Vlaandere en Suid-Afrika: Die Vlaamse taal- en kultuurstryd – Prof. Otto Terblanche

Prof. Otto Terblanche

Die taalgrens in België

Die taalgrens is ’n horisontale lyn wat reg deur die middel van België loop. Dit strek van die grens met Frankryk in die weste tot die Duitse grens in die ooste. Hierdie grenslyn verdeel België in drie uiteenlopende taalgebiede: Vlaandere (die noordelike Nederlandssprekende landstreek van België), Wallonië (die Franssprekende deel in die suide van België) en, digby die Duitse grens, die Duitssprekende deel van België.

Daarbenewens is daar nog ’n vierde taalgebied, naamlik die hoofstad Brussel, reg in die middel van België. Die hoofstad Brussel lê eintlik in Vlaamse gebied. Brussel is amptelik tweetalig (Frans en Nederlands). Die stad word heeltemal omring deur Vlaamse gebied. Brussel was vroeër oorwegend Frans en het nog steeds ’n groot getal Franssprekende inwoners. Die situasie wat Brussel betref, is kompleks en dra by tot groot spanning en konflik tussen die taalgemeenskappe. Brussel word naamlik omring deur Vlaamse munisipaliteite. Die probleem lê daarin dat die Franssprekendes tans die meerderheid uitmaak van dié munisipaliteite. Hulle maak daarom al hoe meer aanspraak op meer regte. Die Vlaminge weier om enige toegewings te maak. So dit bly ’n diskussie sonder einde.

Belangrik ook om daarop te wys dat die taalgrens in België op die skeidslyn lê van die Germaanse en die Romaanse wêreld. Die mentaliteitsverskille werk deur op allerlei terreine. Belangrik ook om daarop te wys dat daar in die huidige België geen gemeenskaplike openbare mening bestaan nie. Die Vlaminge het hul eie koerante en televisieprogramme, die Franstaliges insgelyks so. Die taalgrens loop ook deur die politiek. Die Vlaamse politieke partye rig hulle op die Vlaamse kiesers en die Waalse partye op die Waalse kiesers.

Teen 2011 was die totale bevolking van België net meer as 11 miljoen. Daar was toe ongeveer ses miljoen inwoners in Vlaandere, vier miljoen in Wallonië, 75 000 Duitssprekendes en 1.1 miljoen in Brussel.

Die stigtingsjaar van België as ’n eie, selfstandige staat was 1830. Tot ongeveer die middel van die 20ste eeu is België geregeer asof dit ’n uitsluitlik Franssprekende staat was. Dit het uiteraard gelei tot protesaksies deur die Vlaminge. Die eerste taalwet dateer terug na 1873 toe die gebruik van Nederlands in hofsake toegelaat is. Hierdie wet is egter nie regtig toegepas nie, want in daardie stadium wou die Franstaliges hul oppergesag in België behou.

Die verdeling van België in taalgebiede het eers amptelike beslag gekry in 1962/1963, toe beide huise van die parlement ’n reeks wette aanvaar het wat die gebruik van die verskillende tale (Nederlands, Frans en Duits) gemagtig het. Dit het egter nie die einde van die spanning en konflik beteken nie.

Die Vlaamse Beweging

Johan Fleerackers (1931-1989) was ’n uitgesproke Vlaamse nasionalis. Die taal- en kulturele verbondenheid tussen Vlaandere, Nederland en Suid-Afrika was vir hom ’n saak van groot erns. Fleerackers het tot ’n klein groepie “Groot-Nederlanders” behoort, wat geglo het in die kulturele eenheid tussen  Noord en Suid, dit wil sê tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika. Vandaar sy opmerking: “Vlaanderen, mijn moederland, België mijn vaderland, Nederland mijn broedervolk en Zuid-Afrika ‘mijn maîtresse’ (minnares).”

Fleerackers se Groot-Nederlandse gedagtegang moet gesien word binne die konteks van die Vlaamse Beweging van die 19de en 20ste eeu, wat meer was as bloot ’n taalbeweging. Dit het begin as ’n taalstryd, maar het mettertyd ’n politieke dimensie aangeneem. Algemeen word dit beskou as ’n proses van ontvoogding, ’n instrument van emansipasie. Die ontvoogdingsproses van die Vlaminge het op verskillende vlakke geskied: taal, kultureel, politiek en sosio-ekonomies. Dit was ’n strewe na groter outonomie – taalkundig en staatkundig.

Vlaandere het nog altyd ’n groot begrip vir die taal- en kultuurstryd van die Afrikaner getoon. Vanweë die Vlaminge se taalstryd teen die Franstalige oorheersing, staan hulle tradisioneel meer simpatiek teenoor Afrikaans as byvoorbeeld die Nederlanders. Die Afrikaners kon hulle dan ook heeltemal vereenselwig met die leuse van die Vlaamse Beweging, “De taal is gansch het volk.”

Ná 1830 het Frans die taal van België geword; selfs die Vlaamse elite het verfrans. Die Vlaamse dialek wat die gewone man gepraat het, was in die oë van die elite minderwaardig. Binne die groep van Vlaamse skrywers wat hul taal gekoester het, het daar wrewel ontstaan teenoor die oorheersing van Frans. In 1838 publiseer Hendrik Conscience “De Leeuw van Vlaanderen,” met die doel om die taalkwessie op die politieke agenda te sit. Hierdie taalstryders het gou bekend gestaan onder die naam, Vlaamse Beweging.

Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het beslis bygedra tot die emansipasie van Vlaandere. Daar was ’n groeiende ontevredenheid by die Vlaamse soldate aan die IJzerfront in Wes-Vlaandere, veral omdat die leierskap van die leër en die offisiere Franstalig was. Hierdie taalkwessie sou mettertyd ’n politieke dimensie aanneem.

Die sosio-ekonomiese skeidslyn is ook van belang. Wallonië was een van die grootste en welvarendste industriële sentrums in Europa in die 19de en vroeg 20ste eeu. Wallonië het ryk geword vanweë sy metaalindustrie en steenkoolmynbou. In daardie jare was die politieke mag ook gekonsentreer in Wallonië. Daarenteen is Vlaandere gekenmerk deur sosio-ekonomiese agteruitgang en groot werkloosheid. Dié streek was toe ’n verarmde plattelandsgebied. Ná die 1950’s het Wallonië in verval geraak en Vlaandere het ontwikkel tot een van die rykste streke van Europa. Die Vlaamse Beweging het in selfversekerdheid toegeneem en polities sterker op die voorgrond getree. Die Volksunie (VU), wat in 1954 opgerig is, het hom sterk beywer vir federalisme.

’n Proses van staatshervorming het tussen 1970 en 1993 in België plaasgevind. België  is omskep in ’n federale land, met drie Kultuurgemeenskappe en drie Gewestes. Daar was nou ses regerings en ses parlemente. Tog sou die spanning en konflik voortduur, want die regs-militante politieke party, Vlaams Belang, het op die voorgrond getree en hom sterk beywer vir Vlaamse onafhanklikheid.

Die Eerste Wêreldoorlog: IJzertoren

Die Eerste Wêreldoorlog het aanleiding gegee tot emosies van Vlaamse frustrasie. Al was België ’n tweetalige land was die opperbevel van die leër Franstalig. Die Vlaamse soldate moes dus dien onder Franstalige offisiere wat hul bevele in Frans gegee het. Hierdie vernederende ervaring sou daartoe lei dat die gedagtegang van Vlaamse erkenning en Vlaamse identiteit sterker op die voorgrond getree het. Mettertyd het ’n drieledige plan vorm en inhoud gekry: selfbestuur vir Vlaandere, nooit meer oorlog nie en Godsvrede onder alle mense. Dit het beslag gegee aan die leuse: “Vrijheid, Vrede, Verdraagzaamheid.”

Die eerste IJzerbedevaart ter herinnering aan die Vlaamse soldate wat tydens die Eerste Wêreldoorlog aan die IJzerfront gesneuwel het, het in 1920 plaasgevind. Hierdie bedevaart word elke jaar op die laaste Sondag van Augustus gehou. Die fokuspunt van die plegtigheid is die IJzertoren in Diksmuide, ’n indrukwekkende monument waarin die stoflike oorskot van ’n aantal gesneuweldes ter ruste gelê is. Die toring is in 1930 ingewy.

Dit is bekroon met ’n kruis waarop die letters AVV-VVK (“Alles voor Vlaanderen, Vlaanderen voor Kristus”) aangebring is. Onderaan verskyn die opskrif “Nooit meer oorlog” in vier tale. Die toring is in 1946 met dinamiet vernietig. Die herboude toring, wat 84 meter of 22 verdiepings hoog is, is in 1965 ingewy. Die IJzertoren, die Vlaamse ekwivalent van die Voortrekkermonument in Pretoria, is in 1987 amptelik as “Memoriaal van de Vlaamse Ontvoogding” erken. Die toring herinner aan die emansipasiestryd van die Vlaminge en aan die Vlaamse stryd vir groter outonomie.

Die IJzertoren sou egter ook ’n omstrede simbool word. ’n Radikale deel van die Vlaamse Beweging was ten gunste van die oprigting van ’n Vlaamse staat wat nie deel is van België nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het die radikale nasionaliste saam met die Duitsers gewerk in die hoop om die Franstalige oorheersing af te skud. Dit was egter vir die meer gematigde Vlaamsgesindes onaanvaarbaar. Hierdie verdeeldheid tussen die radikale nasionaliste en die meer gematigdes was part en deel van die geskiedenis van die Vlaamse Beweging.

Die IJzerbedevaarten het ook in die teken van die kulturele verbondenheid tussen Vlaandere en Suid-Afrika gestaan. “Die Stem van Suid-Afrika” is in 1957 vir die eerste keer deur Vlaminge by die IJzertoren gesing. Sedert 1967 het die sing van “Die Stem” op die IJzervlakte ’n vaste tradisie geword. Die drie volksliedere (van Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere) is gesing, naamlik “Die Stem van Suid-Afrika,” die “Wilhelmus” en “De Vlaamse Leeuw.” Hierdeur is gestalte gegee aan die “Groot-Nederlandse” gedagte.

“Leuven Vlaams”

Die Katholieke Universiteit Leuven (KUL) se ontstaansgeskiedenis kan teruggevoer word na 1425. Die taalgrens van Oktober 1962 het bepaal dat Leuven volledig in Nederlandstalige gebied val. Tog het die KUL tweetalig gebly. Die universiteit het eintlik bestaan uit ’n Vlaamse en ’n Franstalige afdeling, onder ’n enkele leiding. Dié toedrag van sake sou tot veel spanning en konflik lei. Bowendien het die kampus in Leuven te klein geword. Steeds meer studente, veral meisies, het in Leuven kom studeer. Nederlandstalige pasiënte in die Leuvense universitêre hospitaal het ook gekla dat hulle behandel word deur Franstalige dokters.

Daar was ook sprake dat die universiteit sal uitbrei en deel sal word van die groter Brussel gebied. Dit was ’n rooi doek vir vele Vlaminge wat gevrees het dat dit sal lei tot verdere verfransing. Daarby het die Belgiese biskoppe ’n duidelike standpunt ingeneem dat die universiteit één moet bly. Dit sou verdere stukrag verleen aan die “Leuven Vlaams” beweging. Verdere olie op die vuur was die standpunt van die toenmalige Franstalige rektor dat die splitsing van die universiteit beskou kan word as ’n sonde teen die Heilige Gees.

In Januarie 1968 het die Franse afdeling van die universiteit uitbreidingsplanne aangekondig en bygevoeg dat die KUL één sal bly. Dit het aanleiding gegee tot massale protesaksies van die Vlaamse studente. Plakkate is rondgeswaai met die bewoording “Leuven Vlaams” en “Walen buiten.”

Op 15 Januarie 1968 het die studente by die rektoraat ingestorm en verwoesting gesaai. Meubels en dokumente het op straat in vlamme opgegaan. Betogings het ’n daaglikse roetine geword. Die rykswag en polisie het met knuppels en ’n waterkanon die studente in bedwang probeer hou. Die studente het volhard in hul protesaksie te midde van uitroepe “Leuven Vlaams.” Leuven het in ’n besette stad verander.

Die studentebetogings het so uitgekring dat die Belgiese premier, Van den Boeynants, in Februarie 1968 sy bedanking ingedien het. “Leuven Vlaams” het dus tot die val van die federale regering gelei. Die nuwe regering was ten gunste van die splitsing van die universiteit. Daar sou dus in die toekoms twee universiteite wees, een vir die Franstalige afdeling en een vir die Vlaamse. Dit sou die posisie wees sedert 1970.

Vir die Franstalige universiteit is ’n nuwe stad gebou, Louvain-la-Neuve, aan die Franse kant van die taalgrens. Die eerste hoeksteenlegging van die nuwe universiteit was in 1972. Die tweedeling van die universiteit sou nog tot 1979 duur, want intussen moes alle Franstalige aktiwiteite oorgeplaas word na die nuwe universiteit op Waalse gebied. Selfs die versameling boeke en dokumente van die universiteitsbiblioteek moes in die helfte verdeel word.

Die Nederlandse Taalunie

In 1946 is ’n Kulturele Verdrag tussen België en Nederland gesluit. Die verdrag het ’n algemene karakter gehad; die Nederlandse taal word nie eers in die verdrag genoem nie. Die doelstelling was om die goeie betrekkinge tussen beide lande op die gebied van onderwys, wetenskap en kuns op ’n hegte basis te plaas.

In 1973 het die Kultuurraad van die Nederlandse Kultuurgemeenskap in België ’n dekreet uitgevaardig waarin bepaal word dat die amptelike benaming van die taal wat in die Nederlandse taalgebied van België gebruik word, Nederlands of die Nederlandse taal is.

Die Verdrag tussen België en Nederland insake die Nederlandse Taalunie is op 9 September 1980 in die Egmontpaleis in Brussel onderteken. Die viering van die 150ste herdenking van die Belgiese onafhanklikheid het ook in 1980 plaasgevind. Die Taalunie het onder meer die volgende doelstellings gehad:

  • Die integrasie van Nederland en die Nederlandse gemeenskap in België op die gebied van die Nederlandse taal en lettere in die ruimste sin.
  • Die gemeenskaplike ontwikkeling van die Nederlandse taal en die bevordering van die Nederlandse lettere en onderwys.
  • Die bevordering of organisering van die onderwys in die Nederlandse taal, lettere en kultuurgeskiedenis in die buiteland.
  • Die beskerming en uitbouing van die Nederlandse taal en kultuur binne die Europese Unie.

Daar is 23 miljoen Nederlandssprekendes in Nederland en Vlaandere. Dit is belangrik dat die Afrikaanssprekendes hul taal- en kultuurstryd nie in isolasie voer nie. Kontak op velerlei vlakke is dus van wesens belang tussen die Afrikaanssprekendes, Vlaandere en Nederland.

Bronne:

Verskeie uitgawes van die jaarboek The Low Countries (TLC).

Eppink, Derk Jan. 2003. Vreemde buren: Over de politiek in Nederland en België. Amsterdam/Antwerpen.


Oor die skrywer …

Prof. Otto Terblanche is ’n navorsingsgenoot in Geskiedenis aan die Nelson Mandela Universiteit, Port Elizabeth.

Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

One Response to “Vlaandere en Suid-Afrika: Die Vlaamse taal- en kultuurstryd – Prof. Otto Terblanche”