TOESPRAAK: Afrikanerkultuur: die pad vorentoe. ’n Strategie vir gemeenskapsvryheid – Flip Buys

Flip Buys

 

“… die Westerse beskawing (bied) steeds die beste pakket aan die mensdom, ongeag die foute wat gemaak is. Die vraag is egter, volgens hom, of die Weste self die blywende waarde van sy eie kultuurskatte besef. Dieselfde geld vir Afrikaners in Suid-Afrika – ons historiese kultuurskatte en waardes is nog steeds deel van die oudste en nuutste suksesresepte in die wêreld.”

 

Inleiding

Daar het vandag vyf eeue gelede ’n gebeurtenis plaasgevind wat die wêreld omskep het, en wat vandag nog vir Afrikaners die kulturele toerusting gee om vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika te kan leef. Die inhoud van daardie kulturele skatkis is deur Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring, en is deur die jare verder verfyn en by plaaslike omstandighede aangepas. Die belangrikste gevolg van die Hervorming vanuit ’n kulturele hoek gesien, is dat dit die Protestantse Weste in staat gestel het om die afgelope 500 jaar ’n oorheersende rol in die wêreld te speel. Net so het dit Westerlinge in die algemeen, en Afrikaners in besonder, in staat gestel om die leidende rol te speel om die voorste ekonomie op die vasteland van Afrika op te bou. In vandag se taal gestel, die Westerse kulturele harde- en sagteware, oftewel instellings en waardes, het hulle in staat gestel om histories ongekende ontwikkeling te bewerkstellig.

 

Westerse suksesresep

Die ekonomiese historikus van Oxford- en Stanford-universiteit, Nail Ferguson, het die opkoms van die Protestantse Weste beskryf as die gevolg van beter instellings as dié van ander beskawings. In besonder, het die Weste se sukses gespruit uit ’n beter “pakket” van politieke, ekonomiese, wetenskaplike, militêre, tegnologiese en burgerlike instellings as die meeste ander kulture. Die oorsprong hiervan lê in die Westerse kultuur, en nie in die Westerlinge se ras of innerlike meerderwaardigheid soos Westerlinge lank gereken het nie. Die opkoms van beskawings soos Japan, China en Indië nadat hulle sekere van die Westerse stelsels oorgeneem het, wys dit duidelik. In vandag se taal, sukses spruit uit menslike sagteware, eerder as menslike hardeware.

Dit beteken beslis nie dat die Westerse kultuur en instellings foutloos was nie. Inteendeel, die Weste het, soos ander beskawings, gruwels soos slawerny, gewelddadige onderwerping, oorheersing en uitbuiting toegepas en deur kolonialisme uitgevoer. Maar dieselfde kultuur het oor die eeue die Weste in staat gestel om homself te hervorm en aan te pas. Met hierdie deurlopende vernuwing gegrond op beproefde waardes, kon die Weste die vrotste dele mettertyd uitsny en daardeur steeds op die voorpunt in die wêreld bly. Dit beteken natuurlik nie dat daar nie steeds nuwe “virusse” of beskawingsiektes ontwikkel wat die Weste vandag nog – miskien meer as ooit – bedreig nie.

Kultuur is die moeder, en die instellings die kinders, het Daniel Patrick Moynihan gesê. Maar die probleem is dat kultuur so vanselfsprekend vir mense is, dat hulle dit self nie kan beskryf nie. Almal aanvaar hul eie kultuur as “vanselfsprekend, of algemeen”, as die standaard waaraan ander moet voldoen, sonder om eers te dink aan die onderliggende verwaandheid daarvan en die vernedering wat dit vir ander kulture meebring. Westerse instellings soos demokrasie, die markekonomie, liberale sosiale waardes en die oppergesag van die reg moet op die Moslems, Chinese, Russe, en Afrika afgedwing word, al is hierdie beskawings se kulture nie altyd vatbaar vir die oorplanting van alle Westerse instellings nie. Daarom het deurlopende Westerse pogings om die Ooste en Suide te probeer verwesters, nog altyd teen die rotse van die werklikheid gestuit en tot groot weerstand van die nie-Westerlinge gelei.

 

  1. Afrikanerkultuur gegrond op die Protestantse waardestelsel

Die Protestantse Hervorming van vyf eeue gelede het tot ’n totale ommekeer in die destydse wêreld gelei. Die opkoms van die (Protestantse) Weste as oorheersende wêreldmoondhede, was die belangrikste gevolg van die Hervorming. Holland se Goue Eeu in die 1600’s is ’n goeie voorbeeld hiervan. Belangrik vir ons geskiedenis was dat Calvyn en ander Hervormers die Katolieke oorheersing van die samelewing verbreek het. So is die Katolieke verbod of stremming op kapitaalvorming, winsgerigtheid, en wetenskap en tegnologiese vooruitgang beëindig. Dit het gelei tot die ontstaan van die wêreld se eerste multinasionale aandelemaatskappy, die VOC. Dit was die grootste en rykste maatskappy ooit in die geskiedenis, met bates van $7.4 triljoen in vandag se waarde!

 

Harvard professore soos David Landes het aangetoon dat die Westerse kultuur met Calvinistiese waardes soos roeping, ondernemingsgees, werksetiek, tydsbewustheid, spaarsamigheid, verantwoordelikheid, gelykheid vir vroue en die bemeestering van kennis, die kulturele “sagteware” agter die sukses van die Westerse wêreld was. In sy magnum opus, “The wealth and poverty of nations”, kom Landes tot die gevolgtrekking dat kultuur die Weste se suksesresep was. So het die Protestantse Weste ’n voorsprong gekry bo ander beskawings en kulture, wat ánder of net sekere van hierdie waardes gedeel het. Hy skryf ook dat die huidige Westerse insinking te doen het met hulle afwatering van hierdie waardes wat hulle histories suksesvol gemaak het. Daarby spruit die opkoms van lande soos Japan, China en andere tot ’n belangrike mate uit die oorneem van sekere Westerse waardes en stelsels soos die vryemarkstelsel. Groot dele van die Afrikanerkultuur kan duidelik herken word uit die sukseswaardes wat hierdie kundiges genoem het. Daarom is dit vandag steeds hoogs toepaslik en noodsaaklik. Natuurlik het al Van Riebeeck se saadjies nie dadelik, volmaak en eweredig ontkiem en tot mooi en groot bome gegroei nie, en was daar ook knoetse en dorings in die pakkie. Maar die saad van toekomstige sukses was terugskouend al daar op die strand teenwoordig in 1652. Ons kultuur kan nie losgemaak word van sy Protestantse waardes nie.

 

  1. Republikeinse strewe

Ons voorouers se vryheidsin het geblyk uit hulle historiese stryd teen Britse imperialisme, en hulle strewe na onafhanklikheid en selfstandigheid teenoor onderdanigheid en afhanklikheid. Dit blyk ook duidelik uit die Afrikaner se “stigtingsdokumente” soos Retief se Manifes en die grondwet van die Zuid-Afrikaanse Republiek. Soos die Romeinse denker Sallust gesê het, wou Afrikaners nie net regverdige heersers hê nie, ons wou vry wees. Dit sluit aan by die wêreldwye neiging dat die volwasse mens vir hom- of haarself wil besluit, en die beheer oor hulle lewens nie aan sentralistiese burokrate wil oorlaat nie.

 

  1. Vryemarkstelsel

Afrikaners het taamlik stadig die Westerse markekonomie aanvaar, omdat dit so verweef met Britse imperiale kapitalisme was. Maar terselfdertyd was ons voorouers nooit sosialiste wat verwag het dat ander vir hulle moes sorg nie. Met rolmodelle soos dr. Anton Rupert wat op 25-jarige ouderdom sy Voorbrand Takbakmaatskappy gestig het as voorloper van ’n wêreldwye sakeryk, het Afrikaners ’n ondernemingskultuur ontwikkel. Die ekonomiese groei en goeie moedertaalonderrig wat daaruit voortgespruit het, het Afrikaners uit armoede gelig, veel meer as net die latere politieke mag.

 

  1. Oppergesag van die Reg

Die Boererepublieke se grondwette en regstelsels was van die eerste moderne regsordes in Afrika.

 

  1. Verteenwoordigende regering

Die Boererepublieke was deel van die vyfde geslag republieke in die wêreld, naas die antieke Griekse stadstate, die eertydse Romeinse republiek, die Franse republiek en die Amerikaanse republiek. Dit was merkwaardig in ’n tyd toe ons stamlande nog deur Koningshuise regeer is. Die eerste demokratiese verkiesing in Afrika was sover vasgestel kon word die Voortrekkers se verkiesing van leiers in Winburg tydens die Groot Trek.

 

  1. Taal, kultuur en geskiedenis

Anders as die meeste Europees-gekoloniseerde groepe het die Afrikaners nie ons stamlande se tale goedsmoeds oorgeneem nie. Afrikaans se modernisering het die Afrikaner se modernisering moontlik gemaak. So het Afrikaans deel van Afrikaners se identiteit geword, en nie net ’n kommunikasiemiddel gebly nie.

 

  1. Gesonde gesinne

Die opkoms van die gesin na die Protestantse hervorming het in die Weste die besef laat posvat dat gesonde gesinne die grondslag van ’n gesonde land is.

 

  1. Wetenskap en tegnologie

Die Westerse wetenskap en tegnologie het veral na die Hervorming ontwikkel en ook die topkennis van ander beskawings oorgeneem en verder uitgebou.

 

  1. Gemeenskapsingesteldheid

Afrikaners se sterk gemeenskapsingesteldheid was skerp in teenstelling met die Britse individualisme, en het meer in gemeen met Afrika se gemeenskapsbeskouing gehad. Daaruit is instellings soos die Helpmekaarbeweging gebou, en is besef dat politieke magloosheid nie noodwendig magteloosheid is nie. Afrikaners het geleer dat gemeenskapskrag meer kan bereik as staatsmag.

 

  1. Sosiale waardes

Suid-Afrika het die sestigerjare se sosiale rewolusie in die Weste vrygespring, en deel meer tradisionele waardes met die ander bevolkingsgroepe in die land.

 

Westerse uitdagings

Die Weste is op die kruin van sy mag meer kwesbaar vanweë diepgaande kulturele veranderings wat ingetree het. Kulturele verskuiwings soos ontkerstening, sosialisme, materialisme, gemeenskapsverbrokkeling, sosiale waardes wat die gesin ondermyn en kinders benadeel, verlies aan kulturele selfvertroue, lae geboortekoerse, ’n verswakte werksetiek en verruiling van verantwoordelikheid vir regte is soms ook onder Afrikaners sigbaar.

Professor Nail Ferguson van Oxford eindig sy boek Civilization – the West and the Rest, deur te sê dat die Westerse beskawing steeds die beste pakket aan die mensdom bied, ongeag die foute wat gemaak is. Die vraag is egter, volgens hom, of die Weste self die blywende waarde van sy eie kultuurskatte besef. Dieselfde geld vir Afrikaners in Suid-Afrika – ons historiese kultuurskatte en -waardes is nog steeds deel van die oudste en nuutste suksesresepte in die wêreld. Natuurlik het tye en daarmee saam die toepassing van daardie kulturele waardes verander. Maar die wese daarvan is steeds en blywend geldig. Daarom beteken die nuwe tye nie dat ons ons kultuur oorboord moet gooi nie, maar dat ons dit skeppend moet vernuwe, gegrond op die tydlose en beproefde waardes. Daarom sê ek ten spyte van al die omwentelings in die land steeds saam met Hendrik Biebouw: “Ik ben een Afrikaander”!

 

          Die dubbele krisis van Afrikaners en Afrikanerkultuur

Daar is wye ooreenstemming dat Suid-Afrika én Afrikaners in ’n dubbele krisis is. Dit is duidelik dat Suid-Afrika onvolhoubaar is as dinge so aangaan, en dat Afrikaners en Afrikanerkultuur weer in ’n bestaanskrisis ingly. Die dubbele krisis verteenwoordig Suid-Afrika se stelselmatige staatsverval, en Afrikaners se bestaanskrisis wat spruit uit ons demografiese demokrasie, en die demografiese oorheersing volgens die transformasie rasseformule van (80/9/9/2). Afrikaners se bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar yl verspreiding wat daartoe lei dat ons orals ’n minderheid is: ons het stemreg sonder stemkrag.

 

          Suid-Afrikaanse krisis

Die staat verval onder die gewig van die ANC se onbevoegdheid, grootskaalse en straffelose korrupsie ens. Hierdie krisis lê dieper as ’n regeringsprobleem, dis eerder ’n bedelingsprobleem. Hierdie regeringsprobleem kan teoreties in Desember opgelos word, maar hoe langer Zuma vasklou, hoe dieper raak die ANC in die moeilikheid. Die bedelingsprobleem kan egter nie in 2019 met ’n verkiesing opgelos word nie, omdat die probleem veel dieper lê.

Die land se “demografiese demokrasie” beteken dat die DA die vorm van meerderheid sal moet aanneem om te kan wen, om nie van die uitdagings van koalisiepolitiek te praat nie. Daarby het die politiek verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie. Verder is die heterogene Suid-Afrika ingedwing in ’n unitêre stelsel, wat tans lyk of dit kan verbrokkel in ’n de facto federasie namate die stelsel die vorm van die land se werklikheid aanneem.

In die praktyk ontstaan kulturele federalisme van “onder” af, m.a.w. sonder regeringsoptrede, deur privatisering, tegnologie en gemeenskapsaksies.

 

          Stand van Afrikaner-kultuurgemeenskap

Afrikaners is mense wat hulle vrywillig vereenselwig met die Afrikaner-kultuurgemeenskap en sy geskiedenis. Die nuwe bedeling is eens aan ons voorgehou as ’n Wonderwerk-skikking, naamlik die verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming. Die verwagting is geskep dat swart mense hulle regmatige deel gaan kry sonder dat Afrikaners hulle s’n verloor of dat ons grondliggende belange skade sou ly.

Intussen het dit duidelik geword dat die land gewone meerderheidsregering het wat dreig om meerderheidsoorheersing te word, d.m.v. die ideologie van transformasie en sy gepaardgaande rasseformule waarvolgens alles die bevolkingsamestelling moet weergee. Die bevryders het oorwinnaars geword. Hulle het toegewings gemaak om die mag te kry, en gebruik nou die mag om hulle oorspronklike doelstellings te verwesenlik. Ons kultuur en gemeenskap is nie deel van hulle toekomsbeeld van die land nie.

Die grondwetlike ruimtes vir Afrikaans, Afrikaners en kulturele vryheid word polities (en juridies) toegestop. Tog moet ’n minderheidsgemeenskap ruimtes hê waar hy die meerderheid kan wees, anders word sy lewe op elke gebied oorheers. ’n Kultuurgemeenskap leef deur sy instellings; geen gemeenskap kan net as enkelinge voortbestaan nie, dan is daar nie meer sprake van ’n gemeenskap nie.

Demokrasie sonder kulturele vryheid, is net vryheid vir die demografiese meerderheid. In ’n bedeling van individuele regte alleenlik, weeg die meerderheid se individuele regte swaarder. Die ANC wil die multikulturele werklikheid van die land omskep volgens sy beeld van ’n monokulturele ideologie. Daarom word Afrikaanse instellings gekoloniseer – nogal onder die vaandel van dekolonisasie.

Enige weerstand hierteen word maklik afgeskryf as rassisme, omdat minderhede moet veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar. In werklikheid wil ons net “normaliteit” hê – dit wat gemeenskappe wêreldwyd nastreef.

In kort, die ANC het die 1994-ooreenkoms verbreek. In ’n bedeling van individuele regte ly gemeenskappe se belange onherstelbare skade, en daarom is gemeenskapsoutonomie of -vryheid die enigste uitweg. Die uitdaging is hoe dit verwerklik kan word?

 

Strategie vir gemeenskapsvryheid

  1. Wense en werklikhede: na die tyd om erkenning eerder as vooraf om toestemming

Dit sal wonderlik wees as daar deur politieke veranderings weer kulturele ruimtes ontstaan, maar intussen werk ons met werklikhede in plaas van wense. Dit sal ook ’n uitkoms wees as daar ’n soort “opvolgskikking” kom waar alle belangegroepe weer om ’n tafel gaan sit en ooreenkom om mekaar se belange te erken en te respekteer. In ons geval, om gemeenskapsvryheid of -outonomie te erken en te institusionaliseer.

Maar die kanse op so ’n opvolgskikking van “bo” af wat dan na “onder” afgewentel word, is uiters skraal. Daar is egter ’n ander moontlikheid. Dit behels “skikkings” in die vorm van ooreenkomste om nuwe werklikhede wat van “onder” af prakties tot stand gebring is, “ná” die tyd amptelik te erken – of by verstek te aanvaar.

Ter verduideliking van die twee modelle, die volgende voorbeeld: die voorstanders van Orania kon vooraf probeer beding het dat so ’n dorp tot stand sou kom. Dit sou nie geslaag het nie vanweë politieke werklikhede én die feit daar nog niks tot stand gebring is om oor te onderhandel of te erken nie. ’n Politieke ooreenkoms sou dus nie ’n nuwe werklikheid tot stand kon bring nie.

Maar die Oraniërs het in plaas daarvan om vooraf toestemming te versoek, eerder ná die tyd om erkenning gevra – van die werklikheid wat tot reeds stand gebring is. Hoewel gedeeltelik in ’n grondwetlike niemandsland, geniet hulle in die praktyk de facto-selfbestuur op plaaslike vlak. Die (betreklik) beskeie informele erkenning wat hulle reeds geniet, is in ooreenstemming met die vlak van ontwikkeling wat reeds verwerklik is. In die praktyk is dit dus ’n proses van groeiende erkenning wat saamloop met die groeiende fisiese vordering wat behaal is. Dit is dus erkenning van “bo” af “ná” die tyd, van wat reeds vooraf van “onder” af – van die grond af – opgebou is. Dit verteenwoordig ’n praktiese in plaas van ’n politieke strategie.

Hierdie model word ook deur die Solidariteit Beweging gevolg. Ons kon nog nooit vooraf toestemming vir “iets” kry nie, maar wel ná die tyd vir “alles” erkenning kry. Dit geld vir Sol-Tech, Akademia, ons buurtwagte en vir al ons ander instellings. Twee dekades se geregverdigde en grondwetlik gemagtigde pogings om Afrikaans by openbare universiteite te behou, is besig om tot niks te kom nie. Ons sal van voor af selfstandige kulturele instellings van onder af moet opbou, en dan na die tyd erkenning daarvoor beding. Dis moeilik, maar moontlik. Die alternatief lyk makliker, maar is onmoontlik. Maar daar is belangrike voorwaardes hiervoor. Die eerste het te doen met demografie.

 

  1. Konsentrasiestrategie

Afrikaners se groot uitdaging is nie klein getalle nie, maar ons yl verspreiding. Ons is meer Afrikaners as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook nog ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en is gevolglik ’n kultureel kwesbare minderheid tussen ’n groter meerderheid.

Daarom is die eerste vereiste vir gemeenskapsvryheid dat ons sal moet konsentreer in sterk kulturele instellings, in stede en streeksdorpe, en deur die ontwikkeling van nuwe dorpe soos Orania waar dit demografies moontlik is om ’n volhoubare Afrikanermeerderheid te word. Die konsentrasie van getalle maak dit op ’n natuurlike wyse moontlik om gemeenskapsvryheid op talle gebiede te geniet. Die vlak van vryheid sal afhang van die vlak van konsentrasie Afrikaners en die vlakke van konsentrasie van nie-Afrikaners in die betrokke gebied. Hierdie proses van konsentrasie gebeur vanself, gedryf deur die vergroting van afstootfaktore en die gelyktydige versnelling van trekfaktore op ander gebiede. Die verspreiding van bevolkingsgetalle sal die volhoubaarheid van al hierdie projekte bepaal.

 

  1. Kulturele staat binne staat

Die opbou van gemeenskapsvryheid behels in werklikheid die ontwikkeling van ’n kulturele “staat binne ’n staat”. Die verval van soveel staatsinstellings het reeds gelei tot die ontwikkeling van ’n parallelle “privaatstaat”, wat dienste aanbied soos medies, sekuriteit, onderwys, privaat dorpe ens. Privatisering is egter vir kliënte wat dit kan bekostig, en nie vir kulturele burgers wat dit nodig het nie. Daarom kan privatisering net ’n gedeeltelike oplossing vir die oorheersing van die verswakkende staat bied.

Deur die belyning van al die bestaande “onder na bo”-projekte in ’n samehangende oorhoofse plan, kan groeiende gemeenskapsvryheid van onder af tot bo opgebou word, en terselfdertyd lei tot groeiende erkenning daarvan – de jure of de facto. Die grondwet laat hierdie ontwikkeling toe, al is dit net ’n grondwetlike “vloer” waarvandaan verder tot by die nodige “plafon” ontwikkel en later erken kan word.

Om ons geregverdigde doelwitte aan Afrikaners en die owerheid te verduidelik, kan ons moontlik ’n voorstel vir ’n omvattende konsepwet ontwikkel, wat o.a. binne die ruimte van Artikel 235 gedoen kan word.

 

  1. Instellings

Ons hoef nie van voor af te begin nie. Die grondwerk is reeds bedink en gedoen. Dit behels instellings op ’n wye gebied, vanaf sake soos:

  • Veiligheid deur ’n landswye netwerk van Buurtwagte;
  • Afrikaans as volle funksionele taal deur instellings op elke gebied;
  • Die Afrikaanse media soos Maroelamedia, PretoriaFM en die landswye netwerk van gemeenskapstasies wat as “vermenigvuldigers” van kultuurprojekte kan dien;
  • Die uitbou van Akademia tot ’n omvattende Afrikaanse universiteit;
  • Die uitbreiding van Sol-Tech na die volle spektrum van beroepsopleiding;
  • Die uitbou van AfriForum-takke wat reeds omvattende dienste lewer tot Afrikaner-gemeenskapsrade in groter dorpe en stede, in samewerking met ander organisasies;
  • Die ontwikkeling van ’n private Afrikaanse Onderwyspyplyn, wat strek vanaf kleuterskole, laer- en hoërskole tot by naskoolse opvoeding en opleiding deur Sol-Tech en Akademia;
  • Maatskaplike instellings en dienste deur Helpende Hand, kerke en andere;
  • Die ontwikkeling van ’n postapartheid-Afrikanerwerksmag, deur ’n beplande Loopbaansentrum;
  • Die verdere uitbou van instellings soos die FAK, t.w.v. ons kultuur, taal en geskiedenis;
  • Die uitbouing van instellings om kapitaal te mobiliseer, wat nodig gaan wees om hierdie projekte te befonds.

 

  1. Uitdagings

Ons strategiese uitdaging is die lewering van “staatsdienste” sonder staatsinkomste, midde-in ’n verswakkende staat met ’n vyandige owerheid. Maar ons geheime “wapen” is dat ons nie ’n alternatief het nie. Die enigste ander keuse as gemeenskapsvryheid is staatsbeheer en die oorheersing van ons lewe op elke moontlike gebied. Ons sal nie ’n normale lewe kan lei sonder gemeenskapsvryheid nie, dit is darem seker nou al vir almal duidelik.

Die voordeel is dat meningspeilings oor en oor bewys het dat die oorgrote meerderheid Afrikaners gemeenskapsvryheid ondersteun, al sou hulle dit nog nie in dieselfde woorde doen nie. Gister se gebeure is onderliggend aan ’n oplaaiende weersin en weerstand in die versmorende beheer en swak regering van die ANC. Ons moet net ons alternatief duidelik uitspel en vir mense die kans gee om betrokke te raak, dan sal hulle “kom”. Daarom moet ons die historiese Westers Protestantse “harde- en sagteware” as toerusting gebruik om ’n toekoms te bou waar ons ook vry, veilig en voorspoedig kan wees.

 


Flip Buys

Voorsitter: Solidariteit Beweging

One Response to “TOESPRAAK: Afrikanerkultuur: die pad vorentoe. ’n Strategie vir gemeenskapsvryheid – Flip Buys”

  1. pieter van der merwee 2017-11-09 at 2:23 am #

    Watter briljante insig en kennis openbaar hierdie artikel, met werkbare oplossings wat vir ons as n volk hoop bied in hierdie tyd van uitdagings. Baie dankie Flip!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.