens by die analoë gemeenskap wat hy voorstaan, uit te kom. Die gemeenskap bevat volgens hom elemente van beide die monisme en dualisme, maar nie in die verkeerde sin wat hy hierbo beskryf het nie. Die tradisionele gemeenskap is eerder ’n sintese van die goeie elemente uit beide.

Analoë “tradisionele” gemeenskap

Die analoë gemeenskap wat Goosen beskryf, vertoon ooreenkomste en verskille met die monistiese en dualistiese gemeenskap. Augustinus het in dié verband God as transendent en terselfdertyd immanent beskou. “God is sowel superior summo meo (anderkant my hoogste self) as interior intimo meo (nader aan myself as my intiemste self)” (Goosen, 2015:130). Die bogenoemde sal nie sin maak vir iemand wat uitsprake oor God in menslike eenduidige terme wil beskryf nie. Hiervolgens sal God net transendent of immanent kan wees, maar nie beide nie. Wanneer so gedink word, gaan die misterieuse of die wonderbare van God verlore. Dit hoef ons nie te verbaas dat daar min plek vir verwondering in die moderne mens se opvatting van God te vinde is nie.

Goosen meen dat daar ruimte gemaak moet word om die tipe paradokse wat die mens se verstand te bowe gaan te erken. Dit is dalk interessant om te noem dat HG Stoker verkies het om van hiperdokse in plaas van paradokse te praat. ’n Hiperdoks is volgens hom iets wat die menslike verstand te bowe gaan. Dit daar gelaat.

Wat belangrik is om te sien, is dat Goosen die werklikheid as ’n samehangende geheel beskou. Dit beteken dat elke ding waarna ons in die werklikheid ondersoek instel, meer is as wat ons met die blote oog kan waarneem. Goosen wil ons juis daartoe bring om tot ’n insig in die geheel van dinge of “wysheid” te bring.

Historiese spore

Die analoë gemeenskap vind gestalte in die wyse waarop Christelike Europa (1050-1350) die matriargale monisme en die gnostieke-partriargale dualisme weerstaan het. “Tydens sy hoogbloei, het Christelike Europa die werklikheid self as ’n gemeenskap ervaar, en inderdaad as ’n analoë gemeenskap. Toe het daar ten minste ideale terme, ’n twee-eenheid tussen aarde en hemel, die immanente en die transendente geheers” (Goosen, 2015:131).

Waar Goosen voortaan van die “tradisie” melding maak, word daar spesifiek na die sintese tussen die klassieke Griekse denke en die Christelike denke soos dit in die bogenoemde tydperk gestalte gevind het bedoel. Hoewel daar in hierdie tradisie skerp verskille heers, staan die samehang van die tradisie vir Goosen voorop.

 

Gemeenskap en Plek kan bestel word deur op hierdie skakel te kliek.

* Victor is tans ‘n dosent verbonde aan Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies)


Bronne

Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek. Pretoria: FAK.

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.